Dana Niehaus (1918-1995)
January 15, 2019
Gert Potgieter (1929-1977)
January 15, 2019

Die liefling van Springbok Radio

Daantjie Dinamiet

In die jare voordat televisie na Suid-Afrika gekom het, het radio-omroepers groot bekendheid verwerf selfs al kon mense nie altyd hul gesigte sien nie.

Een persoon wat beslis in daardie kategorie geval het, was Esmé Euvrard, wat nie net gereeld op Springbok Radio gehoor kon word nie, maar ook in ’n aantal rolprente, en ook later op televisie, te sien was. Esmé is op 19 Mei 1919 in die Vrystaatse dorp Smithfield gebore en was die jongste van vier kinders.

Esmé sal veral onthou word vir Só maak mens, ’n program wat sy jare lank saam met Jan Cronjé op Springbok Radio aangebied het en waarin verskeie huishoudelike wenke en resepte gedeel is. Hierdie program is uitgesaai totdat Springbok Radio in 1985 van die lug verdwyn het. Die program is van 1950 af onder die titel This is how uitgesaai, maar in 1957 is daar besluit om dit in Afrikaans te verander. Met die sluiting van Springbok Radio is dit nog twee jaar lank op Radio Suid-Afrika uitgesaai. Sy was ook die aanbieder van Aan die pasiënte, ’n versoekprogram vir mense wat in die hospitaal was of tuis siek was en op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai is. Sy en Paul Desmond was mede-aanbieders van Springbok Rendezvous, ’n program op Springbok Radio vir die manne en vroue in uniform wat uit versoeke en musiek bestaan het.

Daarby het Esmé ook haar merk as aktrise gemaak. Haar eerste rolprent was Man in die donker, met Truida Louw as regisseur. Truida was die suster van die liedjieskrywer Jan Pohl en die aktrise Anna Neethling-Pohl en die eerste vroulike rolprentregisseur in Suid-Afrika. In 1969 was sy saam met Al Debbo, Dirk de Villiers en Jane Seymour te sien in Stadig oor die klippe, waarin sy die rol van mev. Bosman, die vrou van die bankbestuurder op die fiktiewe dorp Geenfontein vertolk het. Met die koms van televisie het sy die rol van Evie Vermaak teenoor Dana Niehaus in Net ’n bietjie liefde, een van die heel eerste Afrikaanse televisiereekse, vertolk. Sy het ook later gereeld in advertensies van Punch-waspoeier verskyn. Esmé het ook diereverhale vertel en dit is in 1988 op ’n langspeelplaat uitgereik.

Esmé was getroud met die Portugees-gebore flamenco-kitaarspeler Gilberto Bonegio en toe die Mercedes Molina-dansateljee in 1958 gestig is, het hulle albei daarby aangesluit. Min mense weet seker dat Esmé ’n uiters talentvolle sangeres was en sy en Gilberto het minstens een plaat saam opgeneem. Hy is in 1964 oorlede; hy was in ’n motorongeluk en was twintig maande lank in ’n koma voordat hy dood is.


Esmé is op 11 September 1993 in die ouderdom van 74 jaar in Johannesburg oorlede.