Erkenning vir NP van Wyk Louw

’n Volk van boere
January 25, 2015
Op weg na apartheid
January 25, 2015

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1945 tot ’n einde gekom en kommunikasie met die buitewêreld, veral Europa, het weer moontlik geword. Reeds voor die oorlog het ’n paar Nederlandse skrywers en letterkundiges laat blyk hoeveel waarde hulle aan NP van Wyk Louw se werk heg, en ná die oorlog het dit onder nog meer mense se aandag gekom. Onder andere Hendrik Marsman, Jan Greshoff, Nico Donkersloot, Menno ter Braak, Marthinus Nijhoff, A Roland Holst, Karel Jonckheere, WGS Hellinga en WAP Smit was vol lof vir Van Wyk Louw. Die Rijksuniversiteit van Utrecht in Nederland, wat suinig met eregrade is, het in 1948 ’n eredoktoraat aan Louw toegeken om “uitdrukking te gee aan die belangstelling en groot waardering van die Nederlandse wetenskap ten aansien van die ontwikkeling in die jongste Afrikaanse letterkunde”, waarvan Louw as “die voorman en simbool” beskou is.

Nog ’n blyk van die lewendige kontak met Nederland was besoeke wat drie Nederlandse digters asook ander intellektuele ná die oorlog aan Suid-Afrika gebring het. Die digters was A Roland Holst, JC Bloem en Anthonie Donker, pseudoniem vir NA Donkersloot. Onder die ander denkers was die historikus PJ van Winter, skrywer van Onder Krugers Hollanders en jare lank voorsitter van die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Vereniging, en Gerrit van der Leeuw, teoloog, godsdienshistorikus en ’n tyd lank minister van onderwys, kunste en wetenskappe. Hy het in ’n onderhoud gesê dat dit nie net die Afrikaners is wat die Nederlandse kultuur nodig het nie, maar dat die Nederlanders in baie opsigte van “die jong Afrikaanse kultuur” kan leer. Hy was veral beïndruk deur die hoëgehaltewerk by Onderstepoort, en die prestasies van die Afrikaanse letterkunde.

Die opsienbarendste besoek was dié van die 58-jarige digter A Roland Holst, wat van 3 Augustus 1946 tot Maart 1947 in die land was. Hy is destyds as een van die grootste digters van Wes-Europa beskou. Die uitnodigings aan Holst en Bloem is gerig deur die samestellers van die bundel Tussen die engtes, wat ná die Duitse inval in Nederland en België in 1940 uitgegee is om geld vir hulp aan Nederlandse skrywers te bekom.

Holst het in September en Oktober deur die land gereis en in Johannesburg, Pretoria, Potchefstroom, Pietermaritzburg, Grahamstad, Wellington, Stellen-bosch en Kaapstad lesings gehou en kennis gemaak met Afrikaanse skrywers, geleerdes en belangstellendes in die literatuur. Hy het na sy besoek skrywers se werk genoem met wie hy met groot waardering kennis gemaak het: Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, DJ Opperman, WEG Louw, Uys Krige en MER. Uit Vlaandere het die digter Karel Jonckheere in 1948 ’n besoek aan Suid-Afrika gebring. Hy het deur die Belgiese Kongo gekom, en van sy ervarings vertel op ’n reis met ’n rivierboot oor die Kongo. By die aanlêplekke het die bevolking allerhande buitengewone eetgoed te koop aangebied, soos gebraaide aap, gebraaide sprinkane, witmiere en gebraaide krokodil. Die Burger het dié gegewe vir sy opskrif gebruik: “Digter proe gebraaide krokodil/ Karel Jonckheere se reise in Afrika”.