Enkele grappige insidente waarin die penkoppe betrokke was tydens die driejarige oorlog

Paardeberg
March 23, 2017
Penkoppe van ’n halfeeu gelede
March 23, 2017

(geskryf deur SJ Esterhuizen, Roodepoort, soos verskyn in Junior Historia.)

Soos ek in ’n vorige artikel belowe het, gaan ek nou ’n paar grappige staaltjies vertel.

Die jong seuns op kommando het, nieteenstaande die veg en vlug en swaarkry, tog nog maar seuns gebly. So het dit eenkeer gebeur dat twee verskillende kommando’s so teen die einde van 1900 by Kommandodrif aan die Vaalrivier vir ’n paar dae moes oorbly. Die jong seuns van die onderskeie kommando’s het toe twee aparte penkopkommando’s gevorm en met kleilatte aanmekaar gespring! Die geveg was hewig en die kleikoeëls het al groter en groter geword, totdat ’n kleikoeël, so groot soos ’n man se vuis amper-amper lelike moles aangerig het. Een manskap is deur so ’n koeël getref en het so byna sy lewe verloor. Dit was die einde van die “geveg”, want die kommandante het toe gou ’n einde aan die gevaarlike speletjie gemaak.

Die seuns het altyd, sodra hulle ’n kans gekry het, ghoen gespeel. Die ghoene het hulle van die loodkoeëls van bomme gemaak. Op ’n keer was hulle in ’n hewige geveg betrokke. Die bomme het bokant die koppe van die burgers gebars en ronde loodkoeëls het om hulle neergeplof. My vader was ook in die geveg. Hy was toe ’n seun van vyftien jaar. Gedagtig aan die ghoen wat hy van die lood kon maak, het hy vanuit sy skuilplek opgestaan, die koeëlgevaar getrotseer, en die kosbare loodkoeëltjies gaan optel. Die gedagte aan die lekker ghoen wat hy vir hom gaan maak, het hom heeltemal laat vergeet dat hy besig was om sy lewe in gevaar te stel! As ’n veldkornet of ander offisier hom op daardie oomblik sou gesien het, sou hy waarskynlik met die sambok kennis gemaak het.

Na aan Davondalestasie was ’n kommando met die Engelse magte slaags. Die Engelse was genoodsaak om terug te val en een van die soldate kruip toe in ’n erdvarkgat, terwyl die ander op die vlug slaan. Dit was seker sy plan om daar te skuil, totdat dit donker was en dan weer stilletjies weg te sluip na sy mense toe. Ongelukkig vir hom het een van die penkoppe hom opgemerk en hom beveel om uit te kom. Toe die soldaat egter sien dat dit maar ’n seun was wat hom so dreig, het hy beslis geweier om uit te kom en die seun toegevoeg:

“Go away, go away!” Die penkop wou hom egter nie laat afskrik nie en was vasbeslote om die soldaat gevange te neem. Hy waarsku toe dat hy gaan skiet en begin hom ook sommer gereed te maak om die daad by die woord te voeg. Die soldaat besef toe dat hy nie ’n ander keuse het as om maar uit te kom nie. Die seun het ’n klein seilhoedjie op gehad. Dit haal hy toe ewe bedaard af, neem die soldaat se helmet en plaas dit op sy kop, terwyl hy sy potsierlike hoedjie op die soldaat se kop plaas. Daarop beveel hy hom om na die ander gevangenes te marsjeer. Vir laasgenoemdes moes dit ’n snaakse gesig gewees het. Die penkoppe het heerlik gelag toe die ander gevangenes hom begroet met die woorde: “Hallo Brown, the police caught you, hey!”

 

By ’n ander geleentheid, dit was ook Kersfees, was daar ’n Engelssprekende kolonialer as gevangene by een van die kommando’s. Een van die penkoppe moes hom oppas en hy dink toe dat hy aan sy gevangene ’n “heerlike” kersmaal sou voorsit, want die kommando het

so pas ’n koskonvooi buitgemaak. (’n Konvooi is ’n aantal waens wat voedselvoorrade na die leërs vervoer het.) ’n Tienpondblik “bully beef” (ingemaakte vleis) word oopgemaak en voor hom neergesit en daarby ook nog ’n halwe kas “klinkers” (’n soort beskuit, so genoem omdat dit baie hard was) en ’n halwe sakkie suiker! Die gevangene was natuurlik baie verontwaardig, tot groot vermaak van die kwajongens.

 

So kan ’n mens aanhou. Maar genoeg. Hierdie soort grappige insidente het sekerlik meegehelp om die veeleisende kommandolewe vir die penkoppe draagliker te maak. Vandag is dit nog net herinneringe wat deur die oudstryders aan die nageslag meegedeel word. Die penkoppe van destyds is vandag almal eerbiedwaardige grysaards en hulle getal word vinnig minder. Daarom is dit goed dat ons hulle ondervindinge te boek stel vir die komende geslagte.