Enkele besonderhede oor die Slag van Bloedrivier

Die Geloftemonument op Kroonstad
August 3, 2015
Boekevat op die trekpad
August 3, 2015

Geskryf deur dr. F du Spies, soos verskyn in Historia Junior.

Bloedrivier 1 kleinOp 16 Desember wanneer Geloftedag gevier word, gaan ons gedagtes weer uit na die Slag van Bloedrivier. Dit is nodig dat ons altyd weer opnuut besin wat presies op daardie dag, 16 Desember 1838, gebeur het.

Ons is almal bekend met die omstandighede wat daartoe gelei het en ook in breë trekke met die gebeurtenisse van die slag.

In Februarie 1838 word Retief en sy gevolg op verraderlike wyse in Dingaan se stat vermoor. Daarop volg die groot moorde op die niksvermoedende Trekkers langs die Bloukransrivier en Moordspruit. ’n Poging om die Zoeloes te straf in April deur Uys en Potgieter misluk jammerlik by ltaleni. Hierop volg maande van groot spanning en ellende vir die laers in Natal. Eindelik daag daar teen die einde van die jaar hulp op toe Andries Pretorius met sy trek opdaag. Onder sy leiding trek dan die Wenkommando, soos dit later genoem is, uit teen die einde van November. Die pad wat hulle inslaan gaan vanaf die Klein-Tugela, wes van die teenswoordige Estcourt, oor die teenswoordige dorpe Ladysmith en Dundee.

Die lotgevalle van die tog slaan ons maar oor. Algaande het die verkenners wat vooruit gestuur is, meer en meer Zoeloes gewaar en op 15 Desember, na hulle die Buffelsrivier deurgetrek het, was dit duidelik dat ’n aanval te enige tyd verwag kon word.

Generaal Pretorius gee toe bevel om ’n laer te laat trek naby die spruit wat later die naam van Bloedrivier gekry het. ’n Aanval is nog die Saterdagnag verwag en lanterns is aan sweepstokke opgehang sodat mens darem iets kan sien. Veel lig sou die lanterns in elk geval nie gegee het nie, en toe kom daar nog gedurende die nag ’n digte mis op wat alles onsigbaar gemaak het. Ons kan ons die spanning van die Voortrekkers dwarsdeur die nag voorstel. Daar is min geslaap, en die wat geslaap het, het dit met die geweer in die hand gedoen.

Die volgende oggend breek helder en skoon aan. Maar toe moes hulle sien dat hulle omring is deur ’n swart see van Zoeloe-soldate waarvan die naaste tussen vyftig en honderd tree van die laer gesit het. Die geluid van hulle gepraat, het soos ’n onheilspellende gebrom tot by die Trekkers deurgedring.

Skaars was dit goed lig of die Zoeloes storm. Toe hulle tot vyftig tree van die laer genader het, gee Pretorius die bevel en meer as vierhonderd voorlaaiers brand los. Onmiddellik is alles in so ’n kruitrook gehul dat niemand iets kon sien nie. Na ’n paar sarsies gee die kommandant bevel om die vuur te staak en toe die rook optrek, lê ’n swart kring van dooie en gewonde liggame om die laer. Die eerste aanval is afgeslaan. Maar daarop volg ’n tweede en derde en nog meer, almal met ongeveer dieselfde resultaat. Elke keer word die angs hoër dat die ammunisie sou opraak. Toe gee Pretorius bevel om die hek oop te gooi en ’n groep perderuiters bestorm die Zoeloes. Dit bring die wending. Die Zoeloes slaan op die vlug en die slag is gewen.

Tot sover die algemene feite van die slag. Maar ’n mens wil tog meer weet en dit laat ’n aantal vrae ontstaan waarop ons hier nader sal ingaan.

Waar kry ons die gegewens oor die slag vandaan? Die beste bron is die beskrywing van JG Bantjes, die sekretaris van Andries Pretorius wat ’n dagboek van die tog gehou het. Dit het ’n paar maande na die slag in ’n Kaapse koerant verskyn. Dan is daar ’n kort verslag van Pretorius self. Origens het ons net die herinneringe van persone wat aan die slag deelgeneem het en wat hulle jare later, eintlik op hulle oudag, laat opteken het. Hierdie herinneringe is gevolglik nie te betroubaar nie en weerspreek mekaar dan ook dikwels. Maar uit dit alles kan ons tog heelwat te wete kom van wat die dag moes gebeur het.

Die beste manier om ’n goeie voorstelling van die slag van Bloedrivier te vorm is om die plek self te besoek. Dit is maklik te vind. Daar staan vandag ’n sierlike monument in die vorm van ’n ossewa. Elke Geloftedag word daar ’n groot fees gevier. Die plek lê omtrent ses myl oos van die hoofweg van Dundee na Vryheid.

As ’n mens die eerste keer daar kom, is jy teleurgesteld. Daar is eintlik niks besonders nie, net ’n kaal vlakte naby ’n kaal, onbeboste rivier en ’n diep sloot soos ’n mens maar baie in die omgewing sien.
Maar as ’n mens ’n bietjie nadink, is dit duidelik dat Pretorius met opset die plat, oop terrein gekies het sodat hulle die Zoeloes duidelik kon sien aankom. Die ou Voortrekkers het net hulle waens as verskansing gebruik, geen klippe of randjies nie.

Die monument staan vandag waar die middel van die laer was. Hoe weet ons dit? Of liewer: hoe het die mense dit geweet wat die monument in 1938 daar gebou het? Die antwoord is dit: in 1856, d.w.s. agtien jaar na die slag, was daar ’n herdenking op die terrein. Daar was toe baie mense teenwoordig wat nog aan die slag deelgeneem het. Hulle het toe ’n klipstapel opgerig op die plek wat hulle herken het as die middel van die laer. Die klipstapel is vandag nog daar. Die monument is daaroor gebou en dit is nog binne die monument sigbaar.

IMG_4454_kleinerHoe groot was so ’n laer? Daar was 57, miskien 58, waens. Die waens is so na moontlik aan mekaar getrek met die disselboom van elkeen so diep moontlik onder die voorste een in. So is hulle stewig aan mekaar vasgemaak. Die ruimte tussen die voor- en agterwiel van elke wa en tussen die een wa en die ander is met veghekke toegemaak. Hierdie hekke is voor die tyd uit stewige houtsparre gemaak en spesiaal vir die doel saamgebring. Hulle moes verhoed dat die vyand onder en tussen die waens deurkruip. Die 57 waens wat op die manier in ’n sirkel of ’n vierkant getrek is, het dan die grootte van die laer bepaal. Om daarvan ’n voorstelling te kan vorm, moet ons net dink aan die ringmuur om die Voortrekkermonument in Pretoria. Dit bestaan ook uit 57 kakebeenwaens in beton gegiet. Soos hier het die laer op Bloedrivier ook ’n poort gehad waar die paar kanonnetjies opgestel was.

Hoe ver het die laer van die rivier en die sloot gestaan? In verband hiermee het daar in die loop van jare allerlei verkeerde voorstellings ontstaan. Daar is beweer dat die laer op die wal van die rivier gestaan het. Ook is beweer dat dit op die rand van die sloot gestaan het, of presies in die hoek wat die sloot en die rivier daar vorm. Die saak is selfs so voorgestel dat die laer in die vorm van ’n halfmaan getrek was met die oop kant daarvan teen die sloot of die rivier.

As ’n mens op die terrein self kom, word dit duidelik dat dit alles verkeerde voorstellings van sake is. Die laer was minstens honderd tree van die rivierwal af geleë. Dit was wel heelwat nader aan die sloot getrek maar seker ook nie onmiddellik op die wal daarvan nie. Die sloot sou seker ’n hindernis vir die Zoeloes gewees het wat van daardie kant af aangeval het, soos ons in sommige herinneringe dan ook lees, maar baie belangrik kon dit nie gewees het nie. Die rivier het seker geen hindernis vir die aanvallers gebied nie. Dis eers na die slag dat talle Zoeloes in die rivier probeer wegkruip het en toe daar gedood is en hieruit het die naam Bloedrivier ontstaan.

Daar word ook beweer dat die rivier daar ’n groot seekoegat gevorm het wat die laer van die kant af dan ekstra beskerming verleen het.

In die meer as honderd jaar sedert die geveg het die rivier sowel as die sloot natuurlik verander. Die sloot is vandag ’n geweldige donga, breed en diep, met regaf walle, die werk van grondverspoelings. Destyds sou dit waarskynlik nie so groot gewees het nie, maar uit die beskrywings moet mens aflei dat dit wel diep was en ook met regaf walle. Ook die rivier moes verander het. Of daar ’n seekoegat was, is vandag nie meer vas te stel nie. Dit is natuurlik moontlik. ’n Ander bewering lui dat die oewers ruig met riet begroei was. Ook daarvan is niks te sien nie. Soos reeds gesê, is daar net gras, geen bosse of bome langs die walle nie. Die rivier is vandag taamlik breed vir wat ten slotte maar ’n baie klein riviertjie is, met lae walle en ’n vlak sanderige bedding.

Dit dan was die toneel van een van die merkwaardigste gebeurtenisse wat ooit in Suid-Afrika plaasgevind het.

Daar is nog baie ander vrae wat in verband met die geveg gestel kan word, maar die ruimte laat ons nie toe om verder daarop in te gaan nie.