Engels word amptelike taal en skooltaal

Engels versterk deur immigrante en predikante
March 5, 2015
Families verengels … en verafrikaans
March 7, 2015

Reeds in Cradock se tyd was daar tekens van ’n beleid wat Afrikaanssprekendes in die res van die eeu sou benadeel, naamlik die invoer van Engels as enigste offisiële taal. John Barrow, wat so onsimpatiek teenoor die Afrikaners was, het voorgestel dat alle offisiële dokumente, transportaktes en dergelike in Engels moes wees sodat die volgende geslag Engels kon word. Luitenant-kolonel Richard Collins, wat Barrow se bewerings oor die grensboere verwerp het, het in 1809 gesê: “Voer Engelse onderwysers in, en die volgende geslag sal Engelse wees.” Vriend en vyand was dit dus eens oor die wenslikheid dat die Afrikaners Engels moes word.

In 1813 het die goewerneur bepaal dat hy by toekomstige staatsdiensposte die kennis van Engels as ’n onontbeerlike vereiste beskou. Hierdie voorwaarde is streng nagekom. Die staatsdiens het dus betreklik maklik verengels.

Cradock se opvolger, Somerset, sou ’n meer doelgerigte beleid volg. Heelparty hoë Britte het die gedagte gesteun dat die Afrikaanse jeug deur middel van die onderwys geangliseer moes word. Onderwysers is in Engeland gewerf. In al die nuwe skole, waarin die onderwys gratis sou wees, was Engels die voertaal, en Engels en Latyn die enigste taalvakke. Selfs die godsdiensonderrig op Saterdae was in Engels.

In die volgende paar jaar het die vry Engelse staatskole toegeneem. In 1826 was daar 26 van die skole met 1737 leerlinge in die binneland, teenoor 20 Nederlandse laerskole met 635 leerlinge. In Stellenbosch het die Hollandse skool in 1825 33 leerlinge gehad, ’n gemengde skool 44 en die Engelse skool 70. Die sukses met die onderwysbeleid was ’n hele paar dekades maar klein, omdat ouers hul kinders na private skole gestuur het waarin Nederlands wel onderrig is.

Wat die belangstelling vir Engels laat groei het, is ’n proklamasie wat Somerset op 5 Julie 1822 uitgevaardig het. Hy maak melding van die geslaagde immigrasie van talle gebore Britte, lojale predikante en onderwysers. Slegs Engels sou van 1 Januarie 1823 af gebruik word in alle briewe en ander dokumente van die kantoor van die minister van kolonies en van 1 Januarie 1825 af in ander departemente.

Van 1 Januarie 1827 sou Engels die enigste taal van die geregshowe word. Aangesien die meeste heemrade op die platteland geen Engels geken het nie, is die toepassing van dié deel van die proklamasie ’n jaar lank uitgestel. Op 1 Januarie 1828 het magistraatshowe die ou drosdye vervang. Die magistrate is nie soos die landdroste deur heemrade bygestaan nie. Op 19 Desember 1827 is bepaal dat die magistraatshowe Engels sou gebruik. Op 4 Mei 1832 is voorgeskryf dat die verrigtinge in die hooggeregshof en rondgaande howe ook net in Engels sal plaasvind. Jurielede was verplig om Engels te ken, en in 1829 is ’n Afrikaner as jurielid geweer omdat hy dit nie geken het nie. In 1831 is wel bepaal dat gebrek aan kennis van Engels nie ’n beletsel sal wees om as jurielid te dien nie. Tog het veral die Afrikaanse grensboer die gevoel gekry dat hy ’n vreemdeling in die geregshowe was.

Die magistrate en regters wat van 1828 af aangestel is, was hoofsaaklik Engelssprekend. Omdat opleiding in Engeland ’n vereiste was vir ’n regter, was Afrikaners verplig om vir studie in die regte Engeland toe te gaan en nie meer na Nederland nie soos vroeër.