Engels vorder in die kerk

Vereniging en skeuring
January 22, 2015
Aanhitsers van ’n oorlog
January 22, 2015

Die kerk was een van die instellings waarin daar byna die hele 19de eeu ’n felle kultuurstryd gewoed het. Aanvanklik is probeer om die NG Kerk te verengels deur die invoer van Skotse predikante. Naderhand het Engelsgesinde lidmate daarop aangedring dat die predikant in Engels preek, maar ander Afrikaners het hulle sterk teengestaan. In die Groote Kerk Kaapstad, waar daar dekades lank ’n stryd hieroor gewoed het, het die Afrikanerleier Christoffel Brand in 1857 Engelse dienste teengestaan, terwyl FW Reitz, vader van die latere Vrystaatse president, daarvóór was.

Die koms van dominee Andrew Murray van Bloemfontein na Worcester in 1860 het die beweging vir Engels versterk. Hy het gou in Worcester met Engelse dienste begin en is die eerste nagevolg deur doktor S Hofmeyr van Montagu. Die Sinode het in 1862 besluit dat, as minstens 50 lidmate in ’n gemeente Engelse dienste vra, dit toegestaan moet word, mits dit nie inbreuk maak op die Nederlandse dienste nie. Binne enkele dae daarna is die eerste Engelse diens in die Groote Kerk, Kaapstad, gehou. Daarna het Engels na ander gemeentes uitgebrei.

Die prediking in Engels was vir die NG Kerk ’n groot probleem. Die half verengelste lidmate het op Engels aangedring, en die nasionaalvoelende lidmate was daarteen. Engels kon in 1889 vordering maak toe die Groote Kerk besluit het om die Engelse dienste wat vroeër smiddags gehou is, na die aand te verskuif. ’n Ouderling het verklaar dat die meeste jong mense uitsluitend in Engels opgelei word sodat hulle nie in Hollands vrae kon beantwoord nie. Dit was selfs onder gekleurde diensmeisies die geval. Hy wou liewer Engels hê as dat die kerk agteruitgaan. Die gemeente Rondebosch was die eerste waarin net in Engels gepreek is. In sowel Stellenbosch as Wellington is in 1893 Engelse dienste ingevoer, in laasgenoemde weer eens deur dominee Andrew Murray. Daar is dit ná die Jameson-inval gestaak. In Bloemfontein het dominee CS Morgan, ’n Skot, in 1882 bekend gemaak dat hy op bepaalde Sondae ook ’n Engelse aanddiens sou hou. Die Vrystaatse Sinode het dit in 1883 bespreek, en besluit dat dit tot die plig van leraars behoort om ook in Engels te preek as dit die godsdiens en die welsyn van gemeentes kan bevorder. Dominee Morgan se preke vir Presbiteriane verdien dus “alle lof”.

Die vordering van Engels in die Kaapse kerk was ’n natuurlike gevolg van die verengelsing van die onderwys, veral vanaf 1865. Die gevolge van die Engelse mode van baie Afrikaanse studente spreek duidelik uit ’n debat wat in 1890 by die Victoriakollege, voorloper van die Universiteit van Stellenbosch, gehou is. Een van die debatspunte was: “Moet Afrikaanse meisies ophou om onder mekaar en met Afrikaanse seuns Engels te praat?” Niemand het dit gewaag om bevestigend te antwoord nie; 25 was daarteen en 19 het buite stemming gebly. Almal was ook daarteen dat een of meer vakke wat by die kollege in Engels gedoseer word, net in Hollands aangebied word. Is daar hoop dat ’n beskaafde “Afrikaansch Hollandsch” in “beschaafde kringen” sal voortbestaan? “Ja”, het 15 gesê, “nee” 20.