Engels versterk deur immigrante en predikante

Slagtersnek
March 4, 2015
Engels word amptelike taal en skooltaal
March 6, 2015

Somerset het besef dat sy grensbeleid kan slaag as daar baie wit mense in die Suurveld in die Oos-Kaap kon bly. Sulke mense was daar: baie Britte het weens armoede en werkloosheid na ander lande geëmigreer. Sowat 90 000 wou Kaap toe gaan, maar sowat 5 000 het toestemming gekry om te kom.

Toe die immigrante kom, was Somerset met verlof. Hy het sy waarnemende goewerneur, sir Rufane Dunkin, gevra om die Engelse, Skotte en Iere apart te plaas. Dunkin het die 350 Iere toe na Clanwilliam gestuur! Dié nedersetting het misluk, maar van die Iere het in dié geweste agtergebly en verafrikaans. Die meeste Skotse en Engelse setlaars het tussen April en Junie 1820 in Algoabaai geland.

Afrikanerboere het gou hul nuwe landgenote met ossewaens na hul plase gebring — die Skotte na Baviaansrivier en die Engelse na die Suurveld. Baie setlaars het niks van boerdery geweet nie. ’n Groep Londenaars, spottend die Cockney gardeners genoem, het slote van 60 sentimeter gegrawe om wortelsaad te saai, uie onderstebo geplant, en mieliestronke pleks van pitte.

Die owerheid het die Kaap nie alleen deur immigrasie meer Engels probeer maak nie, maar ook deur middel van predikante. Die bewindhebbers het destyds predikante aangestel, en terwyl Somerset in 1820 met verlof in Engeland was, het doktor George Thom van Caledon hom gehelp om bekwame predikante en sendelinge vir die NG Kerk te vind. Britse studente in teologie is na Nederland gestuur om die taal te leer. Veral Skotse predikante het gekom.

Met die verlof van Somerset het 24 afgevaardigdes van twaalf gemeentes die eerste NG Sinode op 2 November 1824 in die konsistorie van die Groote Kerk gehou. Volgens die reglement was die naam van 1824 tot 1842 Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika. (Die Sinode van 1842 het dit verander na Nederduitsch-Gereformeerde Kerk.) Somerset en sy geesgenote het sterk gedink aan die moontlikheid om die NG Kerk en die Presbiteriaanse Kerk te verenig. Dit was gelukkig onmoontlik weens die kerkorde wat De Mist in 1804 uitgevaardig het, maar ook omdat die gevoel van die Afrikaners teen die Skotse predikante mettertyd al hoe sterker geword het.

’n Paar Afrikaners het in die 1820erjare in Nederland vir predikant gaan studeer, maar hulle was nie genoeg nie, en op die Sinode van 1834 was 12 van die 22 predikante uit Skotland afkomstig en net agt was gebore Afrikaners. Teen 1836 was daar 11 jong Afrikaners wat in Europa vir predikant geleer het terwyl drie met hul studie klaar was. Die baie Skotse predikante het kommer laat ontstaan of die jong Afrikaners ’n werk in hul land kon kry.

Die Ringe van Kaapstad en Swellendam het toe vertoë aan die Britse regering gerig en dié het in 1838 geantwoord dat gekwalifiseerde Afrikaners voorkeur sou geniet wanneer die owerheid predikante aanstel. Die Ring van Graaff-Reinet, met net Skotse predikante, wou die versoek nie steun nie onder meer omdat daar in die Oos-Kaap mense was wat Nederlands en Engels wou hê. Van 1843 af kon die NG gemeentes self leraars beroep. Soveel afgestudeerde Afrikaners uit Nederland het bygekom dat die kerk in daardie stadium nie meer deur die leraars verengels kon word nie. Party afstammelinge van die Skotse predikante het selfs verafrikaans soos van die Thoms, Murrays, Frasers en McGregors.