Engeland annekseer Transvaal

Transvaalse uitlanders vra Britse “beskerming”
May 1, 2015
“Onze Jan” Hofmeyr word politikus
May 4, 2015

Op 15 Februarie 1877 is Sekhukhune gedwing om Transvaal se vredesvoorwaardes te aanvaar. Een van die voorwendsels vir die Britse anneksasie het dus weggeval, en Shepstone het die vrede tussen Transvaal en Sekhukhune ongedaan probeer maak. Op 9 April het hy Burgers meegedeel dat hy Transvaal sal annekseer. Burgers het ’n kort formele protes opgestel en die Uitvoerende Raad het op 11 April ’n “deputasie” – Paul Kruger en dr. EJP Jorissen, ’n Nederlands-gebore Transvaler – aangestel om die volk se reg op onafhanklikheid in Europa en Amerika te verdedig.

Aan dié protes het Shepstone hom nie gesteur nie. Om elfuur die oggend van 12 April 1877 het hy die anneksasieproklamasie laat voorlees en het Rider Haggard, later skrywer van bekende romans soos King Solomon’s Mines, die Union Jack gehys. As redes vir anneksasie is aangevoer die bankrotskap van die staat, verdeelheid van die burgers, die skaad aan die wit mense se prestige deur die Sekhuhkune-oorlog en versoeke deur ’n groot deel van die inwoners van Transvaal.

Dat die anneksasie so maklik kon plaasvind, het baie mense verwonder. Maar die Transvalers was in 1877 nog erg verdeeld, sonder enige nasionale gevoel en onverskillig teenoor landsake. Die bevolking was geïsoleerd en swak ingelig. Meer as 83 persent het op die platteland gewoon, ver van mekaar af. Net af en toe is hulle dorp toe vir die Nagmaal. ’n Koerant, De Volksstem, is in 1873 opgerig met Jan F Celliers (vader van die latere digter Jan FE Celliers) as redakteur, maar sy sirkulasie was klein – aanvanklik 100 intekenaars.

Die eerste indrukwekkende proteste was deur Afrikaners in die Vrystaat en Kaapkolonie, en koerante soos De Zuid-Afrikaan en Het Volksblad van Kaapstad, en De Express van Bloemfontein. De Zuid-Afrikaan het op 18 April 1877 geskryf dat daar duisende huisgesinne oor die lengte en breedte van die Kolonie is waarin daar skande geroep word oor ’n daad wat hulle veroordeel.

Die deputasie van Paul Kruger, EPJ Jorissen en hul sekretaris W Eduard Bok, het by lord Carnarvon, Britse minister van kolonies, gaan protesteer. Carnarvon het beweer dat die meeste Transvalers anneksasie steun. Die verontwaardiging was groot toe die deputasie op Saterdag 5 Januarie 1878 in Pretoria verslag doen van hul ervarings in Engeland.

Die beroering onder die Transvalers het so groot geword dat Shepstone hulle op 12 Maart 1878 gewaarsku het om hulle rustig te gedra. Hy het Paul Kruger vir die onrus verantwoordelik gehou. Inderdaad was dit hy wat al hoe meer die leier van die verset geword het. Op ’n groot byeenkoms van 4 tot 6 April 1878 op die plaas Doornfontein het dit geblyk dat 6591 mense hul name geteken het op petisies teen die anneksasie, terwyl net 587 anneksasie gesteun het. Die vergadering het Kruger en Piet Joubert as ’n tweede deputasie na Engeland gestuur. Joubert het oudpres. Burgers genooi om as derde lid aan te sluit, maar dié het Kruger verkleineer, die voormanne aangeraai om in die anneksasie te berus en hul “denkbeeldige” griewe teen die Britte te laat vaar!