“En ek is nog hy”

Nasionalisme en Afrikaans
January 22, 2015
Helpmekaar
January 22, 2015

Een van die rebelle wat ’n paar maande tronkstraf gekry het en aan wie ’n onderwysverbod opgelê is, was ’n gebore Nederlander, Jan van Melle. Hy het in 1906 die eerste keer na Suid-Afrika gekom as onderwyser, is in 1909 terug na Holland, maar het in 1913 na Transvaal teruggekom. Met die begin van die rebellie het hy hom aangesluit by generaal Chris Muller; daar is hy tot ’n kommandoleier gekies. Van Melle het die skrywer geword wat die getrouste beeld in die Afrikaanse letterkunde gegee het van die verloop van die Rebellie en sy nasleep. Hy het dit gedoen in kortverhale en Bart Nel, een van die klassieke romans in Afrikaans.

In die Fort in Johannesburg het ’n paar rebelle in 1915 aan ’n singende wapenbroer gevra: “Ou maat, hoe kry jy dit reg om so lekker te sing, terwyl ons ander vanmôre so bedruk voel?” Hy het geantwoord dat hy in die Anglo-Boereoorlog een van die ontroues was. “Dis die eerste maal in die afgelope dertien jaar dat ek my hoed uit my oë kan stoot en my mede-Afrikaner in die gesig kyk.”

Oor so ’n man handel Van Melle se kortverhaal “Die joiner” – ’n oud-joiner wat onder Jopie Fourie aan die Rebellie deelgeneem het. “Al is dit nie Engelse waarteen hy veg nie, al is dit Afrikaners teen wie hy veg, hy veg vir ’n Boere-saak.” Heel ironies, egter, stel hy ná sy vrylating ’n Engelse naam vir sy dogter voor. “Ons laat haar Hope doop.” “Hope?” “Ja, want nou het ek weer hoop.”

“Weer by die huis” handel oor ’n jong deelnemer aan die veldtog teen die Duitsers. Op een van die haltes klim ’n tante van hom op die trein en vra of hy dan ook kakie dra. “En is jou hart ook kakie?” “Hoe bedoel Tante?” “Jou baadjie, dit kan ek sien, maar jou hart?” “Ek weet nie, Tante.” “Nou, myne nie,” sê sy en gaan verder-op plek soek. Hoe langer hoe meer merk hy dat hy ’n verstoteling is weens sy politieke keuse; ook sy nooi sê hom af omdat sy nie ’n kêrel wil hê wat “kakie” is nie.

Die jong soldaat verloor die vriendskap en agting van sy mede-Afrikaners, maar ’n ander Van Melle-karakter behou die agting van mede-Afrikaners maar verloor andersins selfs meer. Dis die hoofkarakter in Bart Nel, de opstandeling wat in 1936 verskyn in Nederlands met Afrikaanse dialoog. In 1942 is dit in Afrikaans uitgegee onder die titel En ek is nog hy, later Bart Nel. Nel is ’n rebel wat gevang word, sy vrou verloor en ook sy plaas weens eise van winkeliers wat skade gely het deur die ware wat sy manskappe opgekommandeer het. Hy het net sy dogter Annekie oor, maar ook haar moet hy ter wille van haar opvoeding afstaan. Aan die einde van die verhaal sien hy homself “alleen in die wye eensaamheid”, en word hy ’n voorbeeld van die Afrikanernasionalis wat alles verloor, maar sy siel behou het; die eensame onbekende teenoor wie selfs ’n simpatieke vriend met onbegrip staan. “Hulle het nou alles, hulle het my grond, my vrou, my kinders. Maar my het hulle nie. Hulle kan maar kom, hulle kan my maar in die tronk gooi en hulle kan maar my grond vat; hulle kan my maar doodskiet ook, maar my sal hulle nie kry nie. […] My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy.”