Johan le Roux
April 4, 2021
Margot Luyt
April 4, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Die aktrise en kabaretster Elzabe Zietsman het op 20 Januarie 2021 haar sestigste verjaardag gevier.

Elzabe Catharina Zietsman is op 20 Januarie 1961 op Bethal in Mpumalanga gebore en het in Pietermaritzburg en Pretoria grootgeword. Sy het drama aan die destydse Technikon Pretoria gestudeer en sanglesse by Sarie Lamprecht geneem.

Sy het in 1982 by die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit en was in verhoogproduksies soos Twelfth Night, Mattewis en Meraai en Picnic on the battlefield te sien. Haar eerste televisierol het in 1983 gevolg toe sy in Die rooi komplot te sien was, terwyl Meisie van Suidwes ’n jaar later gevolg het.

In 1984 en 1985 het sy in Namibië opgetree en haar talent as kabaretkunstenaar het in verhoogproduksies Ousus en Ekskuus vir die wals  sterk na vore getree, terwyl sy in die Casper de Vries-produksie Hallo Suid-Afrika/Hello South Africa te sien was. Vir hierdie produksie, wat by die Windybrow-teater in Johannesburg te sien was, het sy twee toekennings gewen. Sy en De Vries het gereeld saam gewerk, ook in produksies soos Ziets en De Vries en The drivel and the song, wat loodreg teen The devil and the song, die rolprent oor Bles Bridges se lewe gemik was.

Nadat sy in 1993 en 1994 tydelik opgehou het om toneel te speel, het sy die rol as Kaye in die sepie Egoli-plek van goud losgeslaan. Te midde hiervan het sy haar kabaretvertonings voortgesit en terwyl sy in Windhoek was, het ’n musiekdirekteur haar raakgesien, en haar aangemoedig om haar werk na Duitsland te stuur. Sy het dit gedoen, met die gevolg dat sy die hoofrol in ’n produksie van Evita gekry het. Sy het dié rol in 1996 in Duits by die somerfees in Ettlingen in Duitsland vertolk. Sy was so suksesvol dat sy in 1997 weer na Duitsland genooi is om die rol van Velma in die musiekblyspel Chicago te vertolk, weer eens in Duits. Sy het ook haar solo-kabaretvertonings gelewer en was uiters gewild onder Duitse gehore. In 1995 het Nataniël die kabaretstuk In glas vir haar geskryf; waarin ooreenkomste tussen Marlene Dietrich en ’n Suid-Afrikaanse vrou uitgelig word. Sy het hierdie stuk tien jaar later nog gereeld op openbare aanvraag opgevoer.

In 2003 het sy haar droom om ’n restaurant te bedryf, verwesenlik. Sy het haar huis in Auckland Park, Johannesburg, opgeknap en dit in ’n deeltydse restaurant, Zietsies, verander.

Elzabe is tans in die rol van Magda in die sepie Getroud met rugby te sien, maar die Covid-19-inperking het gemaak dat sy haar huis en restaurant verloor het.