Elize Cawood (1952-2020)

Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 4
September 7, 2020
Hilgard Muller (1914-1985)
September 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Op 18 Julie 2020 het Suid-Afrika een van sy mees geliefde aktrises verloor toe Elize Cawood aan longkanker oorlede is.

Elize is op 28 Junie 1952 gebore en het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer voordat sy haar BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het. Haar loopbaan het in 1974 by die destydse Vrystaatse Raad vir Uitvoerende Kunste (SUKOVS) begin en later ook by TRUK gewerk, waar sy onder meer in die Afrikaanse weergawe van Tennessee Williams se verhoogstuk A streetcar named Desire, bekend as Die trem se naam: Begeerte, gespeel het.

In Desember 1982 is sy getroud met Wilson Dunster, saam met wie sy in die Suid-Afrikaanse weergawe van die komedie Dinner for one te sien was. Wilson was ook te sien in rolprente soos Jock of the Bushveld en There’s a Zulu on my stoep. Waarskynlik haar bekendste televisierol was dié van Pop le Roux in Verspeelde lente, wat in 1984 uitgesaai is. Daarna was sy te sien in reekse soos Wolwedans in die skemer, Daisy de Melker en Proesstraat. Sy het ook die rol van Martha Haasbroek in Konings vertolk; onder die bekende name in hierdie reeks was Dawid Minnaar, Albert Maritz, Anna-Mart van der Merwe en Michelle Botes.

Sy was ook in ’n aantal rolprente te sien, onder meer Taxi to Soweto, Die wonderwerker, Lien se lankstaanskoene en Sy klink soos lente. In die rolprent Vir altyd het sy en Wilson die rolle van ’n egpaar wat vir hul “tweede wittebrood” Mauritius toe was, vertolk; die hoofkarakters was Ivan Botha en Donnalee Roberts. Sy het teenoor Rouel Beukes in die musiekrolprent Liefling gespeel, waarin sy die rol van Bobby van Jaarsveld se karakter se ouma vertolk het. Haar laaste rolprent was Vir die voëls, waarin sy die rol van Ouma Martie vertolk het. Dié rolprent is geskryf na aanleiding van die ware liefdesverhaal van Sampie en Irma de Klerk, met Francois Jacobs en Simoné Pretorius, wat tot onlangs die rol van René Spies in Binnelanders vertolk het, in die hoofrolle. Haar laaste televisiereeks was ook in Binnelanders; haar karakter was die suster van At Koster en die ma van dr. Quinton Meyer.

Benewens haar man laat sy ook haar dogter, Jenna Dunster, self ’n aktrise, en haar broer, Bromley Cawood, ’n rolprent- en televisieregisseur, agter.