Nadat die magsewewig onherroeplik in die guns van die ANC geskuif het, was die kans verby om vir die Afrikaner bevredigende minderheidsregte te beding. Baie Afrikaners het min begrip van die betekenis van veral taalregte gehad. Kort ná 2 Februarie 1990 het ’n debat daaroor in koerante en tydskrifte begin. Die groot vraag was of Engels die enigste offisiële taal moet wees, en of Afrikaans en die ander inheemse tale amptelike status gaan behou. Verskeie skrywers was van mening dat Afrikaans nie sy amptelike status hoef te behou nie, maar ander, asook sommige akademici, het hulle teengestaan.
Kultuurorganisasies het ’n Akademieplan onderskryf wat op 18 Junie 1993 bekend gestel is. ’n Uitgangspunt was dat die elf hooftale van Suid-Afrika “inherent gelykwaardig” is en erkenning en beskerming sal geniet. Verder is verklaar: Afrikaans en Engels is die landswye amptelike tale van Suid-Afrika. Enige van die ander nege hooftale kan amptelike status op voorgeskrewe konstitusionele wyses verwerf. Elke taal sal tot op die hoogste onderwysvlak as onderrigtaal gebruik kan word, en almal sal waar prakties moontlik, die reg op opleiding in die taal van hulle keuse hê. Die ANC het die plan verwerp omdat dit volgens hom Afrikaans en Engels op ’n voetstuk plaas bo die ander hooftale van die land.
Die NP-regering het op 28 Julie 1993 sy taalplan bekend gemaak. Daarvolgens bly Afrikaans en Engels amptelik, maar kan enige streekowerheid deur spesiale wetgewing een of meer van die ander tale bykomend tot Afrikaans en Engels as amptelike tale aanwys.
In Oktober was die eerste aanduidings daar dat die onderhandelings oor taal besig was om skeef te loop vir Afrikaans. Die Junior Rapportryersbeweging het met ‘n veldtog begin om ’n miljoen handtekeninge in te samel van mense wat wil hê dat Afrikaans sy amptelike status behou. In minder as ’n week is 120 000 handtekeninge ingesamel, en op 24 November was daar meer as 300 000. Maar toe het die onderhandelaars reeds hul besluit geneem.
Vroeg in November het die ANC sy beleid verander van geen amptelike status aan enige taal tot amptelike status aan almal. Die opsie dat Afrikaans en Engels landwyd as dokumentasietale aanvaar word, was onaanvaarbaar vir die ANC, want in Transkei word wette ook in Xhosa geskryf. Op 10 November 1993 het die ANC-standpunt geseëvier. Die onderhandelaars het besluit dat die amptelike tale op nasionale vlak die volgende sal wees (in die amptelike benamings en in die volgorde van die finale Grondwet): Sesotho sa Leboa, Sesotho, Setswana, SiSwati, Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, Engels, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu. Talle deskundiges het die reëling gekritiseer. Paul Taylor van die Washington Post het geskryf dat, aangesien niemand verwag dat ’n toekomstige regering in elf tale dokumente sal druk of sake sal doen nie, die waarskynlike uitwerking van die taalbesluit sal wees dat die nuwe regering toegelaat sal word om dit te reduseer tot net een amptelike taal – Engels.