Ekstase en somberheid

’n Edele besluit
January 22, 2015
Oorlog!
January 22, 2015

Die skryfster Olive Schreiner, suster van die eerste minister van Kaapland, het op 24 Mei 1899 begin skryf aan An English South African’s View of the Situation, wat op 1 Junie verskyn het in die South African News en later as aparte boekie uitgegee is. “Waarom hoor ons die voetstappe van gehuurde soldate? Waarom kan die gerugte van oorlog nie tot swye gebring word nie?” Sy waarsku haar lesers in Engeland dat Brittanje met sy oormag dalk wel die Afrikaner kon verpletter, maar dat as ’n paar van hulle die gruwele van die oorlog oorleef, geweld nooit die liefde vir vryheid in hul harte sal kan uitdoof nie.

Maar die voetstappe van vreemde soldate het al hoe harder geklink. In Junie 1899 was daar meer as 10 000 Britse troepe in Natal en die Kaapkolonie. Op 8 September het die Cape Argus berig dat baie troepe reeds op pad was en vier dae later is 10 000 soldate in Indië ingeskeep. Sir William Butler, wat die dwaasheid van die oorlogsbeleid besef het en deur Milner as verraaier uitgeskel is, het al bedank en die land verlaat tot spyt van bewonderaars onder gematigde Engelssprekendes soos John X Merriman en WP Schreiner.

As nuwe opperbevelhebber van die Britse troepe in Suid-Afrika is aangestel sir Redvers Buller. Toe die eerste troepeskip uit Indië in Oktober aankom, het Kruger besef dis nodig om vinnig op te tree. Einde September en begin Oktober het die presidente hul burgers gemobiliseer. Die nuus dat nog 24 000 man die Kaap voor die einde van die maand sou bereik, het Kruger gesterk in sy mening dat elke dag van besluiteloosheid ’n dag in die voordeel van Engeland was. Steyn wou nog die vrede bewaar. Op 7 Oktober het Milner egter aan hom gesê dat die aankoms van die Britse magte genoodsaak word deur Transvaal! Steyn het daarop aan Transvaal toestemming gegee om op Maandag 9 Oktober 1899 ’n ultimatum aan Engeland te stuur.

Transvaal het geëis dat die geskil met Engeland deur arbitrasie opgelos word, dat alle Britse troepe van die grense verwyder en geen verdere versterkings aan wal gesit word nie, en dat as geen bevredigende antwoord binne 48 uur ontvang word nie, dit as oorlogsverklaring van Britse kant beskou word. Toe Chamberlain op 10 Oktober gewek is met die nuus van die ultimatum, het hy opgewonde uitgeroep: “They have done it!” Dit was dus onnodig vir hom om self ’n ultimatum te rig. Die minister van oorlog het weer gesê: “My soldiers are in ecstasies.”

Heel anders was dit in die republieke. Vroeg op Sondag 8 Oktober is president Steyn op sy plaas Onze Rust alleen die veld in en het daar, met die woorde van sy biograaf, ’n “sielsworsteling” deurgemaak. Die meeste van die tyd was hy in gebed. Toe hy die aand tuiskom, was hy welgemoed, vasbeslote om tot die dood te stry vir vryheid en reg. President Kruger het op 10 Oktober, sy 75ste verjaarsdag, stil en in homself gekeer in sy leunstoel gesit. Sy oë was nie meer goed nie. Die ontsteking het weens die nagwake al erger geword. Amper elke môre het sy lyfarts, doktor Willem Heymans, die President in sy goedmoedige Vlaams-Afrikaans verwyt: “President, u moet nie so baie huilen, dit is baie slecht voor uw ogen.”