CJ Langenhoven
January 23, 2017
Eugène N Marais
January 23, 2017

Willem Jakobus du Plooy Erlank (Eitemal) is op 22 Junie 1901 op Wolmaransstad, Noordwes, gebore en sterf op 24 Junie 1984. Hy voltooi sy skoolloopbaan op Wolmaransstad en studeer aan die Transvaalse Universiteitskollege (die voorloper van die Universiteit van Pretoria). Die skuilnaam, Eitemal, is afgelei van sy bynaam op universiteit: ‘Lammetjie’. Hy gee ’n ruk lank onderwys aan die Witwatersrand en word dosent aan die Normaalkollege, Pretoria. Hy sit sy studie voort in Amsterdam, Nederland en nadat hy gepromoveer het aan die Universiteit van Pretoria word hy professor in Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Ná sy aftrede word hy Kulturele Attaché in Nederland.

Eitemal was veelsydig. Hy het ’n besondere sin vir die dramatiese en het dan ook ’n aantal dramas, En hadde de liefde niet (1935) en So praat die ou rivier (1956), geskryf. Hy het ’n skerp waarnemingsvermoë en hou van teenstellings en die botsende. Hy debuteer as digter met Weerklankies (1928) en dan volg Phaeton en ander gedigte (1931). Hy vertaal ook werke van Shakespeare en Goethe. ’n Aantal kortverhale opgeneem in Skaduwees teen die muur (1958) is treffers. Die klein eselsroman, Jaffie (1953) word beskryf as ’n klein meesterstuk.

’n Aspek van Eitemal se nalatenskap wat erg onderskat word, is sy bydrae tot die FAK-sangbundel (1961). Die lirieke van ’n dertigtal sangstukke word aan hom toegedig en dit sluit nuutskeppinge, verwerkings en vertalings in. Sy bydraes word gevind in vyf rubrieke en wissel van volk en vaderland, liefdeslag en liefdesleed, vrolikheid en olikheid, tot lewenswel en lewensweë, vriendskap, vaarwel en wedersien: ’n groot omvang. Van die heel bekendste van hierdie liedere is: ‘Die lied van Jong Suid-Afrika’, ‘Oranje-blanje-blou’, ‘Nooi van die velde’, Taraboemdery’, Marietjie, Maraia’, ‘As ek moeg word vir die lewe in die stad’ en ‘Bootjie na Kammaland’.