Einde van die republieke

Debat oor volk se voortbestaan
January 22, 2015
“Die bitter einde”
January 22, 2015

Aan die einde van die samesprekings op 30 Mei was dit duidelik dat die afgevaardigdes ernstig verdeeld was oor die voortsetting van die oorlog. Vroeg op 31 Mei is Botha en De la Rey na De Wet en het hom gevra om te sorg dat daar geen verdeeldheid ontstaan tussen die manne wat so lank saam was nie. Daar bestaan ’n hardnekkige opvatting dat hulle drie daar afgespreek het om, as die tyd eendag geleë is, weer die wapens op te neem teen Engeland.

Toe die vergadering op 31 Mei begin, het De Wet voorgestel dat Smuts en Hertzog ’n verklaring opstel. Terwyl die twee manne daarmee besig was, moes die afgevaardigdes van die twee republieke afsonderlik beraadslaag. Kestell was by toe De Wet die Vrystaters toegespreek het. “Ek sien hom nog, die onbuigbare man met sy deurdringende oë, sy sterk mond en kin – ek sien hom nog daar soos ’n leeu in ’n hinderlaag vasgekeer. Hy wil nie, hy kan nie, maar hy moet die stryd opgee. […] Ek het daar die lippe gesien beef van manne wat nooit vir ’n vyand gebeef het nie. Ek het daar trane gesien wat opwel in oë wat droog was toe hulle hul dierbaarste in die graf gesien wegbêre het. Voor die onvermydelike het die manne, met hul Hoofkommandant, die hoof gebuig.”

Smuts en Hertzog het gewys op die algehele verwoesting van die republieke, die sterftesyfer in die konsentrasiekampe, die deelname van gewapende swartes, die konfiskasie van die eiendom van vegtendes. “Onder die omstandighede is dit vir die volk nie geregverdig om met die oorlog voort te gaan nie, daar dit alleen kan strek tot die maatskaplike en stoflike ondergang, nie alleen van ons nie, maar ook van ons nageslag.”

Die vredesvoorwaardes is met 54 teenoor ses stemme aangeneem. Die ses was JJ Alberts, JCG Kemp en JF Naudé van Transvaal en CCJ Badenhorst,   AJ Bester en CA van Niekerk van die Vrystaat.

Die aand van 31 Mei, kort voor elfuur, was albei regerings weer in Pretoria. Met die grootste spoed is hulle na die huis van lord Kitchener vervoer. Hy en Milner het langs mekaar aan die hoof van die tafel gesit. Van Boerekant was daar waarnemende president SW Burger, staatsekretaris FW Reitz, L Botha, JH de la Rey, JC Krogh en LJ Meyer, asook waarnemende president CR de Wet, generaal CH Olivier, regter JBM Hertzog en waarnemende staat-sekretaris WCJ Brebner.

Die kontrak was in viervoud op perkament getik: een eksemplaar vir die Koning van Engeland, een vir lord Kitchener, een vir die Pretoriase en een vir die Bloemfonteinse argief. Alles was doodstil toe waarnemende president Burger die pen om vyf voor elf neem. Na hom het die Transvaalse en Vrystaatse afgevaardigdes, toe lord Kitchener en laaste van almal lord Milner geteken.

Die lede van die regerings van die nou gewese republieke, het asof verbysterd opgestaan om die vertrek te verlaat. Reitz het na ’n hoek geloop en in trane uitgebars. Voordat hulle kon uitstap, het lord Kitchener van die een na die ander gegaan, elkeen die hand aangebied en gesê: “We are good friends now!” So gou hulle kon, het die manne die saal verlaat.