Einde van die inval

Jameson val Transvaal binne
May 25, 2015
Ontploffing by Braamfontein
May 27, 2015

Jameson se meksims en kanonne het op Nuwejaarsdag 1896 die klippe waaragter die burgers gelê het, met ’n haelbui van koeëls beskiet. Hulle kon egter nie deurbreek nie en die Transvalers het van alle kante toegesak. Die nag het die uitgeputte bende in ’n pan gaan skuil. Hulle was omsingel deur Boere en het ’n benoude nag deurgebring.

Vroeg op 2 Januarie 1896 moes Jameson by Doornkop die wit vlag hys nadat hy meer as honderd man aan dooies en gewondes verloor het. Daar was nie so ’n wit vlag nie, en hulle moes ’n voorskoot by ’n bruin vrou leen. Dié vrou het die volgende dag by generaal Joubert gaan kla dat die Engelse haar voorskote, lakens en handdoeke gevat het sonder om haar daarvoor te betaal. Waar kan sy gaan kla, wou sy weet. Joubert het haar glimlaggend ’n halfkroon gegee en onder die burgers is 10 sjielings gekollekteer – genoeg vir heelwat nuwe materiaal.

Die Transvalers het die nuus van die inval met ’n storm van verontwaardiging ontvang. Duisende burgers het Johannesburg omsingel en net op ’n bevel van Kruger gewag. Hy wou egter geen bloedbad hê nie en het ook Duitse seesoldate belet om van Delagoabaai na Pretoria te kom om Duitse belange te beskerm. Die Britse hoë kommissaris, sir Hercules Robinson, wat vooraf ingelig was oor die komplot, het sy hulp aangebied. Hy het sy bes gedoen om die uitlanders te beweeg om die gesag van die Republiek te aanvaar. Die leiers is aan die regering uitgelewer. Die meeste Transvalers het aangedring op die doodstraf, maar Kruger het besef dat dit die verhouding met Engeland sou benadeel. Hy het ure lank by sy offisiere gepleit. Eindelik is die manskappe vrygelaat en die offisiere vir straf aan Brittanje uitgelewer. Die Hooggeregshof het die leiers van die Reform Committee ter dood veroordeel, maar die regering het die vonnis versag tot ’n geldboete.

Rhodes het geweier om Jameson te veroordeel en is op 7 Januarie 1896 verplig om as Kaapse premier te bedank. Hofmeyr het sy vriendskap met hom verbreek, die steun van die Afrikanerbond teruggetrek en ’n telegram van bemoediging aan Kruger gestuur. Die magnaat JB Robinson het die redakteur van die Transvaal Times afgedank omdat dié vir Jameson iemand met ’n leeuehart en die opmars “a glorius procession of the Anglo-Saxon race” genoem het.

Kruger se wyse hantering van die Jameson-inval het sy aansien laat toeneem. Hy het bewonderaars oral op aarde gehad, maar het ’n eenvoudige lewe gelei. Sy huis in Kerkstraat-Wes is vergroot en opgeknap, maar daar was geen prag en praal nie. Saans het hy vroeg gaan slaap en met sonop al op die stoep sit en koffie drink en pyp rook. Daar het hy dikwels hoë besoekers, ook uit die buiteland, te woord gestaan. Die Bybel het hy gereeld gelees en graag daaruit aangehaal in sy toesprake. Sy stem was sterk en grof en sy toesprake het hy meestal uit die vuis in Afrikaans gelewer. Hy was byna altyd in manel en keil geklee. Af en toe het hy ’n rondreis met sy pragtige koets onderneem en na mense se klagtes en wense geluister. Sy beleid, veral in die laaste paar jaar, was om die Voortrekkers en hul kinders, wat hy soms “Gods volk” genoem het, te beskerm in hul besit van die land.