Einde van die Hollandse immigrasie

Eerste digbundels na die oorlog
January 23, 2015
’n Baanbreker met Afrikaanse boeke
January 23, 2015

Die oorwinning van die vryburgers oor die amptenare was een van ’n paar gebeurtenisse wat die toekoms bepaal het van die mense wat in ons tyd as Afrikaners bekend staan.

Vir die burgers was die boerdery deur Willem Adriaan van der Stel en sy amptenare ’n ekonomiese bedreiging. Hulle kon maklik die Kaapse mark gemonopoliseer het. Elsevier het juis in 1706 aan Willem Adriaan gesê dat daar ná drie, vier jaar geen vryburgers nodig sou wees nie en dat daar vir die amptenare kans was om die Kaap van alles te voorsien.

So iets kon maklik gelei het tot die einde van die ontluikende Afrikanervolksgroep. Die geskiedenis sou dalk ’n totaal ander loop geneem het as manne soos Tas en Hüsing nie opgetree het nie.

Maar waar die besluit van die bewindhebbers onbewus die moontlikheid geskep het dat daar ’n Afrikanervolk kon ontstaan, het ander besluite die getalsterkte van dié groep uiters nadelig beïnvloed.

Die Here XVII het op 26 Oktober 1706 nie net sy belangrike besluit oor Van der Stel geneem nie, maar ook ’n ander wat baie ongunstig vir die toekoms was. Dit was om ’n besluit van 1700 te herroep om immigrasie na die Kaap aan te moedig.

In 1716 het daar ’n geleentheid gekom om weer oor immigrasie te besin. Die Here XVII het die Kaapse bewindhebbers, die Politieke Raad, gevra of hulle wou hê daar moes in die toekoms blanke arbeiders of slawe ingevoer word. Volgens Anna Böeseken was daar toe sowat 2000 vryburgers en 744 amptenare teenoor byna eweveel slawe – iets meer as 2700.

Die Raad het dit op 20 Januarie 1717 bespreek. Die een na die ander van die lede het gepraat ten gunste van die invoer van slawe. Vir Nederlandse immigrante was daar volgens hulle nie genoeg grond, werk of geld nie.

Net die kaptein van die garnisoen, Dominique Maurits Pasques de Chavonnes, het ernstig gepleit vir wit immigrante. Die blankes kon meer geld in omloop bring en so die welvaart van die bevolking vergroot. Die koopsom van die slawe is ’n dooie verlies vir die nedersetting. Hy het ook uitgewei oor die gevare van slawerny. Slawe dros dikwels, laat die boere sonder hulp en bedreig as drosters die lewens van mense buite die nedersetting. Verder het hy gewys op die uitgestrektheid van die land wat nog ’n groot getal mense kan voed en dra.

Hoewel sy toespraak indruk gemaak het, het die lede van die raad oortuig gebly dat slawe onmisbaar is vir die ontwikkeling van die land. De Chavonnes was die enigste lid van die Politieke Raad wat gestem het teen die invoer van meer slawe. Die ander raadslede het gemeen Europese arbeiders sou te weerbarstig wees en gedurig met hul base oorhoops lê. In 1751 het die Politieke Raad dié besluit herbevestig.

’n Moderne historikus, Hermann Giliomee, noem dit ’n noodlottige besluit, Anna Böeseken “’n dwase stap” en GD Scholtz een van die groot foute in die Afrikanergeskiedenis. Die belangrike gevolg van dié besluit was dat dit die getalsterkte van die Afrikaners beperk het. In die res van die agtiende eeu sou immigrasie hul getalle nie noemenswaardig aanvul nie. Teen 1806 was daar skaars 30 000 Afrikaners aan die Kaap. Die kolonie kon ook nie uit die “ekonomiese keurslyf” (Giliomee) van die Kompanjie ontsnap nie.