Eerste verskille oor vrede

Wit vlag op Majubadag
January 22, 2015
De Wet laat skep nuwe moed
January 22, 2015

Vir Afrikaners was die oorgawe by Paardeberg ’n ontsettende ramp. MER het later vertel dat sy in dominee Piet Meiring se kerk in Johannesburg was toe hy afgekondig het: “Die Regering laat weet generaal Cronje het op Paardeberg met     4000 man aan die vyand oorgegee.” Die verslae gemeente het “Kent gij dat volk” probeer sing – maar in die middel vasgesteek van verslaentheid.

Ook ander rampe het die Boere nou getref. Terwyl Roberts van Paardeberg af die Vrystaat binnegetrek het, het Buller deur die Tugela-linie in Natal gebreek en die Boere daar in wanorde na die Biggarsberge laat vlug. Die burgers het totaal moed verloor. Die Transvaalse kommandant-generaal, generaal Piet Joubert, het nog net een middel gesien wat dalk kon help: die kragtige persoonlikheid van president Kruger. Hy het ’n dringende beroep om hom gedoen om na die front te kom om “die mense met u magswoord te stuit”.

President Kruger is dadelik met ’n spesiale trein na die front. Daar het hy eers teen generaal Joubert uitgevaar omdat hy toegelaat het dat die strategiese Tugela-linie prysgegee word. Mense wat Kruger geken het, het hom nog nooit so kwaad gesien as die dag by Glencoe nie. Hy het glo met die kommandant-generaal geraas asof hy ’n kind was wat verbrou het. Maar daarna het hy Joubert die hand geskud en sake kalm met hom bespreek. Aan die offisiere wat medeverantwoordelik was vir die terugtog het hy sy afkeuring getoon deur te weier om hulle die hand te gee.

Die President se woede en sy sterk persoonlikheid het die gewenste uitwerking gehad. Die burgers en offisiere het weer moed geskep. Spoedig was hy omring deur ’n groot skare. Hy het sy hoed afgehaal en ootmoedig sy hoof gebuig. Die manskappe om hom het die gebaar verstaan en sy voorbeeld gevolg. ’n Groot stilte het op die menigte toegesak. Daar, op die bloedige slagveld, het Kruger vir die volk gebid. Van Natal is Kruger na die Vrystaat waar hy die burgers ook probeer moed inpraat het. By Abrahamskraal het hy die vlugtendes aangespreek, vurige beroepe op hulle gedoen en hulle verseker dat die oorlog binne weke verby sou wees as hulle vastrap. Maar hulle het net die kop geskud en aangery.

Teen daardie tyd het Kruger egter al gedink aan vrede maak. Op 5 Maart was hy by Steyn in Bloemfontein toe generaal Joubert die derde keer in die oorlog aan die presidente vrede voorgestel het. Steyn wou die voorstel nie aanvaar nie, maar Kruger was ten gunste daarvan. Dieselfde dag het die republieke aan lord Salisbury in sy hoedanigheid as Britse regeringshoof getelegrafeer dat hulle bereid was om vrede te sluit mits hul onafhanklikheid erken word en Britse onderdane wat die wapen vir die republieke opgeneem het, nie gestraf sou word nie. Die Britse regering het dit geweier. Hier het eintlik die wrywing begin wat daar later tussen die twee regerings was. Transvaal het mettertyd daartoe begin neig om vrede te sluit, met behoud van onafhanklikheid as dit kan, maar anders daarsonder. Vir die Vrystaat het dit vasgestaan dat hy die oorlog moes voortsit totdat Brittanje die onafhanklikheid onvoorwaardelik erken.