Eerste digbundels na die oorlog

Eerste liriese Afrikaanse gedig
January 23, 2015
Einde van die Hollandse immigrasie
January 23, 2015

Vir nog ’n digter uit die ou Transvaal was “Winternag” ’n inspirasie. Dit was Jan FE Celliers. Sy pligsbesef het hom in 1900 gedwing om vermom as vrou uit Pretoria te ontvlug nadat hy ’n paar maande daar vasgekeer was. Te velde was hy, soos hy self geskryf het, “’n swerwer oor die vlaktes”. Hy kon geniet van die kleure en vorme van die wolke en die sonsondergange. “Op een van ons trekke het ek, van die wa af, so sit en kyk na die lange stroke – verskillend van kleur – wat die verre rante oor mekaar se rug uitrek, agter die blonde gras; en ek sien dat ek die dag in my oorlogsdagboekie aangeteken het dat die veld nog eendag sy komponis sou kry wat dit in skone tone sou besing. Op brandwag het ek gestaan in die nag, reg-orent in die gietende reën. Die blits en donder van ons somerstorme is skrikaanjaend, dog ek sou hulle nie graag gemis het nie.”

Ná die oorlog is hy en sy gesin ’n paar jaar Switserland toe. Daar het hy ’n keer Shelley se gedig “The Cloud” herlees, en die “vorm en opvatting van die gedig” het hom laat besef wat hy moes doen “om my gemoed te ontlas van die drukkende verpligting tot uiting, wat die vlakte op my gelê het”. Hy het in Nederlands ’n gedig begin skryf, maar “’n Winternag” in De Volkstem te lese gekry “en dit het my beweeg om onmiddellik in Afrikaans oor te slaan”. Hy was teleurgesteld oor sy gedig, maar op aanbeveling van sy broer wat in Duitsland gestudeer het, het hy dit na De Volkstem gestuur wat dit op 12 Mei 1906 gepubliseer het. Verskeie Afrikaners het aan hom geskryf om te sê hoe ingenome hulle daarmee is. In 1907 is hy terug na Suid-Afrika, en in 1908 het “Die Vlakte” en ander gedigte by “De Volksstem” Drukkerij verskyn. In sy inleiding daarby het Preller opgemerk: “Die wetenskaplike ontwikkeling van ons tyd spreek daaruit.” Ook dit was vir die jong mense ’n aantrekkingskrag – die moderne denke daarvan, met verwysings na die evolusieteorie.

In Oktober 1908 was daar nog ’n Afrikaanse bundel: Bij die monument van Totius. Die opbrengs daarvan is na ’n fonds vir die oprigting van ’n Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein. Die man wat die inisiatief dáárvoor geneem het, was president Steyn. Dikwels in Europa het hy gesê dat as hy na Suid-Afrika terugkom, sy eerste werk sal wees om ’n monument op te rig vir die duisende vroue en kinders wat in die konsentrasiekamp moes sterf vir hul volk. Hy het honderde kollektelyste onderteken, so swak dat hy albei hande moes gebruik om sy naam te teken.

President Steyn het in sy voorwoord tot Bij die monument geskryf: “Vir mij is die eerstelinge van onse litteratuur so heerlik als die geluid van die eerste reëndruppels na ’n langdurige droogte”. Totius was in dié tyd predikant van die Gereformeerde Kerk in Potchefstroom. Nadat hy veldprediker was, is hy in 1900 na die Vrije Universiteit van Amsterdam, waar hy in 1903 die doktorsgraad met lof behaal het op die proefskrif Het Methodisme. In 1911 het hy professor geword aan die teologiese skool van die Gereformeerde Kerk. Dié het aan die begin van 1905 van Burgersdorp na Potchefstroom verskuif veral om aan die verengelsingsbeleid in die Kaapse onderwys te ontkom.