Eerste demokratiese opvattings

Van Riebeecks het lig van Christelike kultuur na donker Afrika gebring
February 9, 2015
Die agteruitgang van Nederland
February 10, 2015

Die sendingywer wat in die 18de eeu in Europa ontstaan het, was een van die nuwe stromings waarmee die Afrikaners aan die einde van die eeu sou kennis moes maak. Die tweede was nuwe opvattings oor vryheid en demokrasie. Dié nuwe ideë word weerspieël in twee politieke geskrifte wat in Mei 1778 aan verskeie Kapenaars gestuur is. In die eerste, wat vir die 18de eeu nog baie revolusionêr was, word betoog dat die volk die reg moet besit om sy owerheid self aan te wys en hom desnoods weer van sy mag te onthef as omstandighede dit noodsaak. Die nuwe politieke ideë van Europa, maar ook van die Amerikaners het die Kaap bereik en die gemoedere van die leidende Afrikaners beïnvloed. Die Amerikaners was toe al twee jaar besig met hul vryheidsoorlog.

Die tweede geskrif handel oor die soort probleme aan die Kaap waaroor die klagskrif van Adam Tas aan die begin van die eeu gegaan het: die korrupsie van die amptenare en die wyse waarop hulle die vryburgers uitgebuit het. (Die inhoud word behandel in Die Kaapse patriotte van C Beyers.)

Minder as ’n jaar ná die verspreiding van dié geskrifte het ’n gebeurtenis groot onrus veroorsaak. ’n Vryburger, Carel Hendrik Buijtendag, is in 1779 sonder verhoor uit die land verban. Leidende vryburgers het gevra om hul saak voor die Here XVII te gaan stel. Die versoek is eers geweier, maar vier manne het naderhand verlof gekry om as individue te gaan, en het op 16 Oktober 1779 ’n lang memorandum aan die Here XVII oorhandig. In die eerste versoek is gemeld dat 300–400 burgers gevra het om self mense te kies wat hul saak in Nederland moes gaan stel

Die burgers aan die Kaap moes vier jaar vir ’n antwoord wag. ’n Versoek om burger-verteenwoordigers in die politieke raad, die belangrikste politieke liggaam in die land, is geweier, so ook hul ander groot versoek, naamlik om die handel vir alle inwoners oop te stel. Die manne aan die hoof van die Kompanjie was nog te vasgevang in die denkbeelde van die 16de eeu, terwyl die burgers hulle op die nuwe denkbeelde van hul tyd beroep het. Hulle wou seggenskap in die bestuur van die land hê en nie langer soos onmondige kinders behandel word nie.

Die burgers het hul stryd voortgesit. Dit is in die loop hiervan dat die eerste eg demokratiese verkiesing in Suid-Afrika op 11 Oktober 1784 plaasgevind het. Dit was om deur die deelnemende “Volks-Stemme” ’n paar mense aan te wys as “’s Volks Representanten”, wat waar nodig, hul saak moes stel. Die stryd teen die heersers was egter tevergeefs, behalwe in een opsig. Twee kommisarisse-generaal, SC Nederburgh en SH Frykenius, wat die Kompanjie van bankrotskap moes probeer red, het die Kaap aangedoen om hervormings en besuinigings te probeer deurvoer. Hulle het oor baie dinge verslag gedoen, soos die klasloosheid van die Afrikanersamelewing. Maar ’n gevolg daarvan was dat die een swieriger en weelderiger as die ander probeer leef het. Hulle het ook gemerk dat die wit mense nie veel van hande-arbeid gehou het nie.

Nederburgh en Frykenius het in 1793 die burgerrade as verteenwoordigers van die inwoners erken. Dit was ’n belangrike oorwinning vir die burgers, die belangrikste sedert dié oor Willem Adriaan van die Stel. ’n Nuwe politieke bedeling kon daaruit gegroei het. Maar voor dit kon gebeur, was die Nederlandse tyd ten einde.