Eerste Afrikaners in die Goudstad

SJ du Toit en die goud van Langlaagte
May 18, 2015
Armoede en ’n arbeidskolonie
May 20, 2015

Een van die min oorspronklike Randse Afrikaners wat ’n groot aandeel in die ontwikkeling van die goudvelde gehad het, was die eiendomsagent en dorpsontwikkelaar Louw Geldenhuys. Saam met sy broer FE het hy in 1886 die plaas Braamfontein gekoop, en sy deel Emmarentia genoem, sy vrou se naam. Later is verskeie woongebiede, ook die Wespark-begraafplaas, hieruit opgemeet en onderverdeel. Ná die Anglo-Boereoorlog was hy so aangegryp deur die lot van sy verarmde mede-Afrikaners dat hy op Braamfontein en Emmarentia aan hulle werk verskaf het. Hulle moes ’n dam bou en vrugtebome versorg. Ook aan die NG Kerk en skole het hy ruimhartig standplase en geld geskenk.

Vir sommige grondbesitters het goud net tydelik rykdom gebring. Die Patriot het sulke boere die raad gegee om met ’n deel van die geld nuwe grond te koop. As ons Afrikaners eers ons grond kwyt is, het die blad op 11 April 1889 geskryf, sal al ons invloed ophou en sal daar “niks meer wees om die Engelse mag te’en te gaan nie”. Dit het later geblyk dat die maklike inkomste uit prospekteergeld, opsies en hoë koopsomme vir meer as een boer verderflik was. ’n Nuwe gees van spoggerigheid en weelde het tot die ondergang van gesiene families gelei.

Verarmde Afrikaners het na die goudveld gestroom om iets te verdien. Daar het hulle in aanraking gekom met ’n nuwe soort lewe. ’n NG proponent JN Martins het in 1887 in De Kerkbode vertel: “Goeie, brawe jongmense (boerseuns) uit die Kolonie en die Vrystaat sien ’n mens saans besope deur die strate waggel. Die oorsaak is dat baie van die jongmense wat hierheen kom – soos dit die gewoonte hier op die Goudvelde is – ’n klein tentjie opslaan van drie voet [1 meter] hoog en sewe of agt voet lank, net om in te slaap en te was. ’n Paar weke lank bly hulle in hierdie tent, maar naderhand kan hulle wat aan goeie huise gewoond is, dit nie langer uithou nie; dit verveel hulle om so eensaam te wees en verder drywe die koue hulle uit om warm huise te gaan opsoek. (Diegene wat met die goudvelde bekend is, weet dat sulke huise hier nie te vind is nie, behalwe hotels.) Aangesien hulle vreemd is, gaan hulle dan maar na die biljartkamers van die hotels, wat hier baie volop is, en sit en kyk hoe daar gespeel word. Dit is die begin van die verleiding.

“Ek het na die biljartkamers gegaan en hulle propvol jongmense aangetref. In die Transvaal Hotel, byvoorbeeld, het ek veertig gesien en een van dié wat aan die spel deelgeneem het, was ’n seun van ’n welbekende ouderling uit die Kolonie.” Meer as die helfte van die huise, eintlik pondokke of hutte, wat ’n biskop in 1886 in die myngebied aangetref het, was gelisensieerde drinklokale.

Proponent Martins, wat op pad was na Barberton, is deur die delwers oorgehaal om hulle te bearbei. Die eerste dienste is in ’n stal van riet gehou. Sy vrou het met Sondagskool begin. Baie kinders het weggevlug en jong mans moes die kinders agter steenoonde en ander wegkruipplekke gaan uithaal. Die strate was nog nie verlig nie en saans het die mense met lanterns kerk toe gegaan. Misdaad was volop en een nag is iemand by die pastorie vermoor.