Eerste Afrikaanse rolprente

Geesdrif en probleme van jeug
January 23, 2015
Nuwe temas vir die poësie
January 23, 2015

Afrikaans het in 1931 sy eerste klankrolprent gekry: Moedertjie, ’n 32-minuut lange verwerking van JFW Grosskopf se eenbedryf In die wagkamer deur Joseph Albrecht en Stephanie Faure. Sy was die dryfkrag vir dié film. Die vervaardiger was African Film Productions (AFP), waarvan IW Schlesinger die oprigter was.

In dié stadium het AFP al heelparty stilprente gemaak. Een van die bekendste was De Voortrekkers, met ’n draaiboek deur Gustav Preller. Twee AFP-direkteure het in Mei 1916 by De Volkstem met hom daaroor kom praat. Die redakteur, FV Engelenburg, het ’n paar maande verlof toegestaan sodat hy aan die prent kon werk. Gelukkig kon Preller goed oor die weg kom met die Britse regisseur, Harold Shaw. Preller het die prent as ’n kans beskou om die Afrikanergeskiedenis “vir die mensdom, en vooral vir ons kinders aanskouwelik te maak”. Aan ’n vriend skryf hy op 12 Junie 1916 verder: “Ons is die eerste, en na ons sal hul dit nie meer doen nie.  Ons gee aan die tienduisende, wat daar aand vir aand in die groot stede in die bioskoop sit, iets te sien, wat hul ’n ander denkbeeld van die Boer sal gee als wat hul nou het.”

Weens ooskuskoors in Natal is die Slag van Bloedrivier by Elsburg naby Germiston verfilm. ’n Kunsmatige rivier is gemaak deur ’n donga uit ’n koppie te skiet. Die verfilming op Sondag 15 Oktober 1916 het byna skeefgeloop. Op ’n teken storm die “Zoeloe-impi” op die “laer” af.  Toe die Zoeloes die “rivier” onderkant die laer deurtrek, het die “Boere” met hul loskruit op hulle losgebrand.  Preller en van die direkteure het hul bes gedoen om met die megafoon die ontydige skietery te staak, maar sonder sukses. Die swartes storm sonder aarseling en vir Preller en Shaw was dit gou duidelik dat die “veldslag” onbeheerbaar raak. Van die swartes en burgers het selfs handgemeen geraak.  Maar gelukkig slaag drie kameramanne daarin om die gebeurtenis van verskillende punte op film vas te lê. In die gedoente is 122 mense beseer en een gedood. Die moordtoneel by Weenen is op 18 November 1916 by Elsburg geskiet. Geen vroue of meisies is in dié tonele gebruik nie, maar mans en seuns in vroueklere.

Die prent is betyds voltooi vir Dingaansfees 1916 op Paardekraal, wat deur 30 000 “Sappe” bygewoon is. Dit is daarna jaar vir jaar vertoon en het ’n geromantiseerde beeld van die Trek help skep. Die meeste Engelse koerante het ewewigtige, opbouende kritiek gelewer, maar De Burger en Ons Vaderland was om veral politieke redes negatief. Laasgenoemde, en ook die NG Kerk, het kritiek gehad omdat die Slag van Bloedrivier op ’n Sondag verfilm is.

’n Volgende groot projek van AFP het ook in verband met die Groot Trek gestaan: die tweetalige They built a nation – Die bou van ’n nasie by geleentheid van die eeufeesherdenking. Weens uiteenlopende gevoelens oor die geskiedenis is die prent egter onttrek. Ná 1945 het AFP ’n hele paar Afrikaanse prente vervaardig soos Geboortegrond, Simon Beyers, Hans-die-Skipper met die beroemde akteur André Huguenet in die hoofrol en komedies soos Hier’s ons weer en Altyd in my drome.