Eerste Afrikaanse koerant

“Vyande” van die volk!
April 25, 2016
Vordering ondanks teëwerking
April 25, 2016

Die eerste nommer van Die Afrikaanse Patriot op 15 Januarie 1876 het begin met die woorde: “Een Afrikaanse koerant! Wie het dit ooit gedroom! Ja, Afrikaanders, een koerant in ons ei’e taal! Dit het baiang moeite gekos om so vêr te kom; dit kan ek julle verseker, want die meeste Afrikaanders is nes steeks pêrde, hulle wil mos nie glo dat ons een ei’e taal het nie. Die ou’e Patriotte hou vas, en klou vas, an die Hollans taal; die jong mense vind die Engelse taal weer so danig mooi, en o’ertui’e gaat net so moeilik, as om steeks pêrde te leer pronk in die voortuig. Ons wil nou met ons “Patriot” an die wereld wys, dat ons wel de’entlik een taal het waarin ons kan sê net wat ons wil.”

Die redakteur doen verder ’n beroep op die lesers om in te teken (teen 5s. per jaar) en om briewe en ander stukke te stuur. “Die grootste gros van ons nasie was tot nog toe so’s doofstomme gereken.” Die meeste Afrikaners het nie soveel Hollands of  Engels geken dat hulle daarin goed kon praat of skrywe nie. Maar nou kan elke Afrikaner skrywe wat hy wil in “syn ei’e taal”. “Nou skryf ons nes ons praat, en seg net wat ons wil. […] Waarom moet ons hart langer die graf wees van ons gedagte? Kom uit! Skrywe julle taal!”

Verder nooi die blad sy lesers uit om gedigte te stuur. “Julle kan nou rym en dig dat dit nie maklik is nie. Jonge Afrikaanders! julle kan mos fluks rym! Stuur julle gedigte, kerels! Stuur mar! Die wat een beter gedig stuur as ons ‘Volkslied’, die kry van ons een pluimpie. En die wat foute maak, dis niks nie, ons sal hom reg help.”

Die Afrikaanse Patriot bevat ook die manifes van die GRA, waarvan toe al ’n duisend afdrukke versprei is. Daarin word gewys op die manier waarop die taal in die parlement, geregshowe en skole afgeskeep word. Veral laasgenoemde is ’n groot onreg. “Want as jy een volk syn taal afneem, dan maak jy hom tot een doofstomme; jy ontneem hom die wysheid van syn voorvaders wat bewaard is in al die spreuke, spreekwoorde, en uitdrukkings, ens. En die ergste is nog, hulle ontneem ons wat hulle ons nooit weer kan ge nie. Want daar is mar één moedertaal, die taal van ons hart.” Die skrywer verwys na die taalstryd elders: Wallis, Pole, Vlaandere, Friesland, Ierland en ander lande, eintlik die hele opkoms van tale in die 19de-eeuse Europa.

Daar is drie soorte Afrikaners, sê die skrywer. “Daar is Afrikaanders met ENGELSE harte. En daar is Afrikaanders met HOLLANSE harte. En dan is daar AFRIKAANDERS MET AFRIKAANSE HARTE. Die laaste noem ons REGTE AFRIKAANDERS, en die veral roep ons op om an ons kant te kom staan.

“En wat gaat ons dan maak?… Regte Afrikaanders, ons roep julle op om same met ons te erken dat die Afrikaanse taal ons moedertaal is wat onse Liewe Heere ver ons gege het; en om same met ons te staan ver ons taal deur dik en dun; en nie te rus nie vóór dat ons taal in alle opsigte algemeen erkend is as die volkstaal van ons land.”