Eerste Afrikaanse gedigte

Vordering ondanks teëwerking
April 25, 2016
Ondersteun die FAK Geskiedenisfonds
April 28, 2016

Die lesers van die Patriot het die blad toegegooi met gedigte; “elkeen wou rijm, van wijle Generaal Piet Joubert af, tot die veewagtertjie in die veld”. “Oom Jan” het gevra: “Wi had kon denk dat Afrika / ooit sofeul digters had?”. ’n Eerste Versameling Afrikaanse gedigte het in 1878 verskyn – ’n versameling uit  die Patriot en die Afrikaanse Almanak. Daarna is ses versamelings uitgegee (oplaag 8750); die laaste van 1906 is in 1987 in faksimilee herdruk. Die gedigte is verdeel in afdelings vir vaderland, moedertaal, “minnedigte”, grappige gedigte, “ferhale”. Party vroeë gedigte was spottend half anti-vrou – en die redakteur het vir die vroue in die bresse getree.

Min van die vroeë gedigte het so deel van die Afrikaanse kultuurgoed geword as die eerste reël van “Fooruitgang”. In die radikale spelling van 1906 lui die eerste deel:

Engels! Engels! alles Engels! Engels wat jy siin en hoor;

In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal fermoor.

Ag hoe word ons folk ferbaster, daartoe werk ons leeraars saam,

Hollans nog in sekere skole: is bedrog, ’n blote naam!

Wi hom ni laat anglisere word geskolde en gesmaad.

Tot in Frystaat en Transfaal al, oweral diselfde kwaad.

“Dis vooruitgang!” roep di skreeuwers, “dis beskawing wat nou kom!”

Di wat dit ni wil gelowe, di is ouderwets en dom.

Die ferbaster in reël 3 slaan op die vermenging van Afrikaans en Engels. Een van die GRA se eerste gedigte was “Di Afrikaans Volkslied” deur A Pannevis, CP Hoogenhout en SJ en DF du Toit. Elke strofe begin met “’n Ider nasi het .. “. ’n Ieder nasie het “syn LAND”, “syn TAAL”, “syn WET”, “syn REG” en “syn TYD” en ten slotte: “Want al di nasiis het één God./ Hy regel ider folk syn lot;/ Hy het fer ider folk syn taal,/ Syn land, syn reg, syn tyd bepaal. /Wi dit ferag sal Syn straf dra./ O God, beskerm Suid-Afrika!”

Ook “Ons toekomstige Folksliid” het bekend gebly:

“Waar Tafelberg begin tot fer in di Transvaal

Woon een ferenig folk, – een algemene taal;

’n Folk foorheen miskend ’n taal foorheen gesmoord,

Maar nou beroemd, ge’eerd, in Oos, Wes, Suid en Noord.”

’n Gediggie wat op die platteland tot betreklik onlangs opgesê is, is die eerste strofe van “Di klaaglidere fan di Transvaler”:  “Di sprinkhane en di droogte / Is swaar nou op ons land, / En wat fan ons moet worde / Is bowe my ferstand.”

Van die gedigte met die fraaiste reëls is “Liid fan di Diamant” wat later deur DJ Opperman op kunstige wyse verkort, aangepas en so gemoderniseer is. Só beskryf die onbekende digter die diamant:

“In Konings hul krone, op dames hul hoof,

Daar blink ek, en word van myn glans ni beroof.

An hande, so mooi en so wit as di sné,

Kan ek ongekende begeerlikhyd gé.

Op flegsels fan dames, met hare so blond,

Daar skyn ek met glans, fan di sterre in d’rond…”