Een en ander uit die Stigtingsjaar van Boksburg (1887)

Die ossewa
April 7, 2017
Die Marie Koopmans-De Wet-huis
April 7, 2017

(Geskryf deur H.M. Rex, soos verskyn in Historia Junior, November 1961)

 Aangesien die datum waarop sekere plase op die Witwatersrand as goudvelde geproklameer is, gewoonlik aanvaar word as die stigtingsdatum van daardie dorpe wat op die betrokke plase ontstaan het, moet Boksburg beskou word as die sesde oudste dorp aan die Rand. Johannesburg se stigtingsdatum word gereken op 4 Oktober 1886, die dag waarop Randjeslaagte as goudveld geproklameer is, terwyl Roodepoort, Hamberg, Florida en Maraisburg hulle stigtingsdatum terugvoer na 11 Oktober 1886, die datum waarop die plase Roodepoort, Vogelstruisfontein en Paardekraal as goudvelde geproklameer is. Waar Boksburg sy stigtingsdatum terugvoer na 21 Maart 1887, kan dit aanspraak maak op die status van die Oosrand se oudste dorp, terwyl dit sesde op die lys van Witwatersrandse dorpe staan met betrekking tot die ontstaansdatums van die verskillende Randse dorpe.

Alhoewel daar alreeds gedurende 1886 bedrywighede in verband met die toekomstige goudontginning op die nabye Oosrand aan die gang was, was dit egter eers gedurende 1887 dat daar van regeringsweë daadwerklike stappe gedoen is waardeur nie alleen sekere plase as goudvelde geproklameer is nie, maar ook die eerste noodsaaklike stappe geneem is met die oog op die stigting van ’n nuwe dorp en die voorsiening van water en goewermentskantore.

Die Uitvoerende Raad het alreeds op 10 Maart 1887 besluit dat die plase Leeuwpoort en Vogelfontein as ’n gedeelte van die Witwatersrandse goudvelde geproklameer sou word, wat dan ook op 21 Maart 1887 gebeur het. Hierdie besluit van die Uitvoerende Raad is op 14 April 1887 opgevolg deur ’n ander besluit wat goedkeuring verleen het vir die opmeting van ’n aantal standplase op die goewermentsplaas Vogelfontein. Gedurende 1887 was daar op die hele Vogelfontein net een enkele klein fontein waaruit die eerste inwoners hulle drinkwater moes skep en dit is heelwaarskynlik dat die naam van die plaas oorspronklik aan daardie fontein ontleen is.

Landmeter FH Rissik het van die regering opdrag ontvang om 2000 standplase op Vogelfontein op te meet, waarmee hy blykbaar in Mei 1887 ’n aanvang gemaak het. Op 14 Mei 1887 skrywe die Mynkommissaris van Johannesburg dat hy die vorige dag op Vogelfontein was en dat landmeter Rissik hom toe meegedeel het dat hy opdrag ontvang het om 2000 standplase vir die nuwe dorp op te meet. Mynkommissaris Eloff was egter van mening dat die koste vir die opmeting miskien tevergeefs sou wees, “daar Johannesburg de Hoofplaats is en zal blyven in dit goudvelden. Zoo dat er op Vogelfontein weinig menschen zullen gaan wonen”. Hy stel dus voor dat die regering voorlopig nie meer as 300 standplase moes opmeet nie, wat syns insiens vir die eerste twee jaar in die behoefte aan erwe sou voorsien. Eloff het verder beklemtoon dat aangesien Rissik op daardie tydstip nog net 200 standplase opgemeet gehad het, kon dit maklik gereël word dat nie meer as 300 erwe opgemeet moes word nie.

Onder andere skrywe Eloff ook dat dit goed sou wees dat die regering dadelik op die nuwe dorp ’n kantoor moes laat bou en ’n goeie dam moes laat maak, anders sou die standplase nie gekoop word nie. Teen die einde van sy brief het Eloff weer ’n keer op die onderwerp van die spoedige bou van ’n kantoor en dam teruggekom: “Het Gouvernement zal dus, om eenige der standplaatsen te doen opnemen dadelyk een kantoor en een dam moeten laten bouwen om het publiek te doen geloven dat die plaats door het Gouvernement gekozen is om later als een dorp te verklaren en om drinkwater voor hen te verzamelen.”

In afwesigheid weens siekte van staatsekretaris Bok, het P.J. Krogh, op versoek van staatspresident Kruger, opdrag gegee dat Rissik in kennis gestel moes word om net 300 standplase in plaas van die oorspronklike 2000 op Vogelfontein op te meet en dat Rissik dan direk daarna na Paardekraal moes vertrek om daar voorlopig ook net 500 standplase op te meet.

Hierdie brief, waarin die staatspresident se opdrag vervat was, het Johann Rissik, die Waarnemende Landmetergeneraal, egter eers op 23 Mei ontvang en op 2 Junie het staatsekretaris Bok opdrag gegee om uit te vind wat gaande was. In die loop van Junie het landmeter Rissik geantwoord dat hy alreeds 1463 standplase opgemeet het en dat die penne aan claiminspekteur Joubert aangetoon en die plan van die standplase aan hom oorhandig is. Hy wys ook daarop dat tot die opmeting van 2000 standplase op Vogelfontein en Paardekraal deur die regering besluit is nadat CJ Joubert, die Hoof van Mynwese die regering in dier voege van advies bedien het, “en ik geloof dat zyn vertrouwen in de toekomst van de Witwatersrand goudvelden juist is”.

Nadat die ruim aantal erwe toe opgemeet is, het daar ’n behoefte aan regeringskantore ontstaan en daarom vra mynkommissaris Jan Eloff van Johannesburg op 25 Julie 1887 van die regering toestemming om ’n voorlopige kantoor op Boksburg te bou vir die Verantwoordelike Klerk en die Posmeester teen ’n bedrag van tussen R1200 en R1400. Hy het ook daarop gewys dat die regering op daardie tydstip “noodeloos hooge huur voor een kantoor te Elsburg” betaal het. Hieruit blyk dit dat Boksburg aanvanklik vanuit Elsburg geadministreer is, terwyl dit uit ’n ander bron bekend is dat die posroete vanaf Johannesburg na Heidelberg ook oor Elsburg geloop het. Eloff het verder die aandag gevestig op die feit dat die oprigting van kantore op Boksburg dadelik die waarde van die standplase sou laat styg, “daar men ziet dat het Gouvernement de plaats kiest voor de Zetel der Verantwoordelyke Klerk, post- en telegraafkantoor”.

Op 27 Julie 1887 antwoord staatsekretaris Bok na wie Boksburg vernoem is — dat aan die Mynkommissaris van Johannesburg en die Spesiale Landdros toestemming verleen word om die gevraagde kantore te bou teen ’n bedrag wat R1200 nie te bowe moes gaan nie, terwyl ook ’n tronk teen hoogstens R400 opgerig moes word. Teen die einde van Augustus was tenders vir die bou van twee ruim kantore en ’n tronk vir die bedrag van R1596 aangeneem en was daar alreeds in die week voor 22 Augustus met die oprigting van die geboue ’n aanvang gemaak, d.w.s. alreeds voor die eerste verkoping van erwe wat op 22 Augustus plaasgevind het. Die tronk is in die middel van die dorp gebou wat later geblyk het ’n fout te wees.

Gedurende Julie 1887 het die Mynkommissaris aan die Staatsekretaris geskrywe dat hy verneem het dat die Boksburgse standplase op 23 Augustus op ’n openbare veiling verkoop sou word. Hy het egter die regering versoek om die verkoping uit te stel totdat daar eers met die bou van die goewermentskantoor begin is, aangesien die bou van kantore die waarde van die standplase aanmerklik sou laat styg. Op 10 Augustus het staatsekretaris Bok egter geantwoord dat aangesien die openbare verkoping van erwe op Boksburg alreeds gepubliseer was en daar intussen ook al opdragte gegee was vir die bou van goewermentsgeboue, die verkoping op die bepaalde datum moes plaasvind, terwyl die insetpryse van die erwe R2 en sommige ander R10 moes wees.

Die eerste verkoping van die Boksburgse standplase het dan ook op 22 Augustus 1887 plaasgevind.

Sodra die goewermentsgeboue gereed gekom het, is die kantoor van die Verantwoordelike Klerk, sowel as die poskantoor vanaf Elsburg na Boksburg oorgeplaas; die poskantoor was vanaf 3 November 1887 op Boksburg gevestig en vanaf die einde van 1887 was die grondslae van die nuwe dorp gelê en kon dit in die jare daarna ontwikkel tot een van die mooiste dorpe van die Oosrand. Die ontwikkeling van Boksburg na 1887 is egter ’n ander verhaal.