Eben Dönges (1898-1968)

CR Swart (1894-1982)
May 13, 2021
Tom Naudé (1889-1969)
May 13, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Dr. Eben Dönges was ’n Suid-Afrikaanse politikus, koerantman en kultuurleier.

Theophilus Ebenhaezer Dönges is op 8 Maart 1898 gebore en het op Kroonstad en Boshof in die Vrystaat skoolgegaan. Hy het in 1915 aan die Hoërskool Robertson gematrikuleer, en die Tahomas Louw-beurs is aan hom toegeken. Hy het aan die Victoria-kollege gestudeer en aktief aan die studentelewe deelgeneem. Hy is ook tot ondervoorsitter van die studenteraad verkies. Hy het die BA- en MA-grade in filosofie in onderskeidelik 1918 en 1919 verwerf, en hoewel hy met die Koningin Victoria-toekenning vir oorsese studie beloon is, het hy nie daarvan gebruik gemaak nie.

In 1920 het hy die registrateur van die Vrystaatse Regterpresident Etienne de Villiers in Bloemfontein geword, en in die regte begin studeer. Hy is die volgende jaar na Engeland waar hy sy LLB-graad met lof aan die Universiteit van Londen behaal het. In 1923 het hy dit met ’n soortgelyke graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) opgevolg, terwyl hy aan die London School of Economics gestudeer het en deur middel van die Middle Temple tot die balie toegelaat is. Hy het in 1923 na Suid-Afrika teruggekeer en in 1925 sy LLD-graad aan die Universiteit van Londen behaal.

Na sy terugkeer na Suid-Afrika het Dönges die redakteur van The South African Nation, die nuwe weekblad van die Nasionale Party (NP) geword en in hierdie posisie aangebly totdat die blad in 1928 ophou bestaan het. Terselfdertyd was hy van 1924 tot 1927 assistent-hoofredakteur van Die Burger.

Benewens sy dubbele redaksionele betrokkenheid is hy in 1924 in Pretoria tot die Transvaalse balie toegelaat en nadat hy sy werk by Die Burger bedank het, is hy in 1927 ook tot die Kaapse balie toegelaat. Van 1929 tot 1939 het hy as deeltydse regsadviseur van die Kaapse Provinsiale Administrasie opgetree, hoewel hy reeds in 1937 tot die Vrystaatse afdeling van die Hooggeregshof toegelaat is. Hy het in 1939 senior advokaat geword en tot 1948 gepraktiseer. Hy was daarby een van enkele Suid-Afrikaners wat ’n saak voor die Geheime Raad in Londen behartig het. Tesame met sy regswerk was hy ’n deeltydse dosent aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die uitleg van wette gedoseer het en in die maatskappyreg gespesialiseer het.

Tydens die politieke samesmelting van genls. JBM Hertzog en Jan Smuts in 1934 het hy dr. DF Malan se leiding gevolg en die NP as kandidaat in die algemene verkiesing in die kiesafdeling van Hoopstad in die Vrystaat verteenwoordig, maar met 402 stemme teen JH Viljoen van die Verenigde Party (VP) verloor. Dönges was betrokke by verskeie aspekte van die politieke woelinge tydens die Tweede Wêreldoorlog en was onder meer lid van ’n kommissie wat aangewys is om onder voorsitterskap van prof. LJ du Plessis op 4 November 1939 bymekaar te kom en ’n konsepgrondwet vir ’n moontlike toekomstige republiek op te stel. In 1941 het genl. Hertzog en min. NC Havenga uit die politiek getree en Dönges het hom in Fauresmith (Havenga se kiesafdeling) verkiesbaar gestel. Hy het die verkiesing gewen, en dit weer in 1943, hierdie keer teen twee kandidate, gedoen. As parlementariër in die opposisiebanke het Dönges vinnig opgang gemaak en hom as die Herenigde Nasionale Party se woordvoerder oor finansies onderskei.

Met die algemene verkiesing van 1948 het Dönges die kiesafdeling van Worcester verower, en hierdie kiesafdeling tot 1967 verteenwoordig. In die referendum van 1960 oor republiekwording het 6 793 uit 10 215 kiesers ten gunste van ’n republiek gestem. Met die bewindsoorname van die NP in 1948 is Dönges as minister van binnelandse sake asook pos- en telekommunikasiewese aangewys; hy het laasgenoemde portefeulje tot 1950 behartig, toe dit met die portefeulje van mynwese vervang is. Daarna was hy minister van binnelandse sake totdat hy in 1958 as minister van finansies aangestel is.

Op 18 November is Dönges as dr. DF Malan se opvolger as NP-leier in Kaapland aangewys. Met die eersteministersverkiesing van 1954 is sy naam as moontlike kandidaat genoem maar hy het nie belanggestel nie en adv. JG Strijdom is verkies. Toe Strijdom in 1958 oorlede is, het hy wel daarin belanggestel om eerste minister te word, maar adv. CR Swart het die eerste stemming gewen maar eindelik teen dr. HF Verwoerd verloor. Na die sluipmoord op Verwoerd op 6 September 1966 het Dönges ’n week lank as eerste minister waargeneem, maar adv. BJ Vorster is verkies.

Met die uittrede van adv. CR Swart as staatspresident het die NP-koukus Dönges aangewys en op 23 Februarie 1967 het die parlementêre kieskollege hom as staatspresident verkies. Op 11 Mei 1967 het hy egter bloeding op die brein opgedoen, wat gemaak het dat hy nie, soos beplan, op 31 Mei 1967 ingehuldig kon word nie. Op 10 Junie 1967 is ’n delikate breinoperasie op hom uitgevoer en sy toestand het verbeter. Op 3 Oktober 1967 het hy egter ’n beroerte gekry, en was so swak dat sy regsverteenwoordiger namens hom sy bedanking as aangewese staatspresident moes indien.

Hy het hom deurentyd beywer vir die Afrikanersaak, en op politieke, kulturele en ekonomiese gebied leiding gegee in die opheffing van sy volk. Hy het ’n prominente rol in die Afrikaner-Broederbond en die FAK gespeel en in die 1940’s ondervoorsitter van albei organisasies geword. Hy was ook in 1948 ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede (SABRA) en vanaf 1963 erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Van 1965 tot sy dood was hy kanselier van die Universiteit van Stellenbosch.

Hy is op 10 Januarie 1968 in die ouderdom van 69 jaar oorlede en vyf dae later met volle militêre eerbewys uit die Groote Kerk in Kaapstad, waar hy as ouderling en diaken gedien het, begrawe. Die primêre skool in Bothaville in die Vrystaat en die hoërskool in Kraaifontein in Kaapstad, asook ’n Voortrekkerkommando in Benoni is na Dönges vernoem.