Droomvrou
Januarie 10, 2019
Familie, feestyd en … films!
Januarie 11, 2019

Sekere liedjies
is onlosmaaklik deel van ’n kunstenaar se loopbaan en dit word so gewild dat ’n
mens vergeet dat hy of sy ook ander treffers gehad het.

Toe Lucas Maree
se derde album, Miljoen, in 1992
verskyn het, was die titelsnit die een liedjie wat die meeste radiolugtyd gekry
het en ook die meeste in aanvraag by sy konserte was. Die sentrale tema was die
soeke na dinge wat lyk asof dit buite sommige mense se bereik is. Snitte soos “Die
arend”, wat oor die strewe na “Vryheid” gaan, en “Nog een koppie koffie”,
waarin hy gesing het van die behoefte om saam met iemand te kuier, het mense se
behoeftes goed verwoord, maar daar was een snit wat, naas “Miljoen”, kop en
skouers bo die res uitgestaan het.

“Droomvrou” was
die een snit naas “Miljoen” wat ’n groot treffer geword het, tot so ’n mate dat
dit deur verskeie kunstenaars opgeneem is en nou nog gewild bly. Naas Mathys
Roets is die een kunstenaar wat sukses op radiostasies se trefferslyste behaal
het, die voormalige Idols-finalis Jacques Terre’Blanche. Jacques is eintlik
Engelssprekend, maar hierdie liedjie is een van minstens twee wat hy tot dusver
in Afrikaans opgeneem het en dit was só gewild dat dit die eerste plek op Groot
FM se Groot 20-trefferslys behaal het.

Lucas se pad het
dié van Koos du Plessis gekruis toe hulle albei by die destydse koerant Oggendblad in Pretoria gewerk het. Koos
was ’n subredakteur in die nagkantoor en Lucas was ’n fotograaf. Lucas is op 22
Julie 1952 in Johannesburg gebore. Hy het sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool
Danie Malan in Pretoria-Noord voltooi en matriek aan die Hoërskool Langenhoven,
ook in Pretoria, geskryf. Lucas het begin deur Engels te sing, maar in 1981
begin om Afrikaanse musiek te skryf. Dit het gebeur nadat hy onder ’n vriend se
invloed by ’n huiskonsert van Jannie du Toit uitgekom het. Hy het Coenie de
Villiers daar hoor sing, en hy, Jannie en Coenie het baie goeie vriende geword.
Nadat Koos du Plessis in 1984 in ’n motorongeluk oorlede is, is Lucas as sy
natuurlike opvolger beskou, veral nadat sy debuutalbum, Kiekies, die volgende jaar verskyn het. Benewens die titelsnit het “Victoriabaai”,
waarin hy oor sy ma se dood gesing het, ’n treffer geword. Die Kiekies-konsert
het daarna gevolg, met die nuwe treffesnit “Die weduwee se kruik”. Lucas het
ook betrokke geraak by Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek, wat een album, Winde van verandering, opgelewer het,
maar Lucas het nie van die politieke strekking van die album gehou nie hoewel
hy wel die snit “Jerigo se mure” geskryf het. Een van Lucas se mees omstrede
projekte was “Blouberg”, waarop hy nuwe woorde vir veral ou FAK-liedjies
geskryf het. Daar was mense wat hom hieroor gekritiseer het, maar die album was
nogal gewild. In 2008 het Lucas ’n DVD, wat ook op Blu Ray uitgereik is, vrygestel,
waarop kollegas soos Jannie du Toit, Christa Steyn, André Swiegers, Coenie de
Villiers en Mathys Roets saam met hom opgetree het.

Nadat dit bekend
geword het dat kanker by Lucas gediagnoseer is, het Alexa Strachan in
samewerking met die tydskrif Sarie,
asook Mathys Roets en Mathys Maree aan ’n projek gewerk waarop verskeie
kunstenaars hulde aan Lucas gebring het. Onder die kunstenaars wat op die album
Een uit ’n miljoen vir Lucas opgetree
het, was Kurt Darren, Steve Hofmeyr, Richard van der Westhuizen, Lochner de
Kock, Laurinda Hofmeyr en Jannie du Toit. Lucas is op 18 Februarie 2011
oorlede.

The post Droomvrou appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico