Die Vrouemonument
April 11, 2017
Kommandant Piet Uys
April 11, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1966)

Daar is seker nie ’n kind in ons land wat nog nie van ’n Voortrekker of Boy Scouts gehoor het nie. Sir Baden-Powell was die groot leier van Boy Scouts, maar dr. NJ van der Merwe was die groot leier van die Voortrekkerbeweging.

Op 17 Februarie 1888 het daar ’n groot gebeurtenis plaasgevind by ’n huis in Senekal. Nicolaas Johannes van der Merwe is toe gebore. Hy het ses susters gehad en hulle was baie bly om ’n boetie by te kry. Niemand het toe gedink dat hy nog eendag ’n beroemde man gaan word nie.

Toe Nico, soos hulle hom genoem het, nog maar vier jaar oud was, het hy al kleuterskool toe gegaan. Eendag, toe ’n klomp kinders op skool gehou is, was Nico ook tussen hulle. Daarvan het hy niks gehou nie.

Soos alle seuns was hy baie liewer vir speel as vir skoolgaan. Hy was ook gou die leier van ’n bende seuns. Daardie dae was daar nog nie Voortrekkers nie, anders was hulle seker almal Voortrekkers. Sy jongste suster moes maar baiemaal sy huiswerk doen, as hy te laat by sy maats gespeel het. Dit was dan ook sy suster vir wie hy die liefste was.

Sy moeder was baie lief vir hom en sy het dikwels gesê, dat hy vir haar net soos die seuntjie Samuel in die Bybel is, en dat hy eendag ’n predikant moet word. Hy was baie lief vir die mooi dinge in die natuur. Hy was lief vir die veld, die plante en die voëls.

Toe hy maar elf jaar oud was, het die Driejarige Vryheidsoorlog tussen die Boere en die Engelse uitgebreek. ’n Veldkornet het na hulle plaas gekom om sy pa op te kommandeer om te gaan veg. Daardie dag het die klein Nico van elf jaar hard gepleit dat hulle hom ook moes opkommandeer om vir sy land te gaan veg. Hy het vir die veldkornet vertel dat hy al ‘n springbok op vierhonderd treë geskiet het, en dat hy sommer baie goed kan perdry. Eers later was hy getroos toe hulle hom vertel dat as hy ook gaan, sal daar niemand op die plaas wees om sy moeder en susters te versorg nie.

Na die oorlog drie maande aan die gang was, het hulle dorp toe getrek, sodat hulle kon skoolgaan.

Daar op die dorp het hy vir hom ’n groot voëlhok gebou. Van alle soorte voëls wat hy gevang het, was in daardie hok. Hy kon naderhand die gefluit van die voëltjies baie goed namaak. Sy ma het nooit daarvan gehou dat hy die voëltjies vang en in ’n hok opsluit nie. Sy het altyd vir hom vertel dat hulle net so graag soos die Boere vry wou wees. Dan sê hy vir haar sy moet luister hoe mooi sing hulle en dat as hulle nie gelukkig is nie, sal hulle nie so mooi sing nie. Toe sy moeder eendag vir hom sê sy wonder of dit nie dalk ’n treursang is nie, het hy besluit om hulle te laat gaan. Hy het die hok oopgemaak en die veld ingestap.

Toe hy terugkom was net ’n ou siek voëltjie nog in die hok. Toe het klein Nico geweet dat selfs die voëls lief vir hulle vryheid is. Op die dorp het hulle naderhand baie swaar gekry. Hulle het nie geld gehad nie en hulle kon nie genoeg kos koop nie.

Eendag was daar ’n groot geveg tussen die Boere en die Engelse. Die Engelse wat ’n rukkie tevore die dorp ingeneem het, het besluit om weg te gaan. Al die mense in die dorp moes toe ook gaan. Nico se mammie en nog ’n paar gesinne het besluit om te bly. Na almal weg was, kom Nico steun-steun by die huisie aan met ’n sakkie meel op sy rug. Elke slag verdwyn hy en bring nog kos. Toe alles daar staan, vertel hy hulle waar hy dit gekry het.

Die dag met die groot geveg het ’n Skot vir hom water gevra. Die dag voor die troepe weg is, het die man vir hom kom sê dat hy in ’n sekere huisie kos sal laat staan. As hulle weg is, moet Nico dit gaan haal. Daar was trane in Nico se mammie se oë oor die goeie daad van die vyand.

Nico en ’n seuntjie van elf jaar, met die naam Sampie, was feitlik die enigste mans wat nou op die dorpie was. Nico het toe die naam van Burgemeester van die dorp gekry. Hulle het nie op hulle laat wag nie. Vroeg die volgende môre is hulle die veld in. Hulle wou gaan kyk of daar nie koeie agtergebly het nie. ’n Hele ent van die dorp af het hulle ’n paar perde en drie koeie met kalwers gekry. Gou het hulle geleer melk, en toe was daar genoeg melk vir almal. Op allerhande maniere het die twee seuns planne gemaak om kos in die hande te kry. Hulle het naderhand ’n ou wa en ’n paar osse in die hande gekry. Daarmee het hulle op ’n plaas gaan koring haal. Hulle kon toe weer brood eet. ’n Ou naturel het eendag met ’n klompie skape daar aangekom en toe was daar genoeg vleis.

Toe kom die dag wat hulle almal na die konsentrasiekamp moes gaan. Die kamp was by Norvalspont. Daar aangekom, het klein Nico dadelik aan die werk gespring om dit vir sy mammie so gerieflik moontlik te maak. Hy het self die muurtjie om die tent gebou, sodat die water en die koue nie onder die tent deur moet kom nie. Hy het vir sy mammie ’n stoof gebou, gesorg vir brandhout en die lewe vir haar so maklik moontlik gemaak.

In die kamp moes hy ook skoolgaan. Partymaal moes hyself skoolhou. Eendag het daar ’n Skoolinspekteur gekom. Hy was so tevrede met Nico, dat hulle hom ’n beurs gegee het, om na Grey Kollege-skool in Bloemfontein te gaan.

Hy het fluks geleer. Later is hy na die Universiteit waar hy ’n BA-graad gekry het. Hy was ’n goeie voetbalspeler en ook ’n goeie krieketspeler.

Later het hy predikant geword en hy het ook ’n doktorsgraad gekry. Nadat hy ’n ruk predikant was, het hy Volksraadslid geword. Hier het hy net sulke goeie werk gedoen.

Sy groot werk het egter gekom toe die Voortrekkerbeweging gestig is. Vir baie jare het dit maar sukkel-sukkel gegaan om die Voortrekkerbeweging aan die gang te kry.

Toe raak dr. Van der Merwe geïnteresseerd in die beweging. Die “Boy Scouts” het toe lankal bestaan. Met hart en siel het dr. NJ, soos hulle hom genoem het, begin werk. Hy is gekies as hoofleier. So goed het hy gelei dat die beweging vinnig gegroei het. Dwarsdeur die land is Voortrekkers ingelyf. Duisende jong Afrikaanse seuns en dogters, het aangesluit. Uniforms en kentekens is gekry. Die datum 30 September 1931 moet onthou word. Op die datum is die Voortrekkerbeweging gestig. Hulle leuse was “Hou koers”.

Vir die volgende nege jaar het dr. NJ groot werk vir die Voortrekkers gedoen. In 1940 besluit die offisiere om aan dr. Van der Merwe die grootste eer van die Voortrekkers te gee, nl. die orde van die Afrikaneros. Voor hulle dit egter aan hom kon oorhandig, het hy skielik siek geword en die volgende dag is hy oorlede. Sy begrafnis was een van die grootste begrafnisse wat nog ooit in Bloemfontein plaasgevind het. Duisende Voortrekkers het van oral gekom om die laaste eer te bewys. Die hele dag het hulle om sy kis waggestaan. ‘’n Span Voortrekkers het die waentjie waarop sy kis was, getrek na sy laaste rusplek. Op 11 Augustus 194O is hy oorlede. Hy was maar 52 jaar oud.