Die hartoorplanting
April 14, 2017
Hoe Suid-Afrika bedreig word
April 14, 2017

hjhjh

(Geskryf deur PG van Wyk, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1966)

Baie maal as ’n mens ’n klein seuntjie so sien speel met sy maats, dan besef jy nie dat daardie seuntjie miskien nog eendag ’n beroemde man gaan word nie.

So ’n seun was Hendrik van der Bijl. Sy pa was maar voorman op ’n druiweplaas.

Hy was egter ’n man wat nie stilgesit het nie. Hy koop toe vir hom ’n wa en osse en word ’n transportryer in die Paarl. Hy het gou baie geld gemaak en toe vir hom ’n hotel in die Vrystaatse dorpie Boshof gekoop. Daarna is hy Pretoria toe. Sy pa het hier gou ’n ryk man geword. Hier in Pretoria is klein Hendrik Johannes gebore.

Sy pa is later terug na die Kaapkolonie. Daar het klein Hendrik skool gegaan en heerlik met sy maats gespeel. Sommer gou-gou het hy getoon dat hy ’n slimkop is. Hy was eers in die Franschhoekse Laerskool vir seuns en later na die Victoria Kollege op Stellenbosch. Daar was nie juis studente wat so slim soos hy was nie.

Later het hy selfs in Duitsland gaan studeer en daar sy doktorsgraad behaal. Van elektrisiteit het Hendrik sommer baie geweet, selfs meer as die mense wat hom moes leer. Toe die Amerikaners van die slim man hoor, het hulle hom uitgenooi na Amerika toe. Daar kon hy na hartelus in hulle pragtige laboratoriums werk. Hy het daar 7 jaar gewerk, vanaf 1913-20. Hy het baie gedoen om die radio en die telefoon te verbeter.

Toe dr. Hendrik van der Bijl so beroemd word, het ons hier in ons land besluit ons moet hom terug kry na sy vaderland. Generaal Smuts was toe eerste minister en hy het hom omgepraat om na sy land terug te kom.

Toe hy hier kom, het hy dadelik aan die werk gespring om elektrisiteit goedkoop te vervaardig. Vandag ken almal die naam Evkom. In Johannesburg is ’n groot gebou met die naam Evkom. Dit is die hoofkwartiere wat ’n groot deel van ons land se elektrisiteit beheer.

Dit is egter nie al wat hy vir ons land gedoen het nie. Dr. Van der Bijl het besef dat ons land nie sonder sy eie yster en staal kan klaarkom nie. Mense het vir hom gelag en party was kwaad. Hulle het gedink ons land kan nie sy eie staal maak nie. Dr. Van der Bijl het hom nie hieraan gesteur nie. So het Yskor tot stand gekom. Vandag kan ons omtrent enige ding in die land self maak. Ons voer nog na ander lande uit.

’n Groot dorp met die naam Vanderbijlpark is vernoem na hierdie man wat so baie vir die land gedoen het. Duisende mense werk vandag by Evkom en Yskor en ander fabrieke wat ons aan hom te danke het.

Hy het egter nie net gewerk nie. Hy het geweer ’n mens moet oefening ook kry om ’n gesonde liggaam te hê. Tweemaal per week het hy gereeld gholf gespeel.

Toe hy 60 jaar oud was en kon terugkyk op ’n lewe waarin hy sommer baie vir sy vaderland gedoen het, het hy skielik siek geword. Dokters kon niks vir hom doen nie, want hy het aan daardie gevreesde siekte, kanker, gely.

Binne ses maande was hy dood. Die dag toe hy begrawe is, het al die fabrieke vir ’n klein rukkie  gaan staan, om eer aan hom te bewys.

So lank as wat ons aan Evkom en Yskor dink, sal dr. Hendrik van der Bijl se naam voortleef.