Lisa se klavier
September 17, 2018
Kultuurerfenis op Noblesfontein
September 17, 2018

Verlede jaar op 17 Maart was dit 100 jaar gelede dat Frans Vredenrijk Engelenburg sy eerste lig in die skilderagtige stad Arnhem, Nederland, aanskou het. Op merkwaardige wyse was hierdie uitsonderlik begaafde Hollander bestem om sy lot heelhartig met die Afrikaners in te werp en sy talente en kennis op velerlei gebiede ten bate van sy aangenome vaderland in te span. Van hom kan gesê word dat hy gekom het om te dien en te gee.

As toonaangewende koerantman, regsgeleerde, kultuurbevorderaar en wyse raadsman oor ’n tydperk van bykans ’n halwe eeu, was hy o.m. steunpilaar van president Kruger, voorspraak vir die Republieke, kampvegter vir Afrikaans, stigterslid van die Afrikaanse Taalgenootskap (in 1905), medestigter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns (in 1909) waarvan hy lewenslange lid en weldoener en jarelank voorsitter was, stigter en voorsitter van die raad van die Transvaalse Universiteitskollege (tans die Universiteit Pretoria), lid van die beheerraad van die Staatsbiblioteek, Pretoria, lid van die Argiewekommissie, die Historiese Monumentekommissie, die Sentrale Monumentekommissie, die Kuratorium van die Johannesburgse Museum, e.s.m., asmede weldoener en raadgewer op talle ander terreine. Hy het menige jong kunstenaar, skrywer, argitek en ander aangemoedig en daadwerklik gehelp en hom verder daarop toegelê om die publiek se kennis en waardering van die kunste en hul eie geskiedenis aan te wakker.

Foto: Die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns (tans die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns) verskyn op hierdie geskiedkundige foto. Agter v.l.n.r. staan prof. N.J. Brummer, adv. (later hoofregter) N.J. de Wet, dr. E.G. Jansen (later Goewerneur-generaal), ds. J.D. Kestell, Gustav S. Preller, genl. J.B.M. Hertzog, later Eerste Minister, dr. F.V. Engelenburg, die digter J.F.E. Celliers, prof. A. Francken en adv. (later senator) F.S. Malan. In die middel: prof. G. Kolbe, president M.T. Steyn en dr. D.S. Botha. In die voorste ry: dr. D.F. Malan, (later Eerste Minister), ds. H.D. van Broekhuizen, dr. N.M. Hoogenhout en J.S.M. Rabie.

“Die tyd sal nog uitwys hoeveel ons aan hom te danke het,” het mnr. H.C. de Kock, ’n jarelange kollega van dr. Engelenburg na sy dood geskryf. “Vandag is dit nog onmoontlik omdat die meeste van wat hy bygedra het, nog gehul is in die sluier wat sy eie beskeidenheid en afkerigheid van publisiteit daaroor geplaas het. Sy wydvertakte belangstelling het sowat elke gebied van die openbare lewe ingesluit … In al hierdie dinge het hy nooit homself gesoek nie maar steeds die goeie saak voorop gestel.”

Tog lyk dit of dr. Engelenburg vandag een van ons vergete figure geword het, want met die oog op sy groot dienste aan Suid-Afrika doen dit vreemd aan dat sy honderdste geboortedag in 1963 feitlik ongemerk verbygegaan het en nie een van die vele inrigtings wat hy so lank vrywillig gedien het, met ’n huldeblyk aan sy nagedagtenis te voorskyn gekom het nie.

Dit was skryfster se voorreg om nog voor haar oorlye verlede jaar ’n onderhoud te voer met mev. L. Liesching wat dr. Engelenburg intiem geken het en heelwat interessante staaltjies omtrent hom kon meedeel. Sy het hom die laaste jare van sy lewe in haar hoedanigheid as pleegsuster en masseuse bygestaan en tegelykertyd sy huishouding in ’n mate waargeneem. Na sy afsterwe in 1938 was sy twintig jaar lank kuratrise van sy pragwoning “Het Witte Huis” (tans bekend as Engelenburghuis) wat as museum ingerig is en later die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sou word.

Dr. Engelenburg se vader was ’n Nederlandse regsgeleerde, meester Frans T.V. Engelenburg. Sy moeder, Anna Maria Koopmans, was ’n suster van die man van die bekende Marie Koopmans-de Wet van Kaapstad, wie se woning vandag ook ’n nasionale monument en museum is. Die De Wets en Koopmans was bekende Bolandse families en dr. Engelenburg sou later altyd besondere waarde aan die verskillende wapens van sy familie heg.

Foto: Portret van dr. Engelenburg in 1922 deur A.E. Gyngell geskilder.

In Nederland het die Engelenburgs op verskeie plekke gewoon maar later weer na Arnhem teruggekeer. Op 24-jarige leeftyd het die jong Frans aan die Leidse Universiteit in die regte gepromoveer en was tot 1889 advokaat in s’Gravenhage. In dié tyd was hy ook joernalis in Holland en korrespondent vir blaaie in Parys. Sy kennis van Frans was onberispelik en hy was verder nog vier Europese tale magtig.

Mev. Liesching vertel dat dr. Engelenburg met sy fyn sin vir die komiese dit altyd prettig gevind het dat ’n sekere tante van hom in Nederland onthuts was dat hy hom aan die “vernederende” beroep van joernalis kon wy. Toe hy haar op ’n slag gaan besoek het, het sy geweier om hom te ontvang met die boodskap: “Daar is nie joernaliste in die Engelenburg-geslag nie.”

Op aandrang van sy tante, Marie Koopmans de Wet, het hy in 1889 Suid-Afrika besoek. Die geld vir die reis moes hy van sy vader leen. Toe hy die wens uitspreek om hom hier te vestig, het sy hom aangeraai om na die jong ontluikende Zuid-Afrikaansche Republiek te emigreer en hom ’n voorstellingsbrief aan ’n regter in Johannesburg, asmede een aan president Kruger, gegee.

Sy reis na die goudvelde is per trein en poskoets afgelê. Al gou het hy hom feitlik aan ’n advokatesaak in Johannesburg verbind. Maar sy lotsbestemming sou hom in heel ’n ander rigting voer. Toe hy die regter, sy tante se vriend, opsoek, het hy die besliste raad ontvang om hom liewer van die besondere saak te onttrek terwyl daar nog kans was en hom in Pretoria te vestig. Hier moes hy die tyd ook eers ledig verwyl omdat daar volgens wet drie maande moes verloop voordat hy tot die balie kon toetree. Gedurende dié tyd het die voorval plaasgevind wat aanleiding tot sy toetrede tot die Suid-Afrikaanse joernalistiek sou wees. Mev. Liesching werp meer lig daarop.

Op ’n dag was dr. Engelenburg in die Pretoria-klub toe twee manne binnekom en hy van hul bekommerde gesprek kon aflei dat hulle in ’n penarie is i.v.m. die uitgee van die koerant De Volksstem. Een van hulle was die bestuurder van die Nederlandse Bank wat die onderneming se geldsake moes behartig na die skielike afsterwe (deur selfmoord) van die redakteur, mnr. Jonker. Die onmiddellike probleem was dat hoewel die volgende uitgawe reeds feitlik klaar geset was, die hoofartikel nog ontbreek het.

Met kenmerkende swier het dr. Engelenburg opgestaan, hom met ’n galante buiging tot die twee manne gewend en gesê: “Gaan u gerus maar die middagete geniet – ek sal intussen die artikel vir u skryf”. Toe hulle terugkeer, het dr. Engelenburg ’n artikel (oor die juriestelsel) gereed gehad. Hy is gevra om meer artikels te lewer en uiteindelik het hy toegestem om redakteur te word – teen ’n vergoeding van R50 per maand.

So, oënskynlik per toeval, het sy loopbaan as koerantredakteur ’n aanvang geneem wat, met slegs die noodwendige onderbreking tydens die Tweede Vryheidsoorlog, tot in 1924 sou voortduur, toe hy deur sy jarelange assistent, Gustav Preller, opgevolg is. Die eerste redakteur van die blad – voor Jonker – was J.F. Celliers, vader van die digter Jan Celliers. Later sou dr. Engelenburg eienaar van die blad word en was tot sy oorlye in 1938 ’n direkteur.

Met sy kennis van wêreldsake en die internasionale reg, sy wydbelesenheid, sy kennis van vreemde tale, volkere en lande, sy grondige kultuuragtergrond, sy liefde vir die kunste, sy uitsonderlike skryftalent en deursig in sake, sy groot en vinnige werkvermoë, fyn maniere, diplomatiese en hoflike optrede, asmede ’n ingebore beskeidenheid, het dr. Engelenburg hom dadelik as koerantredakteur en man van betekenis onderskei, sodat hy sy lewe lank ’n belangrike en toonaangewende rol in sy aangenome vaderland sou speel. Hoewel hy by verskeie geleenthede genader is om tot die diplomatieke diens en later tot die Volksraad of Senaat toe te tree, het hy steeds geweier en verkies om vanagter sy skryftafel en agter die skerms vir sy volk te werk.

Vir Pretoria het hy ’n groot liefde onwikkel. Sy galante maniere, deftige drag, onbevange uitkyk op sake, asmede sommige uitheemse idees en eksentrieke gewoontes was deel van sy kleurvolle persoonlikheid wat hom die stempel van ’n wêreldburger gegee het. Tog het hy hom op merkwaardige wyse by die republikeinse strewe van die Boererepublieke aangepas. Hy het hom heelhartig aan die kant van Paul Kruger geskaar vir wie hy ’n kragtige en welsprekende voorspraak en gewaardeerde vertroueling geword het. Reeds met die presidentsverkiesing kort na sy aankoms het hy as werkende lid tot die Kruger-verkiesingskomitee toegetree, met soveel geesdrif dat hy ’n persoon aan die opposisiekant weens beledigende aanmerkings op eg Europees-ridderlike wyse tot ’n tweegeveg uitgedaag het – egter teen die wette van die Republiek! Dit het hom ’n geregtelike aanklag op die hals gehaal. Hy het ook aan verskeie Kafferoorloë deelgeneem en gelyktydig as korrespondent van sy blad opgetree.

“Van die moment dat hy in Pretoria ’n vaste werkkring gevind het, het hy sy tyd, sy kragte, sy kragte, sy omvangryke kennis en al sy talente gewy aan Suid-Afrika en die belange van die volk. In sy werksaamhede het hy daardie aangename persoonlikheid, die fyn maniere van die gebore ‘gentleman’ en die karakteristieke hoflikheid jeens hooggeplaatste sowel as die nederigste huurling te pas gebring, eienskappe wat van hom ’n vriend van almal gemaak het. Sy wêreldkennis, sy mensekennis en sy wye beskouinge het hom ’n waardevolle aanwins gemaak vir ’n jong gemeenskap, wat in menige opsig behoefte gevoel het aan die soort leiding wat hy kon gee … Hy het sy taak ernstig opgeneem en daardie erns ten opsigte van sy verpligtinge jeens sy nuwe vaderland het hom tot die einde bygebly.”

Dr. Engelenburg het hom nie soos so baie ander joernaliste deur sy beroep of enigiets anders Iaat inperk nie. Daarvoor was sy persoonlikheid te dinamies, sy belange te wyd, sy talente te talryk. Eintlik was hy in die eerste plek kultuurmens, ’n kenner en liefhebber van die kunste: die skilder- en beeldhoukuns, toegepaste kuns en kunshandwerk, die letterkunde, musiek en met verder ’n wye belangstelling in die geskiedenis, oudhede, die toneel, onderwys, boukunde, stadsaanleg, monumente e.s.m. Voeg hierby sy uitsonderlike skryftalent en grondige regskennis, dan was dit van so ’n man te wagte dat daar van hom ’n kragtige invloed sou uitgaan, in sy beroep as joernalis, maar ook in kultuur- en opvoedkundige sake en op staatkundige gebied.

Foto: ’n Veldtog-edisie van De Volksstem, gedateer 27 Oktober 1899, wat die berigte te velde van dr. Engelenburg opgeneem het. (Staatsargief, Pretoria)

Met die uitbreek van die oorlog in 1899 was dr. Engelenburg dadelik onder die wapen en op die voorpunt van die kommando’s wat Natal binnegetrek het. Hy het terselfdertyd ook oorlogsberigte vir die Volksstem en oorsese koerante geskryf en was die eerste om van Boerekant die gevegte by Elandslaagte en Colenso die wêreld in te stuur. Sy koerant het ook spesiale uitgawes uitgegee, bekend as Veldtogedisies, waarin volledige verslae van die gebeure deur dr. Engelenburg verskyn het. Van hierdie uitgawes is in die Staatsargief te sien, o.m. ’n reeks van 12 oor die Slag van Elandslaagte.

Al gou het dr. Engelenburg toestemming ontvang om op die oorlogsfront ook ’n velduitgawe van sy blad uit te gee. Volksstem te Velde. Hierin het hy sy mede-burgers op hoogte van die oorlogsgebeure gehou.

Trouens, reeds voor die oorlog het hy al ’n pro-Boer weekblaadjie in Frans uitgegee, La Semaine, waarin hy die republieke se saak gestel en verdedig het.

Toe dit duidelik word dat Pretoria in gevaar verkeer, het dr. Engelenburg hom na die hoofstad teruggehaas en is in sy kantoor deur die Britte gearresteer en in baie vuil omstandighede aangehou. ’n Paar dae later is hy op parool vrygelaat. Dit val hom toe binne dat daar in sy kantoor dokumente is “wat veral pres. Kruger ongaarne in die hande van die vyand sou sien raak”, vertel mnr. De Kock. “Hy het gou ’n plan bedink. Hy haal sy allerdeftigste klere te voorskyn, manelpak en pluishoed, speld alle denkbare medaljes, ordetekens, ens. wat hy besit aan, klim in sy rytuig en ry reëlreg na die Volksstem-kantoor in Pretoriusstraat. Die gebou is gesluit en daar staan ’n militêre wag voor die deur. Deftig maar kalm stap dr. Engelenburg uit die rytuig, gaan reguit na die voordeur, groet die wag met ’n effens neerbuigende ‘good morning’ en terwyl laasgenoemde, denkende dat hy met ’n deur die nuwe gesag erkende hoogwaardigheidsbekleër te doen het, die geweer presenteer, sluit dr. Engelenburg met sy eie sleutel die voordeur oop.”

Foto: Die jarelange redakteur en eienaar van Die Volkstem en ’n klompie van sy redaksielede: v.l.n.r.: Gustav Preller, assistent-redakteur, Frederik Rompel, dr. F.V. Engelenburg, J.P. la Grange Lombard en Adam Boshoff (Met dank aan mnr. Orban, van Wallachs-drukkery, Pretoria).

So kon hy die waardevolle dokumente uit die vyand se hande red. Ook net betyds, want die owerheid het hom kennis gegee dat hy na Stellenbosch moes vertrek. Hy en sy vennoot, mnr. Izaak Wallach, het besluit om liewer na Europa te vertrek, waartoe die goewerneur, genl. Maxwell, toegestem het. Meer besonderhede oor hierdie gebeurtenisvolle tydperk is te lees in Die Volmaakte Gentleman, in 1945 (ook in Engels) uitgegee deur mnr. I. Wallach, met bydraes deur mnr. H.C. de Kock en dr. C.L. Leipoldt.

Kortliks kom dit daarop neer dat hulle al dadelik onder vyandiggesinde omstandighede moes reis en in Kaapstad moes bly. Op Madeira het nuusberigte uit Engeland hulle laat besluit om liewer nie daarheen te gaan nie. Uiteindelik het hulle in Portugal beland. Hier en in Spanje het dr. Engelenburg hom onledig gehou met die skryf van ’n boek in Frans oor die Spaanse en Portugese kuns, wat hy later aan ’n Belgiese uitgewer verkoop het. Vandaar het hulle hul weg na Nederland gebaan waar dr. Engelenburg die gesant van die Republiek, dr. W.J. Leyds, vrywillig op velerlei Wyse bygestaan het.

Na die oorlog is hy eers na sy vriend toegelaat om na Transvaal terug te keer. Eugène Marais se blad Land en Volk was toe reeds deur Gustav Preller se arbeid sedert 2 September 1902 terug in sirkulasie. Dit was ’n tydperk van armoede, ellende en neerslagtigheid onder ’n streng Britse militêre bewind. Dr. Engelenburg het sy taak te midde van die puinhope van ’n verpletterende oorlog met kenmerkende werkkrag hervat. De Volksstem (later Die Volkstem) het met Land en Volk verenig en Preller het assistent-redakteur geword.

Die bydrae van hierdie tweemanskap sou op sowel politieke as taalkundige en kulturele gebied verreikende gevolge hê. Trouens waar dr. Engelenburg se bydrae voor die oorlog reeds enorm was, wag sy werk van opbou en aanmoedig na die verlore stryd nog veel belangriker.

Uit hierdie tydperk stam sy vriendskap met genl. Louis Botha vir wie hy net so lojaal ondersteun het as vir president Kruger. Hy het meegedoen aan die stigting van die Het Volk-party en hom vir die verkryging van selfbestuur en later vir unifikasie beywer. Sy rol in die politiek was egter altyd as invloedryke en kundige raadgewer en hy wou nooit op die voorgrond tree nie. Hy het ’n getroue ondersteuner van genl. Botha gebly en is in 1919 weens sy kennis van tale tot lid van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Vredeskonferensie in Versailles benoem.

“By Versailles,” skryf Louis Leipoldt, “het hy besef hoe sleg die vredestraktaat die wêreld sou harmoniseer en hy het met besorgdheid die toekoms van Europa tegemoet gesien. Toe Hitlerisme ontstaan het, was hy onder die eerstes om die gevare te besef en toe dit duidelik word dat dit gebaseer was op wreedheid en onderdrukking, het sy fyngevoelige, skoonheidsoekende natuur daarteen in opstand gekom en het hy met die grootste afkeer daarvan gepraat.”

Die imposante gewelwoning waarin dr. Engelenburg hom na die oorlog gevestig het, “Het Witte Huis”, hoog teen die hang van Meintjieskop, is ’n sprekende bewys van sy wellewendheid en oog vir skoonheid asmede sy fyn aanvoeling vir toekomstige uitbreiding en goeie belegging. Toe die huis destyds in 1903 gebou is, het dit buite die dorp alleen gestaan en die mense het lank daarna as “Engelenburg’s Folly” verwys. Maar later sou die Uniegebou en die deftige woonbuurt Bryntirion agter hom verrys en links van hom Arcadia wat vandag al hoe meer ’n woonstelgebied word. Sy eie “landgoed” het egter vandag nog sy privaatheid en afsondering behou as deel van die Uniegebou-terrein.

Volgens mev. Liesching was “Het Witte Hui” ’n geskenk van sy vader en, omdat die materiaal vir binnenshuise versiering uit die buiteland afkomstig was, is die afmetings volgens die metrieke stelsel bereken en uitgevoer.

Omring deur ’n boomryke tuin met terrasse voor en aan die kante en blombeddings wat groen grasperke omsoom, vorm dit vandag ’n vredevolle ruspunt in die woelige en snel-groeiende hoofstad. Met sy sierlike gewels het die woning van buite ’n Kaaps-Hollandse aanskyn, maar binne het dit ’n vreemde, eksotiese, in wese miskien byna on-Suid-Afrikaanse atmosfeer. Die duur muurbehangsels, pragtige houtpanele met Franse koperbeslag op die ingeboude kaste, eksotiese vuurherde en muurversierings, die oorvloed kunsskatte en oudhede uit alle wêrelddele waarmee die vertrekke tot oorlopens toe gevul is, het egter by die ingewikkelde, veelsydige en selfs raaiselagtige persoonlikheid van die kieskeurige eienaar gepas.

Daar kleef nog ’n unieke atmosfeer eie aan die heengegane eienaar aan die woning. Dis byna asof hy nog daar woon, en as ’n mens die woning binnetree, is dit half asof jy in sy afwesigheid by hom op visite gaan – dit in teenstelling met die gevoel wat die meeste ander wonings wat in museums omskep is, ’n mens gewoonlik gee. Baie van die kosbare meubels, die pragtige antieke vertoonkaste e.s.m. laat ’n mens onmiddellik aan die meubels van sy oom en tante in die Koopmans-de Wet-museum dink. Maar die bonte en kosbare kunsversameling en die binnenshuise versiering was ’n uiting van sy kunssinnige, kosmopolitiese geaardheid – nog ’n bewys dat hoewel hy sy lot volkome by Suid-Afrika ingewerp het, hy sy eie sterk persoonlikheid nie ingeboet het nie en die uitheemse trekke en gewoontes deurgaans in sy private lewe sou uitleef.

In sy woning het hy graag as fynproewer en wynkenner by uitnemendheid sy gaste en wye vriendekring onthaal. Dan was daar ’n geskitter van silwer en kristal, porselein en glas, met geregte en wyne wat die kieskeurigste fynproewer sou bevredig.

In 1924 het dr. Engelenburg – ’n verstokte oujongkêrel soos almal hom geken het – op 61-jarige leeftyd in die huwelik getree met ’n Amerikaanse dame aan wie hy reeds jarelank intiem verbonde was, Lorraine Amelia Marguerite Bernice Cox, gebore Halliday. Sy verering en liefde vir haar was grensloos en die paar jaar van hul kortstondige huwelikslewe het hom groot geluk besorg.

Dis op dié gebied dat ons voor nog een van dr. Engelenburg se eksentrieke of uitheemse eienskappe te staan kom: sy onortodokse verhouding met vroue. Temidde van ’n uiters konserwatiewe gemeenskap soos die Transvaalse hoofstad waar almal hulle aan die strengste konvensies gebonde gevoel het, was dit tog algemeen bekend dat hierdie steunpilaar op soveel gebiede intieme – en volgens die algemene opvattings ongeoorloofde – verhoudings met lede van die vroulike geslag daarop nagehou het, soos dit trouens sonder doekies omdraai in Europa gewoonte was.

Oor hierdie feit het die Transvalers blykbaar verkies om ’n digte sluier te trek en dit oogluikend toegelaat sonder om dit te waag om hom ooit tot verantwoording te roep.

Mev. Liesching wat hom goed na sy vrou se oorlye leer ken het in die dae toe hy oor haar getreur het, was die mening toegedaan dat hy vroeër van die huwelikstaat afgeskrik is deur die feit dat sy ouers se huwelik, soos hy haar meegedeel het, baie ongelukkig was.

Hy en sy eggenoot het ’n wêreldreis onderneem en daarna in “Het Witte Huis” gewoon, afgewissel met gereelde besoeke aan hul huisie “Bagatel” by Lakeside, buite Kaapstad. Louis Leipoldt skryf omtrent hierdie tydperk: “Die huwelik het noodwendig ’n mate van verandering in sy lewe gebring, maar dit was spoedig vir al sy vriende duidelik dat, ofskoon dit hom nuwe belange gebring het, dit geen verskil aan sy karakter of kyk op die lewe gemaak het nie. Sy huwelikslewe was vir hom ’n gelukkige tydperk.”

Sy vrou se oorlye was vir hom ’n geweldige slag en hy het sigbaar verouder. Self het hy die rede by die graf gevoer. “Dit was in die omstandighede ’n meesterlike orasie, kort maar kragtig – iets wat maar weinig sterflinge hom sou kon nadoen,” skryf mnr. De Kock.

Van hierdie gevoelige slag het hy nooit heeltemal herstel nie. Hy het ’n geringe beroerteaanval opgedoen en het op mediese advies na die Verenigde State afgereis waar hy nege maande lank in die John Hopkins-hospitaal in Baltimore behandeling ontvang het. By sy terugkeer in Kaapstad het hy sy goeie vriend Leipoldt opgesoek. Dis hy wat suster Liesching gevra het om hulle die guns te bewys om dr. Engelenburg op die treinreis na Pretoria te vergesel en op te pas. By die Witte Huis aangekom, het sy voor sy versoek om langer aan te bly, geswig en uiteindelik het dit 25 jaar haar tuiste gebly.

Sy vertel dat haar pasiënt en werkgewer nooit werklik herstel het nie. Na ’n jaar kon hy weer rondloop maar hy het hom van alle openbare verpligtings onttrek en stil tussen sy boeke, kunsvoorwerpe en oudhede gelewe, waar hy gereeld deur sy intieme vriende besoek is. Die huishouding het op gladde wiele geloop. Sy bediendes was uitmuntend opgelei en die hoofjong het selfs geweet watter glase om by watter geleentheid en welke wyne by die verskillende geregte gebruik moes word.

Ses maande voor die einde het hy weer ’n ligte beroerteaanval gehad wat hom ’n finale terugslag besorg het. Hy is in sy slaap oorlede op Sondag, 21 Augustus 1938. By die teraardebestelling was daar op sy kis ’n groot kruis van vars viooltjies uit die tuin van “Het Witte Huis” – ’n Iaaste huldeblyk van die mense wat in sy diens was – deur mev. Liesching vervaardig.

“Hy was so ’n uiters goedhartige man,” het sy vertel. “Van sy skatryk vader (met o.m. aandele in die Suezkanaal) het hy ’n fortuin geërf, maar hy het links en regs daarvan uitgedeel. Geen persoon wat om hulp aangeklop het, is ooit weggewys nie. Sommige mense het op skandelike wyse misbruik van sy goedhartigheid gemaak. Heelwat van die kunsvoorwerpe in sy versameling was erfstukke.”

Dr. Engelenburg was ’n besonder goeie en waaghalsige ruiter, lief vir diere en besonder geheg aan sy honde, wat tot sy vermaak toertjies moes uitvoer voordat hulle beloon word. Hoewel twee van sy broers nog by sy oorlye in die lewe was, het hy twee neefs en drie niggies (broers- en susterskinders) as sy erfgename uitgesonder

Sy woning het hy aan die Staat bemaak; sy beste skilderye het hy aan die Johannesburgse Kunsmuseum geskenk. Sy waardevolle boekery, waaronder ’n groot aantal boeke oor kuns in allerlei tale en ’n kosbare Africana-versameling, is teen ’n nominale bedrag aan die Staatsbiblioteek afgestaan. Hy het ’n groot aandeel gehad aan die totstandkoming van die Kunsmuseum en die belange van die Staatsbiblioteek het hom ook na aan die hart gelê.

Mnr. Anton Hendriks, kurator van die museum, vertel dat die kunswerke bestaan uit ’n klompie Suid-Afrikaanse Werke en voorbeelde van die ou Hollandse skool. Die belangrikste werk in die versameling is syns insiens Reën in die Bosveld van Pierneef, wat uit 1919 dateer.

Mnr. P.S. Coetzee, direkteur van die Staatsbiblioteek, het as jong man nog dr. Engelenburg geken toe Die Volkstem se kantoor skuins oorkant die biblioteek was. As lid van die beheerraad was dr. Engelenburg ’n gewaardeerde maar ook gevreesde figuur by die personeel.

“Hy het intens belanggestel in die aangeleenthede van die biblioteek en uit gewoonte gereeld ingeloer,” vertel mnr. Coetzee. “By hom moes alles in die lewe honderd persent korrek wees. Ek kan goed onthou hoe ons dit moes ontgeld as dinge nie na sy sin gedoen is nie. Hy was ’n man van betekenis en wye kennis. Sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuurlewe en die rol wat hy in die stigting en uitbouing van opvoedkundige instansies gespeel het, is van onskatbare waarde.”

Reeds in die jare twintig het dr. Engelenburg al sommige van sy waardevolste boeke aan die Staatsbiblioteek geskenk, o.m. ’n Franse uitgawe van die Atlas van Blaauw, ’n stel van 12 dele wat uit 1648 dateer – vandag uiters waardevol.

Van die hele groot boekery, meestal Africana, wat teen slegs R500 aan die biblioteek afgestaan is, is slegs die uitgebreide versameling oor kuns nog bymekaar gehuisves; die ander is in die verskillende afdelings van die inrigting versprei. Volgens mnr. Wallach, sy lewenslange vriend en eksekuteur in die boedel, was die voorwaarde by die verkoop dat die versameling later in ’n afsonderlike vertrek in ’n nuwe vleuel gehuisves sou word en die naam “Engelenburg-versameling” sou dra. Mnr. Coetzee is onbewus van so ’n voorwaarde.

Sy vriende vertel dat dr. Engelenburg boeke nie slegs as versamelaar aangekoop het nie, maar hulle gelees het. Die nuwes wat hy gereeld bestel en aangekoop het, het op ’n aparte rak gestaan totdat hy hulle deurgewerk het. Dan eers het hulle ’n plek in sy boekery gevind.

Een van sy stokperdjies was ook die versameling van pornografiese werke. Dit het uit ’n wye verskeidenheid bestaan en na sy dood het dit verskeie instansies blykbaar hoofbrekens besorg. Die Staatsbiblioteek wou dit blykbaar nie hê nie en jarelank is dit in ’n groot kas deur die Staatsargief in die Uniegebou bewaar. Uiteindelik is dit aan die Merensky-biblioteek van die Universiteit Pretoria oorhandig waar dit tans geberg word.

Hoe die owerheid en die publiek ook al vandag oor so ’n aangeleentheid mag voel, onteenseglik sal so ’n versameling in later jare veral vir die nageslag van belang wees om te kan vasstel wat in dr. Engelenburg se leeftyd as pornografie bestempel of opgedis is. In Suid-Afrika moet die meeste van ons nog tot ’n besef van die belang van die versamelaarsinstink kom en ons moet dit baie meer aanmoedig. Vir geskiedskrywers, sosioloë en toekomstige skrywers is alle aspekte van die lewe in een of ander tydperk belangrik ten einde te kan vasstel hoe mense geleef, gedink en gewerk het. Wie besit bv. vandag nog ’n stel van die kaartjies wat in die dae van die poskoetse of van die eerste spoorlyne in gebruik was – om maar één voorbeeld te noem?

Mnr. Wallach vertel voorts dat hy en sy mede-eksekuteur in die boedel “die waardevolle inhoud van die woning teen ’n baie redelike bedrag aan die Regering verkoop het, op voorwaarde dat dit in die woning bewaar word en alles as ’n openbare museum onder bestuur van die Suid-Afrikaanse Akademie geplaas word. Hiertoe het die Regering ingestem”.

Latere verwikkelinge het meegebring dat egter nie meer aan hierdie voorwaardes voldoen is nie. Die boekery is, soos reeds vermeld, nooit apart gehou nie en baie van die kunsskatte word in ander staatsgeboue gehuisves, o.m. die Staatspresidentswoning. Tans is daar sprake dat die skilderye wat nog in Engelenburghuis hang, met uitsondering van die familieportrette, na die nuwe Pretoriase Kunsmuseum (wat tans voltooiing nader) oorgeplaas sal word, waar hulle meer tot hul reg sal kom.

Foto: In die voorhuis (hier afgebeeld) en ook in die sitkamer is twee magnifiieke vuurherde van eksotiese Persiese teëls. Hier hang ook die familieportrette van die Engelenburgs in bruikleen. In die midde bo is ’n portret van dr. Engelenburg deur Erich Mayer (1913), met links sy vader en regs sy moeder. In die glaskas is waardevolle kristalvoorwerpe, meestal antiek, en ’n seldsame porseleinborsbeeld van ’n dame uit Dresden. Op die vloer is voorbeelde van die talle porseleinvoorwerpe uit die Verre Ooste.

Suster Liesching se standpunt was dat die Staat die kunsversameling aangekoop het en dus vrylik daaroor kan beskik; mnr. Wallach s’n blykbaar dat die boeke en kunsskatte teen ’n belaglike prys afgestaan is, juis op voorwaarde dat dit as versamelings ongeskonde bewaar sou bly.

In ’n onderhoud wat prof. T.H. Le Roux goedgunstiglik aan LANTERN afgestaan het, het hy met smaak vertel van sy ou vriend se deftige voorkoms. “Hy was altyd smaakvol en modieus geklee, vriendelik en uiters hoflik en duidelik op vorm gesteld. Hoewel sy houding pronkerig voorgekom en sy hoflikheid byna oordrewe gelyk het, was hy in wese baie beskeie en mensliewend en het dit by sy kleurvolle geaardheid gepas. Hy was lewendig van beweging, haastig en puntenerig. Alles moes in die haak wees. Hy was ’n besonder harde en vlugge werker en ongelukkig het hy dieselfde van sy onderhoriges verwag. As redakteur sou hy ewe doodgewoon met ’n opdrag kom en beleefd vra: ‘Sou u dit vir my kon doen asseblief?’ Daarna sou hy dan telkens terugkom om te sien of die taak nog nie afgehandel is nie. As dit dan te lank na sy sin sloer, word die persoon voor stok gekry.”

Prof. le Roux vertel dat dr. Engelenburg met sy tyd saamgeleef het. Hy was die eerste om in ’n openbare blad die “vereenvoudigde” Nederlandse spelling in te voer (die Spelling-Kollewijn soos dit bekend gestaan het). Dis reeds in die middel van die jare negentig in De Volksstem toegepas, d.w.s. tien jaar voordat dit algemene erkenning toegesê is. Hy het gou ingesien dat die Afrikaanse taal ’n regmatige aanspraak op erkenning het en het dadelik by die Afrikaanse Taalbeweging aangesluit.

Hierby kan gevoeg word dat De Volksstem van die begin af ’n uiters belangrike rol gespeel het in die stryd wat gevoer is om Afrikaans tot sy reg te laat kom en dat die blad sy lesers daadwerklik aangemoedig het om Afrikaans te skryf. Ontluikende skrywers en digters is deur die blad aangemoedig. Reeds in 1905 het De Volksstem geleentheid geskep vir die beoefening van Afrikaans deur ’n prysvraag uit te skryf. Hoewel die keuse van die taal vry gelaat is, is slegs drie uit die 98 insendings in Hollands geskryf.

“As koerantedakteur het hy hom dadelik as ’n man van betekenis onderskei”, vertel prof. Le Roux. “’n Uitstaande eienskap was sy penvaardigheid en ’n eie segswyse waarin hy ook liefde vir die uitheemse woord openbaar het. Dit was egter ’n natuurlike uiting van sy gees en het nie gesteur nie. So ook was sy opvallende hoflikheid wat by ander oordrewe sou gewees het, by hom natuurlik.”

“As joernalis het hy ’n enige plek in Suid-Afrika beklee,” skryf mnr. De Kock. “Hy het inderdaad aan die nie-Engelse pers van Suid-Afrika ’n nuwe betekenis gegee. Hy het onbewus ’n kode ingestel wat lank as rigsnoer vir die Hollands-Afrikaanse joernalistiek gedien het en in menige opsig dit nog doen.”

Dr. Engelenburg se eie belydenis na vyf jaar as redakteur van die blad was: “Ik heb het editeurschap der Volksstem nooit anders beschouwd dan als een fidei-commis, als ’n vertrouwenspost, als ’n konfidentiële opdracht, mij in handen gesteld niet ter behartiging van een of ander politikus of kapitalist, doch ter bevordering van het maatschappelik welzijn der beste elementen onzer Transvaalse bevolking.”

“Sy styl was kragtig, kernagtig,” vervolg mnr. De Kock. “Kort en bondig kon hy ’n saak voorstel en wat hy ’n saak voorstel en wat hy neergeskryf het, was raak. Fyn sarkasme was ’n sterk middel in sy hande. Sy ironie was nooit kwetsend nie; daarvoor was hy te hoflik, te menslik-verdraagsaam. Dit was nietemin altyd treffend. ’n Hoogsontwikkelde sin vir humor was in sy geskrifte onmiskenbaar. Hy het ’n Nederlands geskryf wat min van sy landgenote hom kon nadoen en toe hy oorslaan in Afrikaans het hy die wêreld verbaas dat hierdie gebore Hollander die taal van ons land so volkome geassimileer het. Sy voorliefde vir ongebruiklike woorde was bekend … dit was maar ’n greep uit die enorme woordeskat wat hom steeds ten dienste was.”

“In sy liefde vir die waarheid was hy byna wetenskaplik objektief,” skryf Leipoldt van hom. “Dit was wat sy hoofartikels vir hulle wat sulke strenge objektiwiteit bewonder het, so interessant en leersaam gemaak het … As editeur het ek met hom in 1914 kennis gemaak en ons vriendskap het onafgebroke geduur tot sy dood. Toe ek in 1923 lid geword het van die Volkstem-redaksie, het ek in hom ’n hoof gevind wat bo alles in gees sowel as in daad lojaal jeens sy kollegas was … Sy natuurlike skerpsinnigheid en sy uitgebreide kennis van mense en dinge het hom goed ten dienste gestaan as nuusversamelaar en joernalis. Hy het vlot weg geskryf en in verskeie tale en sy styl was lewendig en vol verbeeldingskrag. Hy was die beste in beskrywende voorstellings; sy oorlogsbriewe van die Oosterfront tydens die Anglo-Boere-oorlog, toe hy die eerste oorlogskorrespondent aan Boerekant was … was modelle van pittige, feitelike weergawe. Hy had ’n skerp sin vir humor en ’n vlugge, geestigheid, soms bytend maar nooit wreed nie en hy was ’n briljante gesprekvoerder.”

Volgens ’n artikel in die Akademie-jaarboek 1939 deur Vaalswaer (mnr. I. van Heerden) oor die werksaamhede van die Afrikaanse Taalbeweging was dit aan dr. Engelenburg se bemoeiinge te danke dat Die Brandwag as kragtige mondstuk van die beweging tot stand gekom het. Die beweging wou hom daadwerklik daarop toelê om in Afrikaans te skryf en waar daar na herhaalde pogings van nêrens anders enige geldelike of ander steun te vinde was nie, het hulle van dr. Engelenburg ’n brief ontvang waarin hy meld dat die Volkstem-maatskappy (Wallachs) hom bereid verklaar het om Die Brandwag uit te gee met die medewerking van die A.T.G. se redaksiekomitee, en selfs fondse af te staan om die salarisse van redaksielede te betaal. Dis onnodig om te meld watter groot rol Die Brandwag destyds ter bevordering van Afrikaans en die ontluiking van ons skrywers en digters se talente gespeel het.

Prof. Le Roux herhaal een van die staaltjies wat dr. Engelenburg as fynproewer met ondeunde genot teen homself vertel het. In die dae toe die President van tyd tot tyd “ op besoek by sy volk gegaan het” om vergaderings toe te spreek, het dr. Engelenburg hom dikwels vergesel. Die gewoonte was dat hulle so veertien dae wegbly en gewoonlik het hulle by een of ander gesin tuisgegaan. Die gasvroue het dan gewoonlik alles uitgehaal om die keurigste maaltye voor te sit, waar die President en dr. Engelenburg alleen sou aansit.

“Ag, maar die President het geen tafelgenot geken nie,” het dr. Engelenburg gesug. “Ons sou aansit en dan sê hy in ’n diep stem: ‘Kom ons bid’. Daarna word daar in stilte geëet en teen die tyd dat die President klaar geëet het, het ek nog skaars begin. Maar ten spyte daarvan sou dit dan van hom kom: ‘Kom ons dank’.”

Dr. Engelenburg het toe ’n plan beraam. Hy het die gasvroue ingelig dat ’n gewone koerantmannetjie soos hy darem nie saam met die President mag aansit nie. Van toe af is dit so gereël dat president Kruger eers alleen klaar bedien is, waarna hy dan aan die beurt gekom het. Gevolglik kon hy op sy tyd en volgens sy gebruik van die heerlike Boerekos geniet.

Saam met manne soos president M.T. Steyn. dr. J.D. Kestell, genl. J.B.M. Hertzog, adv. S.F. Malan, dr. D.F. Malan, Jan Celliers, Gustav Preller e.a. was dr. Engelenburg ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns. Sy rol in die vestigingstydperk van die liggaam was uiters belangrik. Met sy regskennis het hy hom beywer vir die verkryging van die liggaam se regspersoonlikheid en die opstel van die konstitusie. Hy was een van die steunpilare agter die skerms i.v.m. die werksaamhede wat uitgeloop het op die finale stigting van die liggaam tydens die kongres op Bloemfontein in Julie 1910. Die Akademiewet en Statute (Private Wet no. 25 van 1921) is dus in ’n groot mate ’n monument van die bydrae van dr. Engelenburg en adv. S.F. Malan in hierdie opsig. Die wet is nog in Nederlands en die statute in Afrikaans opgestel. Daarna het hy die liggaam getrou gedien totdat sy gesondheid verswak het. Die ouer garde kan nog vertel op welke knap wyse hy die vergaderings gelei en die werksaamhede afgehandel het in die jare toe hy voorsitter was (1923 tot 1925 en 1930 tot 1932).

“Daar was geen meer toegewyde lid van die Akademie as dr. Engelenburg nie,” getuig prof. Le Roux. “Ek het hom dikwels die wens hoor uitspreek dat sy woning die setel van die Akademie moes word. Sy woning en omringende terrein het hy aan die Staat bemaak ‘uit dankbaarheid vir wat Suid-Afrika vir my gewees het’, soos hy dit gestel het. Dikwels het hy fondse geskenk en hom, benewens die gewone kuns-, letterkundige en taalsake, vir geskiedkundige navorsing beywer. Hy het ook ’n rol gespeel in die verkryging van die Akademie-seël in 1928, ontwerp deur Florence Zerffi.”

Dr. Engelenburg was ’n stukrag agter die uitgee van die Akademie se Bulletin, gewy aan die land se geskiedenis. Reeds in 1903 het hy saam met Gustav Preller ’n boek opgestel, Onze Krijgsomcieren. Hy het Preller ook aangemoedig om met geskiedkundige publikasies voort te gaan. So het Piet Retief, die reeks Voortrekkermense, Die Dagboek van Louis Trichardt, Andries Pretorius, Scheepers se Dagboek e.s.m. hul verskyning gemaak.

“Toe Piet Retief verskyn het, aanvanklik ag vervolgstuk in De Volksstem, was historiese figure soos Trichardt, Pretorius, Retief, Celliers en ander weinig meer as name. Die Groot Trek is voorgestel as ’n uittog van ’n klomp bandelose korrelkoppe wat onder geen gesag wou buig nie en gesmag het na die ‘lekker lewe’ (Walker) waar elkeen sy eie baas kon wees. Preller het die leiers herskep tot lewende wesens en was die eerste historikus wat die Groot Trek in sy juiste perspektief geplaas het … Die groot verdienste van sy vroeë bydraes was dat hy daarmee balsem op die wonde van die volk gegiet het deur die helde uit die verlede tot heroïse figure te herskep wat teen die agtergrond van die nasionale verlede uitstaan.”

Op dié wyse is ’n verslane nasie geleer om homself en sy verlede te respekteer.

Later sou dr. Engelenburg self ook ’n lewensgeskiedenis van genl. Louis Botha die lig Iaat sien en ’n boekie oor die Engelenburgs se familiegeskiedenis uitgee.

Hoewel Engelenburghuis aan die Staat bemaak is, is dit later, hoofsaaklik deur die bemoeiinge van dr. E.G. Jansen, ’n intieme vriend van dr. Engelenburg, in permanente leen aan die Akademie afgestaan. Die vestiging van die Akademie-sekretariaat in die woning is verder moontlik gemaak deur die Hertzog-Brebnerskenking in 1948, want sedert dié tyd is daar genoeg fondse beskikbaar om ’n voltydse sekretaris aan te hou.

Foto: “Het Witte Huise”, of Engelenburghuis, soos dit vandag daar uitsien. Die groot slaapkamer links (tans die raadskamer van die Akademie) was ’n latere toevoeging tot die oorspronklike woning. Die groot Chinese potte op die pilare trek dadelik die aandag. Die stoepie regs waarop ’n gekleurde Hollandse venster uit die sitkamer na die suide uitgekyk het, is toegebou om kantoorruimte vir die Akademie-sekretariaat te verskaf. Die sierlike vorm van die oorspronklike stoepmuur is nog duidelik te sien.

Die eerste voltydse persoon in diens van die Akademie was mnr. C.J. de Koning wat sy intrek op 1 April 1946 in Engelenburghuis geneem het. Maar in 1948 kon die eerste voltydse sekretaris, dr. F.C.L. Bosman, ook Engelenburghuis betrek nadat die kantoor van Johannesburg af na Pretoria oorgebring is.

Foto: Die skilderagtige Engelenburg-gedenkpoort aan die suid-westelike hoek van die tuin was ’n geskenk van mnr. Izaak Waflach. Ontwerp deur dr. Gerard Moerdyk, is dit by geleentheid van die ingebruikneming van Engelenburghuis deur die Akademie op 16 Mei 1953 deur ’n lewenslange vriend van dr. Engelenburg, dr. E.G. Jansen, onthul.

Die huis is egter eers op 16 Mei 1953 amptelik in besit geneem, waarby dr. E.G. Jansen in sy hoedanigheid as Goewerneur-generaal die plegtigheid waargeneem het. Terselfdertyd is ook die Gedenkpoort ter ere van dr. Engelenburg as weldoener van die Akademie geopen. Dit was ’n geskenk van mnr. I. Wallach en is deur dr. G. Moerdyk ontwerp.

Die Akademie-werksaamhede brei egter so vinnig uit dat daar reeds ’n ernstige gebrek aan ruimte bestaan wat al hoe meer inbreuk op die museumgedeelte van die gebou maak. Daar word gehoop dat daar dus binne afsienbare tyd ’n aparte gebou naas Engelenburghuis sal verrys wat die sekretariaat sal huisves.

Daar is nog baie ander gebiede waarop dr. Engelenburg ’n leidende rol gespeel of sy stempel afgedruk het. ’n Mens kan maar net sommige van die belangrikstes opnoem. Hy het oneindig veel gedoen vir die ontwikkeling van die land se kunssmaak en die bevordering van ons eie kuns. Hiervoor het hy baie opgeoffer en ook in ruime mate gegee. Hy het menige jong kunstenaar op die been gehelp. Ook die uitvoerende kunstenaars is nie deur hom vergeet nie. Hy was ’n gereelde konsert- en toneelganger, het verder self die klavier bespeel (veral Beethoven en Chopin) en het ’n groot plateversameling opgebou. Teenoor kunstenaars was hy verdraagsaam, begrypend en uiters hulpvaardig.

Nog iets waarmee hy hom daadwerklik bemoei het, is ons muntstelsel en papiergeld. Trouens, die ontwerp van ons Reserwebanknote het as watermerk die onderwerp van een van die skilderye wat nou nog in sy huis hang. Net soveel het hy in die land se argitektuur belanggestel, veral ten opsigte van openbare geboue wat in sy tyd gebou is. Hier is sy raad dikwels ingewin en verder het hy jong argitekte met raad en daad bygestaan.

Dis minder bekend dat hy ook Pretoria se bekende Kerkplein ontwerp het. Daar heers wel meningsverskil oor die saak, maar afdoende bewys skyn die feit te wees dat die oorspronklike ontwerp van die plan nou nog in Engelenburghuis bewaar word. Dit was trouens ook sy voorstel dat die plein verfraai moet word.

Oor hierdie saak het dr. W. Punt, direkteur van die Stigting Simon van der Stel, my meer inligting verstrek. Hy vertel dat hy die omskepping van die plein as jongeling aanskou het. Nadat die kerk op die plein gesloop is, het dit ’n oop stuk grond gebly waar o.m. gereeld militêre vertonings deur die Engelse Lansiers gedurende die Britse besetting gehou is. Na 1910 het dr. Engelenburg egter regstreeks na Pretoria se burgemeester gegaan en die vraag gestel: wat nou van Kerkplein? Sy voorstel was dat dit omskep word soos dit nou staan, aan die een kant soos Trafalgar-plein in Londen en aan die ander soos die Place de la Concorde in Parys – twee van die mees beroemde pleine in die wêreld. Weens die geweldige koste wat dit sou meebring, het die stadsraad die plan aanvanklik verwerp en besluit dat hy slegs R40 000 sou kon bydra. Hierop het dr. Engelenburg die destydse Minister van Openbare Werke oorreed om R40 000 by te dra. So is die plan uiteindelik teen ’n koste van R72 000 deurgevoer, waarvan R32 000 uit die stadsraad se kas gekom het.

Dr. Engelenburg was die besitter van talle ere-toekennings, té veer om op te noem, o.m. ’n hele paar ere-ordes uit Europese lande. Die sir-skap wat hom na 1918 vir dienste aan die Geallieerdes in Europa aangebied is, het hy egter van die hand gewys.

Die Engelenburg-versameling van kunswerke, altesaam nagenoeg 400 skilderye en portrette, beelde, vase, snywerk, Oosterse keramiek, antieke stukke, kristalvoorwerpe, ens., verleen ’n bykomstige atmosfeer van swier en deftigheid aan die woning wat tans egter oorvol is omdat van die agterste vertrekke deur die steeds uitbreidende werksaamhede en personeel van die Akademie beset word. By sy versameling het sy persoonlike smaak en kunsgevoel gewoonlik die deurslag gegee en daar is kunsvoorwerpe van oraloor.

Foto: Een van die skilderye wat deur dr. Engelenburg aan die Johannesburgse Kunsmuseum bemaak is: Die eerste reën, Lichtenburg (olieverf, 40.5 x 62 cm). (Met dank aan Johannesburgse Kunsmuseum)

Dit was sy gewoonte om oral rond te snuffel en op dié wyse het hy soms waardevolle vondse gemaak. ’n Voorbeeld daarvan is die groot brons kroonlugters wat hy op ’n vullishoop in die Kasteel, Kaapstad, ontdek het. Toe hy die opsigter van die Kasteel daarvan vertel het, het dié hom vertel dat dit nutteloos was omdat daar elektrisiteit in die Kasteel aangebring is. Dr. Engelenburg het dit vir ’n paar rand gekoop, laat herstel en Iaat skoonmaak. Later het hy een daarvan aan die Transvaalse Provinsiale Administrasie geskenk. Dié is in die Ou Raadsaal aangebring. Die ander het hy behou en dit moes volgens voorskrif na sy dood aan die Kasteel teruggegee word, waar dit vandag ’n ereplek gevind is.

Met die naderkom tref die vier groot Chinese blompotte op die stoepmure reeds die aandag. In die ingangsportaal, bekend as die voorhuis, word die familieportrette van die Engelenburgs en die Koopmans in bruikleen bewaar. Meeste van hulle besit nie groot kunswaarde nie, maar daar is een van ’n tante van dr. Engelenburg wat ’n ware juweel is. In die voorhuis is verder ’n pragtige vuurherd van Persiese porseleinteëls, nog meer uitsonderlike Chinese vase en twee vertoonkaste vol seldsame kristal- en glasstukke. Daar is gekleurde kristalbakke uit Bristol, vergulde kristal uit Nederland en ’n manjifieke Dresdenfiguur.

Foto: In hierdie groot vertoonkas van kiaathout is seldsame porseleinstukke uit verskeie wêrelddele te sien, meestal antieke borde, vase en bakke.

Die meeste porselein- en erdewerkfabrieke van naam is in die versameling verteenwoordig, o.m. die reeds genoemde Meissen-fabriek in Dresden (tans agter die Ystergordyn) met verskeie seldsame figure, Koninklike Bow-voorwerpe uit Engeland, die Franse fabrieke van Sevres en Limoges, glas en kristal uit Venesië, e.s.m. Die pragtige Bowvase, koningsblou, het hy dikwels na eetmale in die stad meegeneem om amptelike onthale op te luister. Hierdie vase, saam met byna al die fyn Engelse porselein, is egter nie tans in Engelenburghuis nie, maar wel in die woning van die Staatspresident.

Die pragtige silwerskottels, serviese en ander eetgerei wat hy self gebruik het, is nog te sien, o.m. ’n groot tafelmiddelstuk uit Staffordshire, bestaande uit vier skottels en ’n sopkom met deksels, alles op ’n groot dienblad. Twee sopkomme met fraai vergulde sierdeksels op voetstukke van vergulde brons uit Sevres, is buitengewoon interessant, maar meer seldsaam nog is ’n Rose Pompadourskottel met deksel ook uit Sevres.

Die antieke voorwerpe sluit ook in werke uit baie lande, Japan, China, Rusland, Java, Venesië en Nederland. Uit Rusland is daar twee ikons, een in goud, emalje en halfedelstene, en ’n miniatuuraltaarstuk in groen koper.

Foto: Hierdie swaar soliede kas met houtsnywerk in palissander- en ebbehout in die sitkamer is ’n pragstuk en stam uit die 18e eeu. Die styl is Vroeg-Vlaams en dit is in Nederland vervaardig.

Een kas in die sitkamer bevat uitsonderlik gesnyde houtstukke, meestal uit die Ooste. In hierdie vertrek is besonder mooi vertoonkaste, o.m. ’n vertoonkas van seldsame ontwerp met inlegwerk en leeupote. Dis 18e-eeus Hollands. Hierby pas goed aan ’n ou skryfburo met feitlik identiese inlegwerk wat as seldsaam beskryf word.

In die groot slaapkamer wat later aangebou is, tans die raadskamer, is daar pragtige voorbeelde van Franse en Vlaamse gobbelin-muurtapyte. Hulle is in 1918 in Frankryk aangekoop. Hier staan ook ’n Kaaps-Hollandse riempiestoel in stinkhout met die familiewapen van dr. Engelenburg.

Dr. Engelenburg se voorliefde vir die Engelenburgwapen is duidelik op talle voorwerpe te sien – tot selfs in die venster van die voorhuis waar die familiewapens van die Engelenburgs en Koopmans apart in gekleurde glas en lood aangebring is.

Benewens Japanse prente is daar ook nog heelwat skilderye van kunshistoriese belang in die woning, o.m. portrette van dr. Engelenburg self (een deur Erich Mayer in 1913), ’n portret van genl. Louis Botha deur Oerder, ’n portret van Paul Kruger deur H. Brispot (1900) – altesaam ruim 40 olieverfwerke wat waarskynlik na Pretoria se nuwe kunsmuseum sal verhuis. As besonder seldsaam word beskou ’n bewaarkissie uit stinkhout op gegroefde voetstuk met Kaapse silwerbeslag deur J.H. Vos.

Foto: Dit was dr. Engelenburg se slaapkamer waarin hy ’n groot deel van die laaste jare van sy lewe weens swak gesondheid deurgebring het en ook in 1938 oorlede is. Dit is tans die raadskamer van die Akademie. Aan die mure is bokant die kagel en links teen die hoek onderskeidelik ’n Franse en ’n Vlaamse behangseltapyt te sien. Let op die ryk in goud geëmbosseerde muurversiering.

’n Innemende eienskap van dr. Engelenburg was dat hy by al sy geleerdheid en kennis en sy groot kunsversameling glad nie snobisties of uit die hoogte was nie. Hy het elke ding op sy waarde takseer, op die vakmanskap wat daaraan gewy is. Suster Liesching het vertel dat hy haar op ’n dag opgewonde geroep en in vervoering geraak het oor een van die strokiesprente wat in ’n Johannesburgse koerant verskyn het, naamlik “Prince Valiant”. Hy het gesê: “Het jy al ooit sulke perfekte tekeninkies gesien? Kyk, dis volmaak tot in die fynste besonderhede en die drag en omgewing is ook alles geskiedkundig korrek.” En hy het aan haar beken dat hy op dié besondere strokiesprentjie versot geraak het.

Met die oog op die massa materiaal in Engelenburghuis (o.m. dagboekies, aantekeninge, briewe en ’n groot verskeidenheid uiters interessante dokumente), die Staatsargief, die Staatsbiblioteek en ander plekke, sal die volledige verhaal van hierdie kleurryke figuur, wanneer dit eendag geskryf word, boeiend en verrassend wees. Want nie alleen het hy in ’n veelbewoë tyd van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelewe nie, maar sy bydrae was van so ’n aard en sy persoonlikheid so uniek dat ’n groot skrywer van sy verhaal ’n meesterwerk sal kan maak.

 

Bron: Stead, Rinie. 1964. Lantern, Maart: 20-31.