Mense en diere oorwin die dors en sand – Die Dorslandtrekkers
May 3, 2017
Kommandant-generaal Piet Joubert begrawe op Rustfontein, Volksrust
May 3, 2017

(Mnr. PJJ Joubert het hierdie inligting aan die redaksie gestuur. Mnr. LT de Jager het dit gerangskik. Soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1962)

Terwyl die laat namiddagson oor die skilderagtige natuur van die Oostelike Laeveld van Transvaal val, en alles in ’n wonderskone toneel omskep, sien ons ’n eensame figuur peinsend na ’n graffie in die skaduwee van ’n groot ou boom staan en kyk. Dis die graf van ’n twaalfjarige dogter wat ’n week gelede begrawe is en ’n paar tree links van haar graf is nog ’n graf – die graf van haar moeder. Beide het aan die gevreesde siekte gesterf en oral kry ons groepe grafte, self van hele huisgesinne – geen wonder dat die Letsitelevallei die doodsvallei genoem word nie.

So staan die dokter in diepe bepeinsing, en stel homself dit ten doel om malaria, wat die oorsaak van al die ellende is, suksesvol te bestry.

Hy, dr. Dawid Siegfried Annecke (gebore 25 Februarie 1895), is ’n gesonde, frisgeboude jong man, 36 jaar oud, ’n man van leeuemoed en deursettingsvermoë en met ’n baie goeie geheue. In die afgelope twaalf jaar het hy, nadat hy toe reeds sy MA en sy MRGS-grade (laasgenoemde oorsee) verwerf het, ook sy MBBS-graad ontvang in 1924 en sy studies voltooi in 1926; en in dieselfde jaar verwerf hy ’n studiebeurs vir malarianavorsing. Hy verower ook die Kliniese Goue Medalje aan die Guys-hospitaal en in 1928 sluit hy by die Departement van Volksgesondheid aan.

In 1930 het dr. Swellengrebel, op versoek van die Regering, die Unie besoek en op sy aanbeveling is daar ’n malaria-instituut op Tzaneen begin onder die bekwame leiding van dr. Annecke. Die Instituut het dan ook die naam van die Siegfried Annecke Instituut gekry.

Die jare wat verby is, was vir dr. Annecke jare van harde werk en opoffering. Dit was niks in vergelyking met dié wat die nuwe taak wat hy homself opgelê het, sou meebring nie, nl. die taak om malaria suksesvol te bestry. Hy wou die lieflike Laeveld, met sy vrugbare aarde aan die mense gee om ’n bestaan uit te maak, sonder om malaria te vrees. Om sy doel te bereik, sou van dr. Annecke baie harde werk verg, ook meer moed en deursettingsvermoë.

Dr. Louis Leipoldt skryf: “Dis Annecke, ek skryf oor hom,want hy gaan die muskiete uit die Laeveld dryf.”

Die dokter se tuiste is ’n ingegaasde rondawel, onder ’n groot boom by die Instituut en sy laboratorium, ’n ou vervalle gebou wat in die dae van die Suid-Afrikaanse Republiek as barakke gebruik is. Hier bring hy baie ure van harde werk deur. Hy is oortuig daarvan dat die siekte, malaria, deur ’n muskiet versprei word, maar watter muskiet? Dit moes hy uitvind en daar was net een manier om dit uit te vind. Hy vang ’n hele aantal muskiete en hou hulle in gaashokke , en laat homself deur die muskiete steek en maak aantekeninge i.v.m. al die nodige feite uit sy waarnemings. Na tien dae doen hy dan die nodige toetse om vas te stel watter uitwerking die muskietsteke op hom gehad het. Deur so die muskiete op sy eie bloed te voer, stel hy vas dat dit die Gambia-soort van die Anopheles-muskiet is, war die siekte versprei.

Niemand wil hom behulpsaam wees met die doen van hierdie toetse nie, want dit is uiters gewaagd. Mens kan self die siekte so opdoen. Uiteindelik weet hy nou dat dit wel ’n muskiet is wat die siekte versprei en hy weet ook nou watter muskiet die siekte versprei en nou kan hy drasties te werk gaan om die verspreiding van malaria te voorkom. Hy gaan nou baie beslis in sy verdere optrede te werk en duld geen oponthoude of teenkanting nie. Wanneer hy enige hoë amptenaar i.v.m. die aangeleentheid te woord moet staan, wag hy nie eers vir ’n afspraak om die betrokke persoon te woord te nie, maar hy stap net eenvoudig by hulle kantore in en stel sy saak onomwonde. So gebeur dit dan ook dat hy eendag by die sekretaris van Volksgesondheid kom in verband met die werk en ongeduldig en haastig raak, omdat dinge te stadig na sy sin gaan, waarop die sekretaris toe vir hom sê: “As jy dan beter as ek is, kom sit jy agter die tafel.” Maar hy laat hom deur niks en niemand afskrik nie. Die erns van sy taak dryf hom om alles in sy vermoë te doen om sy doel te bereik.

Hy stel ook sy saak baie duidelik aan die regering en oortuig hulle dat die publiek nie op hul eie die bestryding van malaria kan onderneem nie, maar dat die regering hul hierin noet help. As gevolg hiervan gee die regering nou Pyagra gratis aan die boere en bespuit ook alle strome en panne met olie om te voorkom dat muskiete daar kan uitbroei.

Hy besoek die naturelle-kapteins en verduidelik prakties aan hulle wat malaria en bilharzia is en hoe die siektes bestry kan word. Hy wen hulle vertroue en kry ook hulle samewerking om die bestryding van malaria te laat slaag en alle naturellehutte word bespuit. Die naturelle gee hom die naam Sekundo en dit beteken – “Loodhout”, jy kan hom nie kap nie.

Ons sien hom telkemale in die ruie veld waar hy saam met sy bantoewerkers werk, met net ’n kort kakiebroek aan en die spuit op sy rug, besig om strome en spruite te bespuit. Hy wou presies weet hoe dit gedoen is en wat die resultaat van die werk is. So worstel hul vir myle aaneen deur die ruie bosse, en altyd is hy besig om sy werkers te dryf en terselfdertyd bewus te maak van die waarde van elkeen se aandeel in die groot werk wat hul doen. Oral doen hy ook altyd sy deel, selfs wanneer hulle kamp opslaan.

Hy is baie streng met sy veldpersoneel, maar terselfdertyd ook baie regverdig. Hulle hou gereeld personeelkonferensies, waar hulle probleme bespreek en opgelos word, en wenke gegee word.

Moeg en uitgeput kom hy eendag tuis na ure se werk in die veld en sê aan een van sy naturelle om sy broek uit te was. Intussen kom daar besoekers, maar ewe ongeërg sit hy sonder ’n broek aan, agter sy lessenaar, totdat hulle weer weg is, en dan hoor ons sy hartlike lag, as hy besef in watter penarie hy hom bevind het. Klere is in iedere geval vir hom van min betekenis en hy maak niks daarvan om met geskeurde broek klas te gee aan ’n groep kursusgangers nie. Oral waar hy gaan, neem hy altyd sy blik tabak saam wat spesiaal vir hom gemeng is deur mnr. Kotze van Groblersdal. Ook sy ou hondjie gaan altyd saam met hom en waar dié te moeg word om vol te hou met die moeilike gang deur die ruie plantegroei, dra sy baas hom.

Ons sien dr. Annecke ook met elke kerkdiens getrou op sy pos in die kerk en elke Sondagoggend speel hy bekende liedere en ligte klassikale musiek. In Tzaneen het hy ook etlike jare die amp van burgemeester beklee.

Na jare sien hy een na die ander nuwe huisgesin na die Oostelike Laeveld van Transvaal kom en stadig word nuwe wonings gebou, plase aangelê en die mense vind ’n nuwe gelukkige bestaan, sonder die vrees vir malaria. – Die siekte het sy angel verloor, danksy dr. Annecke.

In 1954, op nege-en-vyftigjarige leeftyd, kry hy sy MD-graad vir Malaria-navorsing van die Pretoriase Universiteit en word hy die hoofstreeksgesondheidsbeampte. Hy begin ook werk aan die bestryding van bilharzia. Dié kon hy nie voltooi nie, weens sy dood.

Op 24 Februarie 1954 tree hy met pensioen af, nadat hy 25 jaar diens gedoen het en in die lang tydperk alleenlik sewe maande verlof geneem het. Met sy dood het ’n ou tante gesê: “Hy het onder baklei, bo baklei, links en regs en aangehou tot hy gewen het.”

In die laat namiddag stap ons in die kerkhof in Tzaneen en kom te staan by sy graf, ’n eenvoudige graf en daarby dié van twee van sy getrouste veldassistente, wat op ’n tragiese wyse omgekom het in ’n treinongeluk, – ’n meester en sy leerlinge wat so vele jare saam gearbei het, lê langs mekaar begrawe.

Hy is seker die bekendste man in die noorde, waar oud en jonk, arm en ryk, Bantoe en Blanke vir Sekundo ken. Hy was beslis iemand wat deur sy werkgees homself liggaamlik uitgebrand het.

In diepe eerbied en dankbaarheid dink ons terug aan dr. Annecke.