Dorpstraat, Stellenbosch

Geboortehuis van genl. J. C. Smuts, Riebeek-Wes
December 14, 2017
Morkel-huis, Van Ryneveldstraat (Geen toegang)
December 14, 2017

(a) Eikebome (Geproklameer 1950)

Historiese kastele, kerke, herehuise en terreine is vir ons belangrike erfenisse, maar dikwels  tree ons kulturele en argitektoniese nalatenskap op sy beste na vore in ’n ou buurt of ’n ou straat. Te midde van die verbouing en uitbreiding van ons stede en dorpe het die bewaring van sodanige plekke dan ook essensieel geword. Deur die bemoeiing van die Munisipaliteit, die Historiese Monumente Kommissie en die maatskappy Historiese Huise van Suid-Afrika Bpk. word daar in Stellenbosch ’n doelbewuste poging aangewend om die straatbeeld van Dorpstraat te bewaar.

Dorpstraat is die ou “wagenweg naar de Kaap”, en soos drie eeue gelede kom reisigers vandag nog langs dieselfde pad die dorp binne. Die ou straat dien dan ook tereg as ’n introduksie tot die Eikestad, want aan weerskante daarvan staan die pragtige, skaduryke, knoestige ou eikebome, waarvan die grootste ou reuse waarskynlik van 1760 dateer, terwyl die ouderdom van die ander tot die jaar 1812 teruggevoer moet word. Die toename van die moderne verkeer en die noodsaaklikheid vir die verbreding van die strate het die lewe van hierdie eikebome in gevaar gestel, maar met die hartlike samewerking van die munisipaliteit is die bome “in Dorpstraat, tussen die spoorweglyn en Pastoriestraat, en in die laan tussen Pastoriestraat en Van Riebeeckstraat” tot historiese monumente verklaar. Tans word hierdie bome ongelukkig deur ’n ander gevaar, die bladskimmel, bedreig.

In 1968 is die eikebome in die volgende strate ook tot historiese monumente geproklameer: Pastorie-, Kerk-, Drostdy-, Van Ryneveld-, Crozier-, Andringa-, Bird- en Van Riebeeckstraat.

A. F. Trotter • Eikebome in Dorpstraat • William Fehr-versameling
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 63.

 

(b) Libertas Parva (Rembrandt van Rijn-Kunssentrum) (Geproklameer 1970)

’n Klein entjie van die spoorwegstasie, aan die regterkant, op die hoek wat Dorpstraat met Somerset-Wesweg maak, staan die eerste merkwaardige huis in hierdie straat – Libertas Parva of Klein Libertas.

Die grond van die bekende plaas Libertas het oorspronklik oor die Eersterivier tot aan die “wagenweg” gestrek. In 1771 het ds. Johannes Appeldoorn wat sedert 1753 predikant van Stellenbosch was, hier langs die rivier iets meer as 4 hektaar van J.B. Hoffman, die destydse eienaar van Libertas, gekoop. Vandaar dan ook die naam Libertas Parva (Klein Libertas). Ds. Appeldoorn is die volgende jaar oorlede en die klein plasie het in besit van Lambertus H. Fick gekom. In. 1783 het hy deur aankoop ’n verdere 1,5 hektaar tot die grond toegevoeg en om en by hierdie jaar het hy waarskynlik ook die groot H-vormige huis met die opvallende vier holbol-sygewels gebou. Die landmeter W.F. Hertzog toon dan ook reeds die huis op sy interessante kaart van 1817.

In 1819 het Philip Jacob Haupt die eiendom gekoop en dit word aanvaar dat hy verantwoordelik was vir die bou van die huidige voorgewel met die twee voordeure daarin asook die Georgiaanse vensters.

Van Haupt het Libertas Parva in 1862 na Paul Ryk Roux gegaan wat dit sewe jaar later aan J.D. Krige verkoop het. Hy was die vader van Issie, vrou van genl. J.C. Smuts, en Garfield wat landmeter en Iater eienaar van die pragtige ou eiendom sou word. Laasgenoemde het die hypassende buitehuisies (“cottages”) net onderkant die ou herehuis laat bou.

Sentraal geleë het die eiendom in die afgelope jare vir sakedoeleindes baie gesog geraak en die voortbestaan van die ou huis is bedreig. Deur bemiddeling van Historiese Huise van S.A. Bpk., is hierdie belangrike geboue-kompleks onlangs volledig gerestoureer en vorm dit tans ’n indrukwekkende toegang tot die dorp.

Don Adair • Die Rembrandt van Rijn-kunssentrum
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 64.

 

(c) Vredelust (Geen toegang) (Geproklameer 1970)

’n Klein entjie bokant Libertas Parva, ook aan die regterkant van Dorpstraat, is ’n tweede ou Kaaps-Hollandse huis – Vredelust – geleë. Aan hierdie ou huis word ’n besondere bekoring en geheimsinnigheid verleen omdat dit weggesteek lê agter ’n wit muur en uitgebreide tuin met hoë eikebome, weelderige struike, grasperke en blomme.

Die erf waarop hierdie pragtige ou woonhuis geleë is, het in die jare vroeg ontstaan deur die samevoeging van drie afsonderlike stukke grond. Die eerste stukkie was net soos in die geval van Libertas Parva, ’n gedeelte van die ou plaas Libertas. In 1761 het die destydse eienaar van Libertas, J.H. Malan, een hektaar aan Christoffel Henske verkoop. Twintig jaar later word aan hom ’n aangrensende stukkie grond van min of meer dieselfde grootte geskenk “ter opbouwing van een woonhuis met de daartoe nodige gebouwen,” en tien jaar later kry hy nog ’n stukkie by.

In die loop van die jare tagtig moes Henske die H-vormige woning, die aangrensende wynkelder en die stal gebou het, want op die transportakte waardeur hierdie eiendom in 1791 aan die chirurgyn, Casper Termytelen, oorgedra word, word hierdie geboue aangedui. Na nog ’n paar oordragte is dit in 1813 aan Daniel Joubert verkoop. In 1814 het hy die mooi voorgewel met sy vier pilasters, elk met ’n vaas daarop en ’n smal pediment tussen die middelste twee gebou. Hierdie gewel is soortgelyk aan die een in Andringastraat 61, terwyl die ballustrade aan weerskante van die gewel en gelyk met die geutlyn van die oorspronklike rietdak, ’n ooreenkoms toon met dié ballustrade wat vroeër dae die ou Drostdy van Stellenbosch versier het.

Daniel Joubert het waarskynlik ook die interessante en karaktervolle kothuis links van die hoofopstal, bekend as Klein-Vredelust, gebou.

Die eiendom het tot 1868 in besit van die Joubert-familie gebly toe dit aan Christiaan Joel Ackermann oorgedra is. Hy was die grootvader van die alombekende mnr. Wakkie Krige wat vir die grootste gedeelte van hierdie eeu in die ou huis gewoon het. In 1900 is die huis gemoderniseer. Nogtans vorm Vredelust, Klein-Vredelust en die wynkelder ’n unieke kompleks van plaasgeboue in die hart van Stellenbosch.

 

(d) La Gratitude (Geen toegang) (Geproklameer 1948)

Nog verder op in Dorpstraat en ook aan die regterkant, staan een van Stellenbosch se bekendste en trotsste ou Kaaps-Hollandse huise – La Gratitude. Ietwat verskuild, agter die eikebome staan die voorgewel tot aan die straat.

La Gratitude is in 1798 deur ds. Meent Borcherds, predikant van Stellenbosch (1786-1830), gebou. Hy is in 1762 te Jangum, Oos-Friesland, gebore. Sy vader was ’n welgestelde koopman, maar die familie is eers deur ’n oorstroming en later deur ’n brand geruïneer. Meent het aan die Universiteit van Groningen en later aan die seminarium te Lingen in die teologie gestudeer. Te Lingen het hy studente van die Kaap ontmoet en in 1785, op drie en twintigjarige leeftyd, verarm en swak in gesondheid, het hy as predikant in Kaapstad aangekom. Die volgende jaar het hy na Stellenbosch gegaan, waar hy sy intrek in die ou pastorie van ds. Henricus Beck in Dorpstraat geneem het.

Ds. Borcherds het sy klein traktement van R150 per jaar onvoldoende gevind om sy gesin te versorg en het dus grond gekoop waarop hy in sy vrye tyd met heelwat sukses geboer het. Op hierdie grond het hy later La Gratitude gebou, wat hy so genoem het ter erkenning van die feit dat hy al sy voorspoed toegeskryf het aan die goedheid van die Voorsienigheid. In die voorgewel laat hy die teken van die “Alsiende Oog” inmessel wat oor hom die wag gehou het. Hy benadruk teenoor sy kroos die behoefte aan dankbaarheid teenoor God vir aardse seëninge; hy vermaan hulle om in Gods Voorsienigheid te glo en verhaal hoe hy in die land gekom het met net een goue “ryder” in sy sak.

In sy herinneringe skryf P.B. Borcherds, seun van ds. Meent, soos volg i.v.m. die oprigting van die huis:

“Menige baksteen in daardie gebou is onder my oog gevorm, en baie ure het ek by die gebou toesig gehou, terwyl daar nogtans verwag is dat my Latynse les behoorlik voltooi moes word.”

Die huis is U-vormig gebou met een van die vroegste neo-klassieke pilastergewels. Die pilasters word tussen die vensters herhaal en verleen aan die fasade ’n buitengewone waardigheid en skep die indruk van aristokratiese trots.

F. Trotter • La Gratitude • William Fehr-versameling
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 65.

 

(e) Die Ou Stellenbosse Gimnasium (Geen toegang) (Geproklameer 1968)

Net ’n klein entjie bokant La Gratitude, aan die teenoorgestelde kant van Dorpstraat, staan ’n beskeie geboutjie met ’n eienaardige verandatjie so half ongelyksoortig aan die res van die geboue waartussen dit vasgedruk is. Dit is die Stellenbosch Gymnasium waaruit die Paul Roos Gimnasium en die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel het.

Op 28 Januarie 1864 het ’n aantal plaaslike belanghebbendes bymekaar gekom en besluit om ’n Gymnasium te stig om seuns o.m. voor te berei vir die admissie-eksamen wat toegang verleen tot die Teologiese Kweekskool. Die Gymnasium is op 1 Maart 1866 geopen met 88 skoliere. Die eerste paar maande lank is in die Ou Leeskamer, regoor die Teologiese Kweekskool skoolgehou. Daarna het die Bestuur van die Gymnasium met mnr. Japie Joubert gereël dat hulle ’n gebou wat hy sou laat oprig, as skoolgebou sou huur. Hierdie ou geboutjie is dus deur mnr. Joubert gebou. Dit het oorspronklik uit vier groot vertrekke bestaan en is op 1 Julie 1866 in gebruik geneem. So vinnig het die aantal leerlinge aangewas dat reeds die volgende jaar nog ’n vertrek agter aangebou moes word.

Hierdie gebou het die Gymnasium tot 1874 gehuisves. Toe het dit te klein geword en is ’n nuwe skoolgebou betrek – die huidige polisiekantoor op die hoek van Pleinstraat en Van Ryneveldstraat.

Nadat opgehou is om die gebou as skool te gebruik, is verdere aanbousels veral aan die oostekant gemaak. In 1967 is dit deur Historiese Huise van Suid-Afrika Bpk. aangekoop en gedeeltelik gerestoureer.

Nerine Desmond • Die ou Stellenbosse Gimnasium
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 66.

 

(f) “Diaconies Remise” (Geen toegang) (Geproklameer 1970)

Hoe hoër op ’n mens in Dorpstraat gaan hoe nader aan die ou sentrale dorp kom jy en hoe digter opmekaar staan die skilderagtige ou wonings. Dorpstraat 156 dra die verhewe naam Diaconies Remise en is uit hoofde van sy historiese en argitektoniese belangrikheid deur Historiese Huise van Suid-Afrika Bpk., aangekoop.

Op 16 Desember 1753 het die kerkraad van die Ned. Geref. gemeente van Stellenbosch “seekere Huijs, Thuijn en erf van Maria Strand, Wedwe Schrik” teen 4 000 guldens gekoop “ten eynde deselve voor altoos tot een pastory en woning voor den predicant deeser gemeente zal zyn, en blijven”. Die erf, geleë aan die “wagenpad”, was in werklikheid ’n klein plasie, ongeveer twee hektaar groot, en het gestrek van Kerkstraat tot aan die Eersterivier. In 1799 het die kerkraad dus die groot tuin voor die pastorie in drie erwe afgesny en dit verkoop. Twee van die erwe, die onderhawige Dorpstraat 156 asook Dorpstraat 158, wat toe van Dorpstraat tot Kerkstraat gestrek het, het in besit van ene Hermanus Metzelen gekom. In 1807 het laasgenoemde weer Dorpstraat 156 aan Pieter Malan verkoop wat dit twee jaar later aan Elizabeth Albertyn, die weduwee van Chris Wijckert, oorgemaak het. Dié erf het toe nog van Dorpstraat tot aan Kerkstraat gestrek en was so groot dat die weduwee dit in twee laat verdeel het. Dié deel wat aan Kerkstraat gegrens het, het sy vir haarself gehou maar Dorpstraat 156 het sy in 1818 aan Adolph Samuel van Coller verkoop. Hy het die eiendom jarelank besit sodat dit eers in 1846 op die naam van F.P. Hauptfleisch getransporteer word.

Wie van hierdie reeks eienaars verantwoordelik was vir die bou van die huis, is heeltemal onseker, maar volgens kenners dui die boustyl daarop dat dit gedurende die eerste dekade van die 19de eeu opgerig is. Die huis is dan ook een van die heel weiniges met ’n outentieke boogpoort teenaan die hoofopstal wat van die straat na die agterplaas toegang verleen.

 

(g) Dorpstraat 153, 155 en 157 (Geen toegang) (Geproklameer 1970)

In Bo-Dorpstraat en aan die regterkant soos ’n mens van onder af opkom, lê daar ’n ry ou huise wat die een aan die ander skakel. Om die tradisionele straatbeeld te red, het Historiese Huise van Suid-Afrika Bpk. die meeste van hierdie huise aangekoop en gerestoureer.

Soos hierdie huise vandag nog daar aanmekaar geskakel lê, so was die families wat deur die jare daarin gewoon het ook dikwels met mekaar verbonde. Die erf waarop die huise Dorpstraat 153, 155 en 157 vandag geleë is, was in die ou dae bekend as erf H en dit was ongeveer 4 000 m2 groot. Vanaf 1704 was dit reeds in besit van Jacobus van der Berg, hoewel dit eers in 1713 formeel aan hom toegeken is. In 1788 het die toenmalige eienaar, P.G. Wium, twee erwe aan die oostekant van Dorpstraat 153 verkoop, terwyl hy laasgenoemde behou het. In 1799 erf Wouter Wium hierdie erf uit sy vader se boedel, maar verkoop dit al dadelik aan Coenraad E. Ackermann, wat dit op sy beurt in 1812 aan Fred. Jac. Hauptfleisch oormaak. Die huis is waarskynlik deur laasgenoemde gebou en staan dan ook as Hauptfleisch-huis bekend. Na Hauptfleisch het die huis agtereenvolgens in besit gekom van bekende ou Stellenbosse families – F.R.L. Neethling, C.L. Neethling (F.R.L. sn.), J.R. Joubert en Willem van Blommenstein in 1879.

Om nou terug te keer na Dorpstraat 155 en 157. Soos reeds vermeld, het P.G. Wium in 1788 die stuk grond waarop die twee huise tans staan, verkoop en wel aan sy skoonseun Hendrik Ludolph Neethling, seun van die bekende C.L. Neethling, oudsekretaris van die Raad van Justisie en bouer van Grosvenor-huis. Pas twee jaar daarna verkoop Neethling egter die grond aan Cornelis M. Smuts. Tydens sy besit moes hy een van die huise gebou het, heelwaarskynlik Dorpstraat 155, want in 1798 verkoop hy huis en erf aan Meuwes Janse Bakker.

Die oorname deur Bakker maak die geskiedenis van hierdie eiendom betekenisvol. Hy was oorspronklik ’n seeman van beroep. Die oorlogsboot waarin hy ’n opvarende was, het naby die kus van Suid-Amerika skipbreuk gely, maar hy was een van die wat op wonderbaarlike wyse aan die dood ontkom het. Uit dankbaarheid vir hierdie verlossing, het hy besluit om sy lewe aan sendingwerk onder die heidene aan die Kaap te wy. Hy het hom op Stellenbosch gevestig, waar hy die huis en erf in Dorpstraat gekoop het. Hier het hy aanvanklik op eie houtjie aan ’n aantal slawekinders onderrig gegee. Weldra het die Stellenbosse kerkraad, waarin hy kragtige sendingvriende soos ouderling J. Groenewald en diaken J.N. Desch gehad het, amptelike erkenning aan sy werksaamhede verleen en hom geldelik gesteun.

In 1799 is in Kaapstad Het Zuid-Afrikaansche Genootschap ter bevordering van de uitbreiding van Christus Koninkrijk gestig en Desch en Bakker is deur die sendingvriende op Stellenbosch as korrespondente van die Genootskap benoem. Ds. Meent Borcherds, destyds predikant van Stellenbosch, het nie sy weg oopgesien om die Genootskap te steun nie, maar was nie blind vir die behoefte wat daar aan sendingwerk binne die gemeente bestaan het nie. Op sy aandrang het die kerkraad Bakker dus as sendeling in Stellenbosch aangestel en onderneem om die finansiële verpligtinge in verband met sy werk te dra. In Augustus 1799 het hy begin met godsdiensoefeninge op Sondagsmiddae aan die slawe en hy het daarmee soveel sukses gehad dat sy huis hier in Dorpstraat te klein was vir die opkomste.

Bakker het egter die tekortkoming dat hy nie ’n geordende sendeling was nie so sterk aangevoel dat hy in 1800 na Holland vertrek het om die nodige opleiding te kry. In sy afwesigheid het sy vriend J.N. Desch en ander sending-entoesiaste egter sonder oorlegpleging met die Stellenbosse kerkraad ’n eie sendinggenootskap gestig – die Stellenbosche Medewerkende Genootschap. Dit het spanning tussen die kerkraad en die sending op Stellenbosch veroorsaak. In 1801 het Bakker teruggekeer en toe hy hom met Desch se Genootskap vereenselwig, wou die kerkraad hom nie verder aanvaar nie. In sy huis in Dorpstraat het hy egter met sy dagskool vir slawekinders en godsdiensoefeninge vir die gekleurdes voortgegaan. Gelukkig is die breuk tussen hom en die kerkraad in 1803 geheel toe hy op uitnodiging van laasgenoemde toegestem het om sy werk weer onder hulle toesig te doen.

Onvermoeid en terwyl sy liggaamskragte weens swak gesondheid steeds afgeneem het, het hy met die hulp van sy vrou die onderrig van slawekinders in sy huis in Dorpstraat 155 tot 1815 voortgesit. Vir hom egter was die verkondiging van die Evangelie aan die heidene die hoogste roeping en so gewild was sy godsdiensoefeninge dat die ruimte in sy huis totaal ontoereikend geword het. Reeds in 1810 het die direksie van die Stellenbosche Meewerkende Genootschap dus begin dink aan die bou van ’n eie oefeninghuis. Bakker was nie ten gunste hiervan nie, want hy wou graag hê die oefeninge moes in sy huis plaasvind. In 1819 het Bakker aangebied om sy huis aan die direksie te verkoop sodat dit as oefeninghuis en skool na sy dood gebruik kon word, want dit was sy begeerte dat “soo lang als er een spyker” in sy huis was, dit in diens van die sending moes wees. Die direksie het die aanbod van die hand gewys, maar het tog in 1820 Dorpstraat 157 van hom gekoop. In dieselfde jaar het hy ook ’n stukkie grond aan sy buurman F.R.L. Neethling, van Dorpstraat 153 verkoop. In 1822 het die Sendinggenootskap ’n erf op die Braak gekry, waar hulle met die bou van die oefeninghuis tans die Rynse Kerk, begin het. In dieselfde jaar is Bakker deur eerw. Erasmus Smit as sendeling opgevolg en hy het in sy huis bly woon.

In 1825 het die Sendinggenootskap Dorpstraat 157 aan ’n sekere David Kinneburg verkoop en hy moes nog in dieselfde jaar die bestaande huis daarop gebou het, want op die voorgewel pryk hierdie jaartal. In 1833 het Kinneburg ook eerw. M. Bakker se huis in Dorpstraat 155 gekoop.

Vir byna ’n driekwart eeu was die twee huise nou weer gesamentelik in besit van dieselfde agtereenvolgende eienaars – Kinneburg (1833-1857), Hendrik C. Hugo (1857-1860) die wed. Jacobus P. Roux (1860-1871) en C.F. Beyers (1871-1887). In laasgenoemde jaar kom die twee huise weer eens in besit van ’n hoogs merkwaardige persoonlikheid – Hubertus Elffers, skrywer van Hollandse skoolboeke en grammatikas. Hy was destyds aan die Stellenbosch Gymnasium, ’n entjie laer af in Dorpstraat, verbonde. In hierdie huise moes hy gedurende sy kort verblyf van ongeveer drie jaar die heruitgawes van sy Practical Dutch Grammar and analysis en An elementary grammar of the Dutch language, for the use of the lower classes in schools versorg het, terwyl hy ook hier sy Practische Hollandse spraakkunst moes geskryf het.

Elffers het Stellenbosch rondom die jaar 1890 verlaat om op Smithfield, O.V.S., te gaan skoolhou. Daarna het hierdie huise herhaaldelik van eienaars verwissel totdat Dorpstraat 157 in besit gekom het van die welbekende Springbok-rugbyspeler, Bob Loubser, ook Iater parlementslid vir Stellenbosch. Vandaar dan ook dat hierdie huis as Loubser-huis bekend staan.

Dorpstraat 155 en 157 is dus van buitengewone belang in die geskiedenis van die sending en die letterkunde in Stellenbosch. Ook argitektonies is hierdie twee enkelverdiepinghuise met hul beskeie gewels belangrik. Dorpstraat 157 is trouens een van die weiniges met ’n rondel-motief op die pilasters aan weerskante van die gewelvenster.

Nerine Desmond • Dorpstraat 153, 155 en 157 met Saxenhof (heel links)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 68.

 

(h) Saxenhof (Geen toegang) (Geproklameer 1970)

Onmiddellik bokant die drie interessante enkelverdieping-skakelhuise, Dorpstraat 153, 155 en 157, staan die dubbelverdiepinghuis, Saxenhof, voorheen ook as Neethling-huis bekend.

Die grond waarop hierdie huis staan is reeds in 1704 aan Pieter Andriesz Saxe toegeken. Dit het sestien jaar aan hom behoort en dit word aanvaar dat hy die oorspronklike H-vormige Kaaps-Hollandse huis daarop gebou het. Gedurende die 18de eeu het eiendom agtereenvolgens aan 12 verskillende eienaars behoort, meeste van hulle met name totaal vreemd aan die bekende Stellenbosse families – Palmer, Couterman, Cats, D’Ailly, Geneke, Mosser, e.a. In 1782 het die Ned. Geref. Kerkraad die gebou as kostershuis gekoop, maar dit na sewe jaar al weer van die hand gesit.

In 1833 het hierdie huis die eiendom geword van dr. Jacob Versfeld, ’n man wie se naam op Stellenbosch spreekwoordelik geword het. Hy word vermeld as die eerste dokter wat in Suid-Afrika opgelei is, want in 1819 is hy as vakleerling by dr. Samuel Bailey van Kaapstad ingeskryf. Teen betaling van sestig pond het dr. Bailey onderneem om die jong Versfeld van genoeg vleis en drank te voorsien en hom bowendien die “professie en beroep van ’n chirurg” te leer.

In 1822 is hy na Skotland waar hy in 1825 die graad M.D. in Edinburgh behaal het. In 1830 vestig hy hom op Stellenbosch, waar hy 54 jaar praktiseer. Op drie jaar na, woon hy die hele tyd in Saxenhof. In 1889 word die huis uit die boedel van sy weduwee weer aan ’n medikus, dr. J.H. Neethling, verkoop. Kort daarna verander hy die ou enkelverdiepinghuis in ’n aantreklike tipe Georgiaanse dubbelverdieping. Die oorspronklike pragtige plafonne en ’n paar sy- en agtervensters van die ou huis word egter behou.

In Stellenbosch het dr. Johannes Henoch Neethling vir hom naam gemaak nie slegs as tradisionele huisdokter nie, maar as openbare figuur wat op die belangrikste liggame, o.a. die Universiteitsraad, gedien het. Uit hoofde van sy bekendheid is dan ook wel spontaan van sy woning as Neethling-huis gepraat. Na sy dood het die huis in besit gekom van sy skoonseun, prof. J.S. Marais, later hoof van die Stellenbosch-Elsenburg-Landboukollege.

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 63-69.