Donker dae vir die Voortrekkers

Die heldedaad van Dirkie Uys
March 30, 2015
Agterryers van die ABO met beeld vereer
March 31, 2015

By die geveg van Italeni moes nie net Uys se manne vlug nie, maar ook Potgieter se kommando. Die skrik het wyd versprei en elkeen het van die onheilstoneel probeer wegkom. Die aand van 12 April het die eerste twee lede van die kommando weer by die laer aangekom en die hele nag het nog meer opgedaag “met bedrukte aangezichten”, soos Erasmus Smit in sy dagboek aanteken. Baie mense het Potgieter van lafhartigheid beskuldig en hom bitter verwyt. Ander het gemeen dat hy wel deeglik probeer het om Uys-hulle te help deur ’n pad vir hulle oop te skiet. Die kommando is die Vlugkommando genoem. Diep beledig deur die kritiek en verwyte is Potgieter en sy mense, ook Paul Kruger se familie, vir goed uit Natal. Potgieter was baie teen die trek na Natal, en toe party trekkers ook nog die skuld vir die mislukte strafekspedisie op hom pak, was dit vir hom te erg.

’n Paar dae ná Italeni het die Zoeloes weer geseëvier. Sowat 1500 swart mense en 17 Engelse handelaars wat onder Robert Biggar opgetrek het, is verslaan en 13 wit en sowat 1000 swart mense is gedood.

Die toestand was wanhopig. In Julie 1838 het ’n groot brand in een van die laers ontstaan, en masels het uitgebreek onder die mense. Sommige dae het hulle byna geen kos gehad het nie. Koue en nattigheid het die meeste sterfgevalle veroorsaak. Op 14 Augustus het ongeveer 10 000 Zoeloes met ’n nuwe aanval begin en twee dae lank geprobeer om die laers te oorrompel. Dié was egter nou goed versterk, soms met mure van sooie. Onder leiding van kommandante soos Hans de Lange (“Hans Dons”) en Karel Landman is die aanvalle afgeslaan, hoewel die aanvallers weer baie vee saamgeneem het.

Nog ’n terugslag was die siekte van Maritz en sy dood op 23 September 1838 in die ouderdom van 41 jaar. Ondanks al die rampspoed was die trekkers vasbeslote om in Natal te bly. In Mei 1838 is Natal deur ’n proklamasie formeel in besit geneem. Die hoofstad sou wees Pietermaritzburg, genoem na Retief en Maritz. Lande wat in Mei en Junie geploeg en gesaai is, is in Oktober geoes. Behalwe woonhuise is ’n hut gebou waar die leraar die katkisante kon voorberei.

Die Afrikaners in die Kolonie het die nuus van die trekkers se teëspoede met diepe besorgdheid ontvang en het dadelik iets probeer doen om te help. Groot insamelings is oral gehou en ’n skip het in September met geld, klerasie en allerlei ware in Port Natal aangekom. Die Kapenaars het besef dis hul bloedverwante wat in gevaar is. So ’n besef van bloedverwantskap is ’n voorwaarde vir die ontstaan van ’n volksgevoel. De Zuid-Afrikaan het die trekkers verdedig teen die aanvalle van die filantrope onder leiding van die Commercial Advertiser. Dié blad het Retief beskou as ’n “madman” en hom en sy mense bestempel as “legally speaking, Rebels”. Anders as die Britse owerheid was baie Engelstaliges aan die grens die trekkers simpatiekgesind.

Intussen moes die trekkers hulle voorberei vir die stryd teen Dingane. Die nuwe leier was op pad – Andries Pretorius, gebore op 27 November 1798 op Graaff-Reinet. Hy sou een van die belangrikste Afrikanerleiers van die eeu word.