Doktor Verwoerd kritiseer Van Wyk Louw

Nelson Mandela gevonnis
January 25, 2015
Nog botsings met Verwoerd
January 26, 2015

Van Wyk Louw en Verwoerd was destyds die Afrikaners wat die grootste aansien geniet het. Oor verskeie sake het hulle twee verskil: die politieke integrasie van die bruin by wit mense, die sensuurstelsel, die weiering van ’n visum aan mevrou Breytenbach. In 1966 het hulle skouspelagtig gebots. Louw is gevra om ’n toneelstuk te skryf vir die viering van die vyfde verjaarsdag van die republiek in Mei 1966. Die stuk oor die Anglo-Boereoorlog was getitel Die pluimsaad waai ver. Die Vrystaatse president, MT Steyn, speel ’n belangrike rol, maar Louw het ook gesê: “As iemand vra: wie is die held van hierdie stuk, sou ek moet antwoord: die Afrikaanse volk self. Hierdie volk is teen sy sin en sonder vorige ervaring in ’n stryd met ’n wêreldmag gesleep. Hoe hy hom verweer het, wat hy moes leer en afleer, ook die skeuring wat daarbinne hom gekom het – dit is die tema.”

Die stuk het baie toneelgangers geroer, maar doktor Verwoerd het bedenkinge daarteen gehad. Sy beswaar was dat dit nie histories getrou was nie, omdat van president Steyn nie ’n held nie, maar ’n patetiese figuur gemaak is. Verwoerd het misprysend daarna verwys in ’n toespraak die aand van 31 Mei 1966. Daar was vroeër die dag tussen 500 000 en 750 000 mense by die Voortrekkermonument vir die Republiekfeesparade – die grootste skare tot in dié stadium in Suid-Afrika. Verwoerd het die begeerte uitgespreek dat skrywers en digters na vore sal tree om “die heldedade van hul eie geslag te besing. Hulle moet mense wees wat nie weifelend vra: Wat is ’n volk? nie, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk, só kan hy ook wondere verrig …” Dit was ’n verwysing na Van Wyk Louw se stuk wat begin het met die woorde: “Wat is ’n volk?”

Veral in die Transvaalse koerante is talle briewe geskryf, meestal vir Louw. Onder sy verdedigers was professor Gerrit Viljoen wat in 1967 rektor van die nuwe Randse Afrikaanse Universiteit sou word, en professor Frans van Rensburg, eerste professor in Afrikaans aan dié universiteit en ’n Van Wyk Louw-kenner. Op ’n onthaal ter ere van Louw op sy 60e verjaarsdag het Louw na Verwoerd verwys. Sy vriende was verras toe hy hulle aanspreek met die woorde “my volk”. “My volk”, het hy begin, en toe, ná ’n kort aarseling, nogmaals: “My volk’. En toe moes hy vir eers ophou: eers ’n paar, toe ’n héle paar, en toe almal, het begin hande klap en aanhou klap. Want met net hierdie twee woorde het Louw sy sê gesê en doktor Verwoerd die stryd aangesê. Die handeklap, het ’n skrywer later die applous geïnterpreteer, wou sê: Ja, só is die volk, so is ons, en jy is ons digter. Die applous was ’n beaming van Die pluimsaad waai ver se breë demokratiese definisie van die Afrikanervolk en ’n dankbare aanvaarding van Louw se lidmaatskap van die volk.

Louw het later gesê dat ’n volk dit nie kan bekostig om van sy beste skrywers neutrales, skerp kritici of vyande te maak nie. Nêrens in die geskiedenis, behalwe miskien in Rusland, het die skrywers finaal so ’n stryd verloor nie. Waar hulle vandag miskien doodgedruk kan word, kom hulle terug, al is dit na vyftig jaar. Binne ’n paar jaar sou dit blyk hoe reg Louw geoordeel het.