Doktor HF Verwoerd neem oor

“Die wonder van Afrikaans”
January 25, 2015
Sharpeville en moordaanslag op Doktor Verwoerd
January 25, 2015

Doktor HF Verwoerd was die opvolger van premier JG (Hans) Strijdom, wat in 1958 oorlede is. Hy het in 1954 as eerste minister by doktor DF Malan oorgeneem. Verwoerd was eers professor in Stellenbosch, daarna (van 1937 af) redakteur van Die Transvaler en van 1950 af minister van naturellesake.

As minister het hy die gematigde doktor EG Jansen opgevolg wat Goewerneur-generaal geword het en van die bekwaamste Speakers was wat die Statebond opgelewer het. Jansen was ook ’n groot kultuurman en nie ’n sterk ondersteuner van apartheid nie. Blykbaar het hy met sy party verskil oor instromingsbeheer en swart behuising.

Verwoerd, daarenteen, was ’n man met dryfkrag. Hy het verskeie maatreëls deurgevoer. Een daarvan was die Wet op Bantoe-onderwys van 1953. Die doel was ’n sentrale staatsliggaam wat rekening hou met die behoeftes, belange en omstandighede van swartes. Die moedertaal moes sover moontlik as voertaal dien.‘n Bittere stryd is teen die wet gevoer omdat dit volgens teenstanders minderwaardige onderwys aan swart kinders sou verskaf. Buitendien wou baie swart ouers onderwys deur medium van Engels hê.

In 1954 het Verwoerd die Wet op die Hervestiging van Naturelle laat aanneem om die woontoestande van swart mense binne die apartheidsraamwerk te verbeter. Dit het die opruiming van “swart kolle” in wit stede ingehou. Daar was heelwat protes teen die verskuiwing van swartes uit Sophiatown; party het daar eiendomsreg gehad. Anders as verwag, was daar geen verset nie, en selfs vreugdebetoon toe die eerste vragmotors die mense vervoer het na Meadowlands, tans deel van Soweto. Die naam is ’n afkorting van South-Western Townships.

Ontevredenheid het gevolg op die beperking van die stroom swartes na die stede. Verwoerd het in 1957 die skeidingsgedagte op die spits gedryf met ’n wetsontwerp waarvan ’n artikel die minister sou magtig om swart mense kerkdienste in wit gebiede te belet. Daarteen het daar ’n storm losgebars sodat Verwoerd die wet moes verwater. Sommige mense het soms hul eie apartheidsidees tot die belaglike gevoer. Een keer is aan blanke inspekteurs in die Departement Bantoe-onderwys voorgeskryf dat hulle swart skoolhoofde nie met die hand mag groet nie!

Dawie van Die Burger het in 1959 kritiek uitgeoefen op klein apartheid, “maatreëls wat irriteer sonder om iets behalwe ergernis te bereik”. Hy het verwys na ’n dreigement om subsidie vir ’n Pietermaritzburgse uitvoering van Die Messias op te skort as dertig “nie-blankes” dit bywoon.

Baie Afrikaners het klein apartheid mettertyd in al hoe groter mate verwerp, selfs, of veral, as hulle ondersteuners van groot apartheid was – die beleid van afsonderlike ontwikkeling. In 1956 is die verslag van ’n kommissie onder professor FR Tomlinson oor die ontwikkeling van die swart gebiede gepubliseer. Die kommissie het afsonderlike ontwikkeling in plaas van integrasie van swart en wit aanbeveel, asook die ontwikkeling van die swart gebiede. Sowat 800 afgevaardigdes het in Julie 1956 op ’n volkskongres van onder meer die FAK en die Afrikaanse kerke hul eenparige oortuiging uitgespreek dat vreedsame integrasie van wit en swart onmoontlik is.