Ons Republiek 1961-1971 – Myne en mynontwikkeling
April 14, 2017
Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie kultuur
April 15, 2017

(Martina Kruger, St. 8 van die Hoër Volkskool op Heidelberg gee hier haar indrukke van die nuwe boek oor Pres. Kruger, soos verskyn in Historia Junior)

In hierdie bundel word ons weer eens opnuut bewus van die feit dat ons taal werklik iets is om op trots te wees. Ons voel dan in ’n mate minderwaardig teenoor ons voorouers en soms moet ons ons hoofde in skaamte laat sak as ons daaroor nadink hoe onsuiwer ons Afrikaans gebruik. Nadat ’n mens egter Dit was Ons Erns gelees het, is dit onmoontlik om nie diep geraak te voel nie, en die behoefte tot verbetering van taalgebruik te ervaar nie.

Ons besef miskien nie altyd of dink nie daaraan dat Afrikaans die jongste selfstandige taal is wat nie kant en klaar van oorsee af gekom het nie. Die boekie gee ’n duidelike beskrywing oor die wonder van ons taal se ontstaan en ook die naam daarvan.  Dis heel interessant om te weet dat die Portugese daarvoor verantwoordelik was dat die vasteland van Afrika sy naam gekry het en uiteindelik is die naam “Afrikaans” daarvan afgelei.

Ons is so geneig om alles maar net te aanvaar soos dit is en nie te dink aan die smaad en die hoon wat sommige van ons voorvaders moes verduur, terwyl hulle geveg het vir die bestaan van Afrikaans nie. Daar is eers neerhalend gepraat van die kombuistaal, maar in 1870 staan mense op wat die goeie reg van die volkstaal bepleit en allerhande veroordelende en beledigende benamings afwys. Hulle het standvastig volgens oortuiging gehandel, sodat hulle naderhand bekeerlinge verwerf het.

CJM Nienaber vertel ons baie interessante dinge van die hoogtepunte in die Afrikaanse letterkunde. Hy meen dut Afrikaans oor ’n omvangryke boekeskat beskik. Alleenlik gedurende die eerste eeu sedert die skriftelike gebruik van Afrikaans het daar oor die 15 000 werke verskyn.

Ons sien dat reeds in die vroegste geskrifte, soos bv. De Zuid-Afrikaan, daar gepleit word vir ‘n Bybelvertaling in Afrikaans en dit word dan ook later die einddoel. Dit was ’n groot ideaal waarna die voorstanders van Afrikaans gestrewe het. Hulle het egter besef dat so ’n groot ideaal dade sou verg en dat dit ’n ontsettende groot werk sou wees om hierdie ideaal verwesenlik te kry. Die mense word ook aangemoedig om te dig en hoewel dit aan die begin verspotte rympies was, verbeter dit in so ’n mate dat ons kan roem op die welbekende “Winternag” van Eugène Marais. Die gedig het dadelik bewys dat Afrikaans inderdaad daartoe in staat is om op onherhaalbare wyse literêre kuns van blywende waarde te skep.

So het daar nog baie ander digters te voorskyn getree en hulle talente op so ’n wyse gebruik dat ons vandag met reg trots op hul werke kan wees. Met die prosakuns het dit egter nie so voorspoedig gegaan soos met die verskuns nie. Verskillende mense het hulle egter op meer gebiede beywer en vandag kan ons roem op skrywers soos Mikro, CM van den Heever, CJ Langenhoven en nog baie ander wat uitstekende werke gelewer het. Hierdie bydraes was van onskatbare waarde vir die Afrikaanse literatuur en aan hulle is ons baie dank verskuldig.

Daar is in so ’n mate vordering gemaak op die gebied van die letterkunde dat die eerste Afrikaanse boek, geskryf deur LH Meurant in 1861 uitgegee word. Voor hierdie tyd het daar egter alreeds tydskrifte en koerante ook verskyn. Ook die eerste digbundel met godsdienstige verse verskyn gedurende hierdie tydperk.

Vordering is steeds gemaak en in 1875 word die “Genootskap van Regte Afrikaners” gestig met die doel om Afrikaans erken te kry as spreek- en skryftaal van die Afrikaners. Genoemde beweging het baie bygedra tot die bevordering van Afrikaans. Dis produktiefste tydvak was van 1881-1885. In geen jaar het minder as vier Afrikaanse boeke verskyn nie en in 1882 selfs sewe. Dit is natuurlik ’n baie belangrike prestasie vir so ’n jong taalbeweging wat onder die moeilikste omstandighede begin en gewerk het.

Die drukpers word verbeter en baie uitgebrei. Van tydskrifte en koerante word daar ook nog baie in die boekie gesê. Wanneer ons kyk na die statistieke en ons sien watter ongelooflike vordering daar op die gebied van ons Afrikaanse letterkunde gemaak is, dan twyfel ons beslis nie oor die toekoms van Afrikaans nie.

Vandag bring ons nog hulde aan die persone wat onder sulke moeilike omstandighede en nie sonder baie opofferings nie, dit vir ons moontlik gemaak het om vandag ’n taal te gebruik wat ons ons eie kan noem en waarop ons met reg trots kan wees.