“Dit was heerlik om jonk te wees!”

Transvaal word moderne staat
May 22, 2015
Rhodes help beplan ’n aanslag
May 24, 2015

Baie jong Afrikaners in die Kaapkolonie het die twee republieke as ’n uitkoms beskou. ME Rothman, later die skryfster MER, gebore in 1875 in Swellendam, vertel hoe baie Swellendammers nie meer hul tradisionele ambagte – wamakery met die verwante timmerwerk, smidswerk en looiery – kon beoefen nie. Daarby was die skole Engels, en die onderwyseresse het van die jong Afrikaners Engelsvoelendes probeer maak; Engels is geleidelik in die kerk ingevoer.

In dié tyd toe die Engelse meerderwaardigheidsgevoel op sy ergste was, veral in die Kaapse binneland, en die aansien van die Afrikaners ’n laagtepunt bereik het, het baie jong mense uit die Kaapkolonie na die twee republieke getrek. “Nie alleen van armoede na ’n ryk besitting nie, maar van verdrukking na selfstandigheid het die jongmense van daardie dae gegaan wanneer hulle die Kaapkolonie verlaat het om in die Republieke te gaan woon. Dit was nie na die goudvelde alleen dat hulle getrek het nie; dit was nie die groot salarisse en die baie verdien-geleenthede alleen wat gelok het nie. Dink maar aan wat anders hulle ook nog daar gekry het!

“In plaas van Queen Victoria as die hoogste gesag was daar die Boer-presidente, wat op ’n plaas, in die wapad en in die jagveld die lewe begin het; in plaas van die eie taal te moet opsy laat en verag – en as kind gestraf te word vir die gebruik daarvan – was dit die taal, destyds in sy Hollandse vorm maar wel deeglik eie, van die Volksraad, van die geregshof, van die openbare dienste, van die skool. In plaas van die geskiedenis van die eie volk as ’n belaglike en veragtelike flentertjie in ’n Engelse skoolboek teë te kom, is dit as ’n eervolle besitting bestudeer. Die vlag wat op die openbare geboue gewapper het, was nie die Union Jack nie, maar die Vierkleur; die volkslied wat die hart laat klop het was nie ‘God Save Our Gracious Queen’ nie, maar ‘Heft, Burgers’ of ‘Kent gij dat Volk’. Die Volksraad was van republikeine wat vir republikeinse wel en wee raad gehou het, en daarvoor alleen, in plaas van ’n parlement wat in die eerste plek die belange van en die verhouding tot Engeland in ag moes neem. Die koerante kon ’n mens in Hollands lees […] Ai, dit was dae! Dit was heerlik om jonk te wees, en in die Republieke!”

Die taalbeleid van die republieke, veral Transvaal, het Afrikaans bevoordeel. Afrikaners het hulle tuis gevoel in alle staatskantore waar Afrikaans of Nederlands met hulle gepraat en die skryfwerk in Nederlands gedoen is, weliswaar nie altyd ’n “suiwer Hollands” nie. Selfs in Transvaal was Afrikaans in groot mate die werklike medium van onderwys, en nie Nederlands nie. SJ du Toit het gesê: “Engels en Hollans is reeds as offisi’ele tale erken – Holl. mar het di naam en Afrikaans di daad, want in die Volksrade en Parlemente word ni Hollans nie mar Afrikaans gepraat. Di skoolmeester gebruik oek Afrikaans.” Die skoolboeke was in Nederlands, maar die onderwysers en kinders het Afrikaans gepraat. Sy bewering word gestaaf deur opmerkings in Transvaalse onderwysdebatte, asook die getuienis van taalstryders en skrywers soos JHH de Waal, GR von Wielligh en MER.