Geloftefeeskalender 2015
December 1, 2015
Die Britse Setlaars, 1820
December 2, 2015

(Geskryf deur M Buys, St. 11, Hoër Volkskool Heidelberg, soos verskyn in Historia Junior)

uNgungundlovu – Dingaan se hoofstat. Die naam hou nie alleen vir ons geskiedkundige betekenis in nie, maar is ook van aktuele belang.

Dingaanstat is geleë in ’n vallei in suidelike Zoeloeland, bekend as die EmaKhosini oftewel die Begraafplaas van die konings. Die vallei is “die wieg van die Zoeloenasie”. Toentertyd was dit uitsluitlik vir koninklike krale gereserveer. Oorblyfsels van die krale Nobamba, Siklebheni, asook uNgungundlovu is nog steeds te vinde. Ook kan die grafte van Zoeloekonings soos Zulu, die seun van Nkosinkulu, Phunga, Mageba, Ndaba, Jama, Senzangakhona en Dinizulu hier gesien word.

Die ligging van Dingaanstat is van geografiese sowel as strategiese waarde. Dit is geleë teen die helling van een van die uitlopers van die Ntonjaneni. Vanaf die kruin hiervan, bekend as Singonjama (Leeukop), kan die hele EmaKhosini besigtig word. Die kraal was boonop goed van water voorsien uit die Ntonjanenifonteini, sowel as die Mkumbane- en Nzolospruite. Aan die onderkant van die Mkumbane is die heuwel Hloma Amabutho, wat aan die noordelike punt, langs die spruit, ‘’n klipperige uitloper, KwaMatiwane, Dingaan se galgheuwel vorm.

Die plek waar Dingaan se kraal geleë was, was ook ryk aan historiese en nasionale assosiasies. Die hoofingang van sy kraal was in die rigting van die graf van die stigter van die Zoeloedinastie waartoe Dingaan behoort het – Nkosinkulu. In alle waarskynlikheid was Nkosinkulu se kraal ook daar geleë.

In sy algemene uitleg was die kraal ovaalvormig, met die hoofuitgang aan die onderent daarvan in die rigting van die samevloeiing van die twee spruite. Die sirkel van die kraal is gevorm deur twee konsentriese heinings van doringboompale, waarbinne die hutte geleë was. Aan die bo-ent van die groot kraal was daar drie kleiner krale.

Byna ’n honderd tree van die kruin van die heuwel was daar drie kleiner krale, buite die hoofkraal. Hulle het as die Ebheje of Bheje bekend gestaan. In die middelste kraal was daar agt en in die ander twee vier hutte elk. Hier het alleen lede van die koninklike familie gewoon, terwyl daar in die linkerhandse kraal ’n aantal graanputte was. Voorts was daar die sogenaamde Kraal van die Geeste. Ongeveer ’n 800 tree ten suid-weste van Singonyama en die Ebhejekrale het Dingaan Shaka se kraal, Dukuza, as woonplek vir laasgenoemde se siel en gees herbou.

Die boonste gedeelte van die hoofkraal, geskei van die res deur ’n hoë paalheining, het die Koninklike kwartier of isigodlo uitgemaak. Dit het sy eie toegang gehad wat noukeurig bewaak is, en het uit twee afdelings bestaan – die swarte en die witte. Die swart isigodlo aan die regterkant, was die persoonlike kwartier van Dingaan en het uit ’n groep baie groot hutte bestaan. Die wit isigodlo was veel groter; hier het onder die toesig van die Nkosikazi (hoofvrou) die koning se 300 of meer vroue gewoon.

Omdat uNgungundlovu ’n militêre kraal was, het die kaserne van die Zoeloekrygsmanne wat hier gestasioneer was, al twee die horings beslaan wat na die hoofingang afgeloop het. Daar was altesaam nege impi’s, waaronder ook die beroemde Witskilde. Elkeen van die horings het vier impi’s gehuisves, en elke impi het sy eie terrein binne die horing beslaan. In bevel van elke impi was ’n indoena en oor elkeen van die horings was ’n hoofindoena. Oor die regterhoring, soos van bo af gesien, het Mhlele die bevel gevoer. Sy hut was net buite drie swart isigodlo. Darmbuza was opperbevelhebber van die linkerhoring, en sy hut was aan die bo-ent van hierdie horing, net onderkant die westelike punt van die wit isigodlo.

Die ovaalvormige kraal het ’n geweldige oop terrein omsluit. Aan die onderent van hierdie oop terrein, aan weerskante van die hoofingang, was daar groot krale waarin groot troppe beeste gehou is. Aan die bo-ent van hierdie gedeelte, net onderkant die isigodlo was die kraal van die wit beeste. Hier het die koning sy raadsvergadering gehou.

Die ope terrein tussen die verskillende beeskrale was bekend as die isibaya en is ook as paradeterrein vir die krygsmanne gebruik. In hierdie ruimte, net onderkant die kraal van die wit beeste, het Dingaan by belangrike geleenthede sitting geneem.

Die geskiedenis van uNgungundlovu as die beliggaming van die Zoeloemag en Zoeloegewoontes gedurende die jare 1829-1838 is buitegewoon omvattend en interessant.

Gedurende Shaka se uitdelgingsoorloë is die Amangwanestam, wat destyds in die teenswoordige distrik Vryheid gewoon het, oor die Drakensberge gedryf. Op ’n plundertog het hulle deur Basoetoland en oor die Oranjerivier die Kaapkolonie binnegetrek, vanwaar hulle deur die koloniale magte teruggedryf is. Met ’n brokkie van sy stam het Matiwane uiteindelik na Zoeloeland teruggekeer en na uNgungundlovu gegaan om by Dingaanskuiling te soek. Met geveinsde vriendelikheid het Dingaan hom ontvang, maar skielik het hy hom na die klipperige heuwel oorkant die Mkhumbane laat neem en hom daar gedood. Van daardie dag af het die heuwel as kwaMatiwane bekend gestaan. Dit het geword die Golgotha van uNgungundlovu.

Dingaan het op goeie voet verkeer met die Engelse handelaars uit Port Natal. In 1833 het die bekende reisiger dr. Andrew Smith op ’n spesiale besoek van die Kaapkolonie na uNgungundlovu gekom. Die handelaars is deur sendelinge gevolg. Eerwaarde Francis Owen is aldaar gestasioneer. Hy het in opdrag van Dingaan sy plek op Hloma Amabutho ingerig. Die NG Kerk Sendingpastorie staan tans daar.

Teen die middel van 1837 het die voorhoede van die Groot Trek die Drakensberge bereik. Piet Retief en ’n paar volgelinge het van Kerkenberg oor Port Natal na uNgungundlovu gereis om van Dingaan ’n grondskenking te verkry waarop die Voortrekkers hulle sou kon vestig. As voorwaarde vir so ’n skenking het Dingaan gestel dat Piet Retief eers die beeste, wat deur mense soos die Boere gekleed, gesteel is, moes terugbesorg. Retief het toegestem en het daarin geslaag om die beeste van die skuldige Sikoinyella, hoof van die Mantatisi in Noord-Basoetoland, terug te wen. Op 3 Februarie 1838 het Piet Retief met 69 metgeselle en sowat 30 Kleurling-agterryers met die beeste by uNgungundlovu aangekom.

Nadat Piet Retief ’n paar dae by die kraal vertoef het, het Dingaan ’n traktaat opgestel waardeur hy aan die Voortrekkers die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu “and from the sea to the north as far as the land may be useful and in my possession” gegee. Hierdie dokument, wat 4 Februarie 1837 gedateer is, is op 6 Februarie in die laaste onderhoud tussen Piet Retief en Dingaan onderteken. Op hierdie môre het die Voortrekkers en hulle agterryers die kraal ongewapend binnegegaan om die finale onthaal by te woon en om van die koning afskeid te neem. Terwyl die Zoeloekrygers gedans het, het Dingaan verraderlik die bevel gegee om die Voortrekkers te dood. Die blankes het hulle heldhaftig verset, maar hulle is oorrompel en na die galgheuwel gesleep, waar hulle gedood is. Die sendeling Owen en sy huishouding, wie se kamp op hierdie heuwel uitgekyk het, was die enigste blanke ooggetuies van hierdie toneel.

Onmiddellik na die moord op Retief het Dingaan duisende van sy krygsmanne van uNgungundlovu afgestuur om die Voortrekkers langs die Bloukrans- en die Boesmansrivier uit te wis. Op die vroeë môre van 17 Februarie het hulle onverwags die laers aangeval en voor die voet die mense uitgemoor, maar hulle is uiteindelik teruggeslaan. Die Voortrekkers het egter nie daarin geslaag om die dood van hulle landgenote te wreek nie, en vir ’n jaar is hulle voortdurend deur impi’s aangeval. Uiteindelik het genl. AWJ Pretorius op 16 Desember 1838 die Zoeloeleër by Bloedrivier verslaan en opgetrek om uNgungundlovu aan te val. By die nadering van die Voortrekkerkommando het Dingaan sy kraal verlaat en van ’n afstand het hy aan Velenjeni Mawongo, sy lyfbediende, opdrag gegee om die kraal aan die brand te steek. Van ’n heuwel Isihlalo, ver na die noorde, het hy gesit en kyk hoe sy groot kraal in vlamme opgaan. Toe die Voortrekkers dus op 21 Desember daar aankom, het hulle die kraal aan die brand en verlate gevind. Op kwaMatiwane het hulle die oorskot van Retief en sy manskappe, asook die leersakkie met die verdrag daarin gevind.

Die beendere van Retief en sy manskappe is deur Pretorius aan die voet van kwaMatiwane begrawe, en in 1922 is aldaar ’n monument ter herinnering aan hulle opgerig. In 1836 is uNgungundlovu deur die Historiese Monumentkommissie tot ’n historiese monument verklaar.

Op hierdie plek, wat so ’n beslissende rol in ons geskiedenis gespeel het, is die sendingwerk voortgesit. Hier het in die laaste jare die Dingaanstat Sendingstasie gegroei en dit kan beskou word as ’n lewende monument van Christelike vergifnis.

Dingaanstat, en dit wat daarmee saamhang, hou vir ons tweërlei betekenis in. Enersyds staan dit as ’n herinnering aan vervloë dae en andersyds maak dit gewag van die taak wat op ons wag. Hierdie taak, naamlik die opheffing van die Bantoe om hom sodoende in staat te stel om sy plek in die samelewing vol te staan, is van uiterste aktuele belang!

Herboude_iNdlunkulu_en_iLawu_van_die_swart-isiGodlo,_Dingaanstat

Die herboude swart isigodlo en die hut vir byeenkomste in Dingaanstat