Mary Moffat
August 31, 2015
Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand
August 31, 2015

Geskryf deur Ansie de Beer, Boons Sentrale Skool soos verskyn in Historia Junior, Mei 1958.

Op die moord van Retief en sy manne sou nog ’n tweede tragedie volg. Nouliks het die triomfkrete van die Zoeloes oor die dood van hul slagoffers weggesterf, of Dingaan het met sy raadgewers ’n tweede, nog aakliger slagting voorberei. Owen, die sendeling naby die hoofstat, het hom deur sy verkyker in die middel van sy stat sien sit, omring deur sy hoofindoenas. Een van sy raadgewers, ’Ndzobe, het aan hom gesê: “Nou moet ons die wyfievoël en die kinders op die nes gaan vang.” Na daardie raad het Dingaan geluister, want nog dieselfde middag het Owen ’n groot getal Zoeloesoldate in die rigting waarvandaan die Boere gekom het, sien verdwyn. Twee dae later teken Owen in sy dagboek aan dat nog meer Zoeloeregimente dieselfde koers ingeslaan het.

Rustig staan die waens van die Trekkers in klein groepies bymekaar langs die oewers van die Tugela en sy vertakkings. Ten spyte van Retief se waarskuwings om na aanmekaar te bly woon, het die Trekkers geleidelik langs die riviere en spruite verspreid gaan staan. Weiveld vir hul vee en brandhout vir daelikse gebruik het elke familiegroep die ruimte laat soek en Gert Maritz, wat deur die volksvergadering as oppergesagvoerder gekies is, was magteloos om dit te verhoed. Hoewel baie mense reeds oorkant die Bloukransrivier getrek het, het Retief se hooflaer, bestaande uit agt en sewentig waens onder kommandant Greyling, nog by Doornkop bly staan.

Nader aan die Drakensberge was kommandant J. du Plessis wat in Januarie met omtrent honderd waens oor die berg gekom het. Uys se mense was nog op die berg, terwyl Hendrik Potgieter en sy mense êrens tussen die laasgenoemde groepe gestaan het. Suidoos van Doornkop, ongeveer vier myl van die Boesmansrivier, het Gert Maritz se laer gestaan, en effens nader aan die rivier in oostelike rigting was Sarel Celliers. Orals van die Drakensberge af tot oorkant die Boesmansrivier en langs die spruite het familiegroepe rustig gestaan en wag op die terugkoms van Retief.

Gedurende die nag van 16 op 17 Februarie 1838 het duisende Zoeloes gelyktydig ’n aanval op verskillende staanplekke van die Trekkers gewaag. Dit was ’n donker, maanlose nag. Die Liebenbergs en nog ’n paar families van wie die waens oorkant Boesmansrivier gestaan het, is oorrompel en uitgemoor, maar by die Bezuidenhouts het die honde geblaf en alarm gemaak. Daniël Bezuidenhout het opgestaan om vas te stel wat gaande was. Hy het ongeveer drie honderd tree van die waens af gevorder toe hy plotseling besef dat die honde nie teen ’n tier of leeu veg nie, maar deur asgaaie doodgesteek word. Hy skreeu om sy mense te waarsku, maat die Zoeloes het reeds die waens bereik. Hy hoor net die doodsworsteling van sy familie en sy gesin. Slegs sy veertienjarige broertjie Hans wat die waarskuwende krete gehoor het, het betyds van die waens af weggekom. Hy het een van hul perde gevang, met sy kruisbande teuels gemaak en weggejaag. Daniël self het daarin geslaag om, hoewel hy swaar gewond was, verskeie gesinne langs die Bloukrans en elders te waarsku.

Orals word die stilte van die nag nou deur geweerskote verbreek. Baie was onder die indruk dat dit vreugdeskote was wat die terugkoms van Retief aankondig. Die aanhoudende geskiet het later egter agterdog gewek. Hierdie agterdog is bevestig toe ontstelde vlugtelinge later die verpletterende nuus gebring het. Langs al die spruite en riviere, in ruigtes en op koppies veg klein klompies mense teen ’n oormag van Zoeloes. Waar dit moontlik was, is gou laer getrek. Waar daar te min waens is om ’n kring te vorm, soos by Sarel Celliers die geval was, vlug die vrouens en kinders na die beboste klowe waar daar minder gevaar was om deur Zoeloes gewaar te word.

Die mans het opgesaal en na die gevaarlikste en mees bedreigde punte gejaag. Dikwels was hulle reeds te laat en moes hulle die afgryslike tonele by die verwoeste waens aanskou. Hier en daar het klompies Trekkers nog weerstand gebied. Met die aanbreek van die dag het die vyand begin terugtrek en ’n toneel van ellende en verwoesting nagelaat.