Eugène Marais kom dié eer toe
November 13, 2018
Alles van die beste – Die Heuwels Fantasties
November 14, 2018

Op die terrein van die Beroepsopleidingskool vir Bantoes in Edenvale, enkele myle wes van Pietermaritzburg, staan ’n woning wat ’n unieke plek in die geskiedenis van Suid-Afrika inneem. Binnekort sal dit tot historiese monument verklaar word sodat sowel sy argitektoniese ontwerp as sy verband met die vroeë geskiedenis van die land vir die nageslag bewaar sal bly.

Dié huis was die woning van die Voortrekkerleier en held van die Trekkers in Natal, Andries Pretorius. Die gebou is enig omdat dit, sover bekend, die laaste nog bestaande woning van ’n Voortrekkerleier is en terselfdertyd die eerste dubbelverdiepinghuis buite die Kaapkolonie was.

Andries Pretorius word vry algemeen beskou as een van die belangrikste figure wat deur die Groot Trek voortgebring is en een wat langer as die meeste ander betrokke was by die verloop van gebeurtenisse, veral in Natal, t.o.v. die Voortrekkers se konfrontasie met die inboorlingbevolking en die regerende mag van die Kaapkolonie.

Hy is teen die einde van 1789 op Graaf-Reinet gebore. As volwasse man was hy ’n forse, imposante figuur. Hy het hom by Pretorius-kloof naby sy geboortedorp op die boerdery toegelê en veral as skrynwerker uitgeblink – ’n vaardigheid waarvan hy later in die meer primitiewe omstandighede van die binneland goeie gebruik kon maak. Van groter belang is die feit dat sy eienskappe as leier vroeg te voorskyn getree het en dat hy hom tydens verskeie grensvoorvalle as deskundige in dié soort oorlogvoering onderskei het. Onder sy bewonderaars was daar baie Engelssprekende grensboere.

In Januarie 1837, ná die aanvang van die eintlike Groot Trek, het Andries Pretorius sy dienste as vrywilliger aangebied teen die Matabele-stamme onder Moselikatse wat die Voortrekkers se pad na die Noorde versper het.

Teen November van dieselfde jaar was sy ontevredenheid met omstandighede aan die oosgrens so groot dat hy saam met Potgieter en Uys ’n reis na Marico onderneem het. Die terugreis na die Ooskaap het oor die Drakensberge, die Baai (waar Durban later aangelê is) en vandaar oorland deur die naturellegebied gegaan. Teen die tyd dat hy terug op sy plaas was, was Piet Retief gereed vir sy tweede – en laaste noodlottige – besoek aan Dingaan.

Foto: Kommandant-generaal A.W.J. Pretorius. Let op die gewonde hand, ’n gevolg van die Slag van Bloedrivier

Pretorius was nou vasbeslote om sy plaas te verkoop en ’n nuwe tuiste in die binneland te soek. Min het hy egter besef hoe dringend die hulproep van die bedreigde en versplinterde Boere in Natal was. Francois Hattingh en drie ander boodskappers, insluitende Sarel Celliers, het hom oortuig van die dringende nood en gevaar waarin die Voortrekkers verkeer het. Hy het aan dié oproep gehoor gegee en teen 22 November 1838 was Pretorius met 60 man in die laer by Klein Tugela, gereed om hom tot die uiterste vir sy landgenote in te span. Vyf dae na sy aankoms was hy met die “wen-kommando” onderweg na sy beslissende ontmoeting met die Zoeloe-hordes by Bloedrivier.

Die Slag van Bloedrivier was deurslaggewend vir die lotgevalle van die Boere. Die belangrikste gevolg was dat die Voortrekkers se mag oor die Zoeloes beklink was en dat Natal, wat Tsjaka se uitroeiings-strooptogte feitlik van inwoners gestroop het, ’n veilige, bewoonbare gebied geword het.

Pretorius se oorspronklike plan om hom in Natal te vestig, is vergemaklik deur sy militêre welslae by Bloedrivier, waar hy in bevel was van die 460 weerbare manne. Met ’n kommando onder aanvoering van Karel Landman as versterking, het hy Zoeloeland met ’n konvooi van 64 waens binnegeruk. ’n Hewige geveg teen die Zoeloe-hordes het gevolg, maar onder hoofkommandant Pretorius se aanvoering was die vuurkrag van die Boere uiteindelik beslissend. Nie ’n enkele Boer het gesneuwel nie en die voortvlugtende Zoeloes is deur Pretorius en ’n afdeling berede manne agtervolg en verjaag. Enkele Boere is gewond, insluitende Pretorius self, wat assegaaisteek in die hand opgedoen het.

Foto: Afskrif van die oorspronklike brief wat G.R. van Rooyen in Januarie 1839 geskryf het om van die Slag van Bloedrivier te vertel

In die gees van die groot oorwinnaar wat hy was, het Pretorius in sy boodskap aan die Volksraad in Pietermaritzburg aanbeveel dat ’n kerk as blyk van danksegging opgerig moet word. Dié aanbeveling is aanvaar en Pretorius het self gehelp met die bouwerk aan die “Geloftekerk”, soos dit bekend geword het.

Foto: Dr. Leverton wys na die plek waar die ou watervoor in die van Pretorius tot by die meule geloop het. Die baksteen-bouwerk op die voorgrond dateer uit ongeveer 1880

Die sege by Bloedrivier het Pretorius in staat gestel om hom aan die boerdery – sy geliefkoosde beroep – te wy. Die Volksraad het aan hom die skilderagtige groen plaas “Welverdient” toegeken, byna 6000 acre groot, waardeur die Klein Boesmanrivier (of Umsindisi) gevloei het. Hierdie plaas was inderdaad “wel verdien”!

Hier het Pretorius sy vee laat wei en mielies geplant. Ook het hy ’n voor aangelê, byna drie myl lank vanaf die bodem van die Umsindisi-waterval tot by ’n valskerpte digby die werf waar hy ’n groot meul opgerig het.

Om homself, sy vrou en groot gesin te huisves, het hy dubbelverdiepinghuis van tien kamers met ’n grasdak gebou. Pragtige geelhout uit die omgewing het hy eiehandig verwerk en o.m. klein “Kaaps- Hollandse” vensterrame gemaak om in die stewige mure in te bou. Die trap aan die einde van die lang gang na die boonste verdieping met sy klein slaapvertrekke was miskien vir Pretorius die grootste uitdaging, maar die gebrek aan ruimte is oorbrug deur twee stelle trappe van twaalf duim.

Daar was oorspronklik by navorsers en lede van die Historiese Monumentekommissie ’n meningsverskil oor watter deel van die gebou soos dit daar vandag uitsien, die oorspronklike Pretorius-opstal was; ook of die oorspronklike gebou inderdaad ’n dubbelverdieping was. By nadere ondersoek bewys die struktuur van die gebou dat dit wel deeglik as dubbelverdieping opgerig is. Dié feit word verder bevestig deur ’n brief van Pretorius aan die luitenant-goewerneur waarin hy melding maak van die tien-kamer huis “onder dubbel verdieping” wat hy self gebou het.

Agter die huis het Pretorius ’n stal vir sy perde gebou en aan die suidekant ’n waenhuis. Ooswaarts, byna ewewydig met die rivier, het die pad geloop wat hom met die nabygeleë nedersetting van Pietermaritzburg verbind het.

Maar vir Andries Pretorius was dit egter voorbeskik dat die plaaslewe, selfs nie eens in hierdie ideale omgewing, idillies sou bly nie. Dit was vir hom ’n groot ontnugtering dat daar inboorlinggebiede ten noorde en ten suide van sy plaas was. Hieroor het hy lank en luid – maar sonder sukses – by die Britse owerhede in die hoofstad van die Natalse kolonie geprotesteer, want hy het gedurig las gehad van rondlopers op sy plaas en plundertogte deur die inboorlinge. Die owerhede het egter niks uitgerig nie en uiteindelik moes hy maar so goed hy kon met dié probleem probeer saamleef.

Die politieke bedrywighede van die Republiek Natalia, met sy hoofkwartier in die Volksraad digby “Welverdient”, het Pretorius ook verhinder om sy boerdery ten volle te geniet. Toe hy by die Voortrekkers in Natal aansluit, het die Volksraad hom onmiddellik as hoofkommandant aangestel. Aanvanklik was die voorneme dat die aanstelling slegs tydelik van aard sou wees, maar Pretorius se sukses was sodanig dat sy aanspraak op die posisie van volwaardige Voortrekkerleier aansienlik versterk is. Gevolglik is sy status in Oktober 1839 verhoog toe die Volksraad hom eenparig versoek het om die sittings in raadgewende hoedanigheid sonder stemreg by te woon. Laasgenoemde voorbehoud ten spyt het dié reëling tot allerhande onenigheid en struwelings onder die lede gelei. Pretorius se invloed het dermate gegroei dat oortuigde demokrate soos J.S. Maritz en J.J. Burger begin vrees het dat Natalia se grondwet in die omstandighede nie gehandhaaf sou kon word nie. Die daaropvolgende dispuut het die besluit tot gevolg gehad dat geen lid van die raad ’n amptelike pos sou kon vul nie en dat die pos van kommandant-generaal slegs gevul sou word wanneer die militêre situasie dit dringend noodsaaklik sou maak.

Foto: ’n Afdruk van die oorspronklike tekening van die plaas “Welverdient” soos dit deur veldkornet J.J. Scheepers in 1840 opgemeet is

Hierdie stryd tussen ’n magsgroep binne die Volksraad en Pretorius het op ’n persoonlike twis tussen hom en J.S. Maritz uitgeloop. Eersgenoemde het die ondersteuning van Hendrik Potgieter erlang, maar die poging van die Maritz-faksie om Pretorius se gewildheid te stuit, het misluk. Die geskil is nooit finaal besleg nie. By verskeie geleenthede het Pretorius besluit om liewer sy pos by die raad neer te lê, maar elke slag is hy haastig heraangestel.

Inderdaad het Pretorius van die Raad kwasi-uitvoerende magte ontvang, byvoorbeeld in Maart 1939 toe hy met twee van Dingaan se hoofmanne onderhandel het. Voorts is die uitvoering van die Raad se segregasiebeleid aan hom opgedra. Hy het ook die Volksraad teenoor die buitewêreld verteenwoordig. Met al hierdie funksies, pligte en magte wat hy beklee het, het Pretorius onvermydelik ’n belangrike rol in die sake van die Natalse Voortrekkers gespeel. As leier het hy hom onderskei en ’n groot invloed op die Volksraad uitgeoefen. Juis om hierdie rede het dié liggaam gepoog om hom so ver moontlik nie in ’n geleentheid te stel om die konstitusionele leisels oor te neem nie.

Die vreedsame plaasbestaan op “Welverdient” is ook versteur deur sy militêre verbondenheid aan die klein Voortrekkerrepubliek. Hy was intiem gemoeid met die finale aftakeling van Dingaan se mag en die opvolging van Panda as opperhoof van die Zoeloes. Dit was hy wat in September 1840 aan die hoof geplaas is van ekspedisie teen hoofman Ncapaye teen wie die Suid-Natalse boere ’n magdom van klagtes oor veediefstal ingedien het.

Maar miskien was Pretorius se grootste prestasie dié wat hy teen die Britse magte digby die Natalse kus behaal het. In Januarie 1841 het ’n Britse mag onder aanvoering van kaptein T.C. Smith vanuit die Kaapkolonie na Natal opgeruk, en in Mei onder die Berea-heuwel van Durban tent opgeslaan. Vasberade om elke Britse poging tot die besetting van republikeinse gebied te beveg, het die Natalse Volksraad Pretorius opdrag gegee om Durban te beleër. Maar voordat dit kon gebeur, is dit noodsaaklik geag om die imperiale magte direk aan te val. In die Slag van Congella is ’n klinkende oorwinning behaal – ’n verdere veer op Pretorius se militêre hoed.

Die Trekkers se welslae het ’n langdurige beleëring van die Britse magte in die Ou Fort in Durban tot gevolg gehad. Pretorius sou die uiteindelike oorgawe van dié mag waarskynlik kon afgedwing het, was dit nie dat “Dick” King sy dappere reis na Grahamstad afgelê het nie, wat daarop uitgeloop het dat die Britse magte betyds versterkings ter see ontvang het.

Na die uiteindelike welslae van die Britse magte in Natal is Pretorius en drie ander Voortrekkers spesiaal uitgesluit van die algemene amnestie toe die Pietermaritzburgse Volksraad hom aan die gesag van die Britse kroon onderwerp het. Desnieteenstaande het Pretorius sy invloed laat geld om vrede in Natal te verseker deur sy medetrekkers te oortuig van die noodsaak om die vyandelikhede tussen Boer en Brit te beëindig. As gevolg hiervan is sy naam deur kol. A.J. Cloete van die lys van voëlvryverklaardes geskrap.

Na die vredesluiting en oorname van Natal deur Britse amptenare het Pretorius na “Welverdient” teruggekeer, waarvandaan hy in toenemende mate teen die onbekwame bestuur van die luitenant-goewerneur en sy hoofde in die Kaapkolonie en Londen geprotesteer het. Tevergeefs het hy te perd na Grahamstad gereis om by sir Henry Pottinger, toenmalige goewerneur van die Kaap, protes aan te teken.

Pretorius se glorieryke militêre loopbaan was nou ook feitlik verby. In 1848 het hy ’n dringende versoek om hulp ontvang van die inwoners van die Vrystaat wat ’n nederlaag teen die Britse militêre mag in die gesig gestaar het. Half teësinnig het hy Natal verlaat en ’n leidende aandeel gehad in die Slag van Boomplaats teen sir Harry Smith, wat hom daarna weer voëlvry verklaar het. Pretorius se poging om die Vrystaters tot oorwinning te help, is nie met sukses bekroon nie. Daarna het hy hom beywer vir die erkenning van die onafhanklikheid van Transvaal, waarin hy in 1852 geslaag het.

Kort hierna was Pretorius weer in Natal. Vir ’n man wat twee keer voëlvry verklaar is, was sy ontvangs in die Britse Kolonie nogal verrassend. Durban se inwoners het hom feestelik onthaal en in die Natalse hoofstad is hy hartlik deur die toenmalige luitenant-goewerneur, Benjamin Pine, verwelkom.

Die voormalige kommandant-generaal van die Voortrekkers se besoek het ’n tweeledige doel gehad. Op politieke vlak het hy Natal se medewerking gesoek om die Transvaalse handel uit te brei.  Insonderheid het hy versoek dat Natal ’n deel van die doeane-inkomste op goedere wat na die binneland ingevoer is, aan Transvaal betaal. Natal was egter nie bereid om van dié inkomste af te staan nie. Tog was dié samesprekings die voorspel tot ’n handelsvriendskap wat vier dekades sou duur. Die besoek het Natal in staat gestel om sy binnelandse handel uit te brei, wat later ’n lewensbelangrike onderdeel van sy ekonomie geword het.

Die tweede rede vir Pretorius se besoek aan Natal was onteenseglik verlange – nog een keer wou hy die groen heuwels van die Voortrekkers se “beloofde land” sien.

Of hy sy voormalige woning op Welverdient by dié geleentheid besoek het, staan nie opgeteken nie, maar dit was een van die dinge wat hy in die jare van kwynende gesondheid graag sou wou gedoen het.

Met spesiale vergunning van die Natalse regering is die plaas in 1849 in die naam van Pretorius se skoonseun, J.D.O. Landsberg, geregistreer. Ses jaar later is dit aangekoop deur James Allison, ’n gewese sendeling van die Metodiste-kerk wat van Indaleni gekom het om sy eie sendingstasie te stig.

Allison het die plaas tot “Edendale” herdoop en die Pretorius-opstal as pastorie gebruik nadat hy ’n kapel van steen en ’n klaskamer toegevoeg het. Later is veranderings ook in ander dele van die huis aangebring en in die laat negentiende eeu is dit in die tipiese Britse koloniale styl verbou en opgeknap.

Teen 1858 is die gebou nie meer as pastorie gebruik nie maar deur die sending se nywerheids-onderwyser bewoon. Drie jaar later is ’n groot deel van “Welverdient” deur die Wesleyaanse Sendinggenootskap oorgeneem en nog later het ’n deel van die eiendom waarop die ou Voortrekkerhuis staan, privaat besit geword. Toe die Suid-Afrikaanse regering dié eiendom ’n klompie jare gelede vir die Departement Bantoeonderwys aangekoop het, het dit deel geword van ’n kompleks wat aan die beroepsopleiding van die Bantoe gewy word. Pretorius se ou huis is toe deur die onderhoof van die inrigting bewoon.

Honderd-en-dertig jaar het verloop sedert Andries Pretorius, die held van Bloedrivier, sy woning teen die groen heuwels buitekant Pietermaritzburg gebou het. Tog het ’n aansienlike deel van sy oorspronklike handewerk behoue gebly.

Wanneer die huis en deel van die omgewing tot nasionale monument verklaar word, sal Suid-Afrikaners ’n belangrike oorblyfsel uit die verlede ryker wees – ’n herinnering aan die daadkragtige en onverskrokke man wat dié woning gebou en bewoon het.

Miskien sal die owerheid selfs daaraan dink om die opstal se oorspronklike en sprekende naam – Welverdient – in ere herstel.

Foto: Dié foto toon die oorspronklike Pretorius-woning soos dit vandag lyk. Die sinkplaat-dak, die stoep en stoepkamertjie regs is moderne toevoegings. Let op die oorspronklike groot venster onder en die klein venstertjies van die slaapvertrekke bo

Bron: Leverton, B.J.T. 1968. Die woonhuis van Andries Pretorius. Lantern, September, pp. 43-49.