Toe koningin Elizabeth op 2 Junie 1953 in Londen gekroon is, het ook ’n Suid-Afrikaanse kontingent aan die kroningsoptog deelgeneem. Hul bevele het hulle op dié dag in Afrikaans gekry. Die bevelhebber van die kontingent, brigadier SA Melville, het besluit dat Afrikaans gebruik sou word tydens hul hele besoek aan Engeland. Die kontingent het Afrikaans baie nuttig gevind. Dit het aan die lede ’n identiteitsgevoel gegee, en het verwarring by gesamentlike optredes uitgeskakel. Ander kontingente was selfs jaloers op hierdie onderskeidende kenmerk.
Só positief was Afrikaners oor hul taal en sy prestasies. Die Burger (27 Junie 1955) het die Afrikaanse kulturele en ekonomiese lewe “ie moderne wonder van Suid-Afrika” genoem. Engelssprekendes was in dié jare baie pessimisties oor hul taal en party het gemeen dat dit kan agteruitgaan en uitsterf. Dit het geen Afrikaner van betekenis geglo nie. Daarvan getuig GD Scholtz se opsienbarende boek Het die Afrikaanse volk ’n toekoms?
Afrikaners se taaltrots het ’n groot sukses gemaak van die “Wonder van Afrikaans”-feeste wat in 1959 baie mense in die land aangegryp het. Die Akademie het in 1959 vyftig jaar geword, en om dit te vier, het die FAK taalfeeste gereël van 6 April tot 30 Mei 1959. Die eerste fees was op 6 April in Kaapstad en by die Van Riebeeckskool by Thomson’s Falls in Kenia. Van dié twee plekke af suid- en noordwaarts is feeste in byna elke dorp gehou. Engelsmedium- en bruin skole het duisende mense getrek; ook swartes het aan die vierings deelgeneem. Skares van tot 8000 mense het op party plekke opgedaag. In Welkom, die nuwe stad wat in die Vrystaat verrys het, is ’n taalfeesmonument onthul. Op 29 Mei het die plakkate van die Rand Daily Mail gelui: “Vandag praat ons Afrikaans”. In ’n Afrikaanse berig onder aan sy voorblad het die koerant geskryf: “Vandag lewer ons bewys dat in hierdie ou jingo-nessie in Mainstraat se wêreld is ons ook Boere.” Die koerant se hoofartikel was in Afrikaans, met darem ’n Engelse vertaling onderaan. Die FAK het ná die feeste ’n rolprent oor Afrikaans, Doodkry is min (1961) bekendgestel, wat tot in 1978 deur twee miljoen mense gesien is.
In 1958 het Van Wyk Louw, wat as professor in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van die Witwatersrand aangestel is, aan sy vrou Truida geskryf: “Dis merkwaardig hoé Afrikaans J’burg is; iemand wat nie Engels wil praat nie, sou dit feitlik nooit hoef te doen nie.” By die Universiteit praat almal, van die rektor en registrateur tot by “die opsigter en die swart helpers” Afrikaans, “die meeste selfs uitstekend. So much so, dat ek weer van my kant af heeltemal nie ‘handhaaf’ nie!”
Die vierings is op Saterdagaand 30 Mei 1959 in die Voortrekkermonument-Amfiteater afgesluit; 60 000 mense was teenwoordig. ’n Geleentheidstuk deur Douglas Fuchs van die SAUK is opgevoer. Drie Lugmag-vliegtuie het oor die terrein gedreun en in die naglug het die woorde Die Van Afrikaans gepryk. Die Wonder het weens ’n tegniese haakplek verdwyn. Die hoofspreker, doktor HF Verwoerd, het Afrikaans “die taal van ons wonderlike toekoms” genoem.