Die vredesonderhandelinge van Vereeniging
March 23, 2017
Die betekenis van die Groot Trek in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur
March 23, 2017

(geskryf deur Derik Labuschagne, St. 4, Sand du Plessis Primêre Skool, Bloemfontein, soos verskyn in Junior Historia)

In die geskiedenis van die moderne oorlogvoering vind die lyding, die smaad en die smart wat die Afrikanervrou en -kind gedurende die Tweede Vryheidsoorlog moes verduur, haas geen gelyke. In Julie 1900 het Lord Roberts tot die stigting van talle konsentrasiekampe oor die hele land oorgegaan. In September 1901 was daar reeds 110 000 vroue, kinders en bejaarde mans in die kampe. Die haglike toestande wat in die kampe geheers het, het epidemiese siektes meegebring wat die kampbewoners afgemaai het. Teen die einde van die oorlog het die dodelys op 4117 vroue (bo sestien jaar) en 22,074 kinders (onder sestien jaar) gestaan. In hulle ideaal om ook hulle deel tot vryheid vir hulle vaderland by te dra, het hulle stil en hoopvol gely en gesterf.

Op niemand het die lyding ’n groter indruk gemaak, as op Pres. Steyn nie. By hom het dan ook die gedagte ontstaan om die offers van die vroue en kinders vir die nageslag in gedagtenis te hou. Op 20 Julie 1906 is onder sy voorsitterskap ’n vergadering gehou. ’n Werkende komitee is saamgestel, bestaande uit: Pres. MT Steyn, genl. JBM Hertzog, Abraham Fischer, WJC Brebner, JP Steyl, CG Fichardt, CH Wessels, dr. M Stollreither, ds. CD Murray, ds. Grosskopf met Rocco de Villiers, Gordon A Fraser en Alec McHardy as sekretarisse. Onmiddellik is met groot ywer aan die werk gespring om die nodige fondse, tuis sowel as in die buiteland, in te samel. Intussen is ook ontwerpe vir die monument aangevra en ’n prysgeld van £100 is vir die beste ontwerp uitgeloof.

Teen 1911 was reeds £10 237 ingesamel en die Werkende komitee het nou besluit dat tot die bou van die monument oorgegaan kon word. Die ontwerp van argitek Frans Soff is goedgekeur met Anton van Wouw as beeldhouer. Daar is besluit om die monument op ’n terrein, ten suide van Bloemfontein, wat deur die stadsraad aangebied is, te bou. Daar is besluit om nog £5 000 in te samel. Die tenders van Medlin en Lehman is aanvaar, en hulle het begin met die werk. Met vergunning van die spoorweë is die reuse-sandsteenblokke, uit die Kroonstadse distrik, teen ’n laer tarief per spoor vervoer. Stadig maar seker het die monument vorm aangeneem.

Vroeg reeds is Emily Hobhouse gevra om die onthulling waar te neem, weens haar gesondheid kon sy dit egter nie doen nie. Daar is toe besluit dat mev. Steyn die onthulling sou waarneem. Op 16 Desember 1913 is die monument dan ook onthul.

Geleë in die veld teen die koppies, staan die gedenknaald hoog in die blou lug. Voor die gedenksuil, is ’n brons vrouegroep: links sit ’n vrou met ontblote hoof en ’n uitgeteerde sterwende kind op haar skoot, sy kyk vol wanhoop oor die vlaktes; regs staan ’n vrou in Voortrekkerdrag en kyk fier na die nuwe daeraad vir die Afrikanervolk. Onmiddellik onder die vrouegroep op die voetstuk staan die volgende:

AAN ONZE

HELDINNEN

EN LIEVE KINDEREN

“U WIL GESCHIEDE”.

Dit Nationaal Monument

is opgericht

ter Nagedachtenis aan de

26370 Vrouwen en Kinderen

die in de Concentratiekampen

zijn Omgekomen,

en aan de Andere

Vrouwen en Kinderen

die elders tengevolge

van den Oorlog 1899 – 1902

zijn Bezweken

Onthuld 16 December 1913

Aan weerskante van die voetstuk is daar ’n sypaneel in brons. Die paneel aan die westekant toon ’n aantal moeders met hul kinders en karige besittings op weg na die kamp, terwyl die brandende huis op die agtergrond is. Die paneel dra die opskrif: VOOR VRIJHEID, VOLK EN VADERLAND. Op die oostelike paneel word die droefheid en ontbering van die vroue en kinders in die kamp uitgebeeld. Treffend is die siek kindjie in die tent op die grond. Die opskrif – IK ZAL U NIET BEGEVEN IK ZAL U NIET VERLATEN. Om die gedenknaald is ’n sandsteenringmuur.

Nadat pres. Steyn skielik oorlede is, is hy aan die voet van die monument begrawe: Marthinus Theunis Steyn, 1854–1916. Op 3 Februarie 1922, is genl. de Wet oorlede, ook hy het sy rusplek aan die voet van die monument gevind – Christiaan Rudolf de Wet 1854–7922. Op 13 Februarie 1941, is die laaste lid van die driemanskap – Dr. JD Kestell binne die ringmuur begrawe. Twee vroue het ook hier aan die voet van die Monument ’n ererusplek gevind. Emily Hobhouse is in Junie 1926 in Engeland oorlede. Haar asse is na Suid-Afrika gebring en op 27 Oktober 1926 in ’n opening in die voet van die gedenksuil weggelê.

Op 3 Januarie 1955 is mev. Rachel Isabella Steyn oorlede. Op aandrang van dr. DF Malan, destyds eerste minister, het die Vrouemonumentkommissie besluit dat sy in dieselfde graf as pres. Steyn begrawe sal word.

So het dan die aangrypendste monument in ons land tot stand gekom en met die loop van die jare het dit ’n deel van die volkstradisie geword.

(’n Waardige aanvulling van die Monument is die Oorlogsmuseum, wat in 1930 deur Frans Soff gebou is. Die museum bevat waardevolle versamelings van historiese stukke van die konsentrasiekampe, asook skilderye en tekeninge van Emily Hobhouse en Frans Oerder).