Die uitbreiding van die Kaapkolonie, 1717-1779
April 11, 2017
Dr. NJ van der Merwe
April 11, 2017

(Geskryf deur Maria Karsten, St. 6, Pietersburg Hoërskool, soos verskyn in Historia Junior)

Die Vrouemonument is op 16 Desember 1913 onthul ter ere van die ses-en-twintig duisend vrouens en kinders wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe gesterf het.

Die komitee wat hulle beywer het vir die monument, het kollektelyste rondgestuur om geld in te samel; selfs van Engeland is geld gestuur vir die monument.

Die monument is ’n paar myl buite Bloemfontein geleë en is opgerig op die plek, waar die konsentrasiekampe gestaan het.

As ’n besoeker met die pad tussen die bome deur kom, kan jy duidelik in jou verbeelding sien hoe die kinders en vrouens in die konsentrasiekamp honger gely en swaar gekry het. As jy voor die monument stil hou en eers die wêreld om jou betrag, kom daar ’n stilte oor jou wat nog nooit daar gewees het nie. As jy die trap wat na die monument gaan, stadig bestyg, gaan jou gedagtes ver die verlede in, en jy dink aan daardie vrouens wat daar gesterf het, toe hulle mans vir ons vaderland geveg het. Dan staan jy stil en dink dat daardie vrouens en kinders ook martelare vir hulle volk en vaderland was.

Ons nader nou die gedenkplaat met eerbied en respek. Een ou grysaard het in stilte ’n traan gestort, toe hy terugdink aan die slagveld van die verlede. Stil, omgedraai met ’n geboë hoof, het ek hom die monument sien verlaat. “Ook een van sy geliefdes het in daardie konsentrasiekamp die lewe gelaat vir volk en vaderland.”

Maar ons stap nou nader aan die twee gedenkplate. Op die een plaat sal ons sien hoe die vrouens en kinders hulle huise verlaat, en op die agtergrond hulle huise wat aan die brand is. Dan stap ons oor na die plaat aan die anderkant van die monument. Daar aanskou ons die lyding en smart wat die vrouens en kinders moes deurmaak. Die uitgeteerde liggaampies van die kinders op die kampbedjies en die smekende ogies wat hemelwaarts gerig is of daar redding vir hulle van bo sal kom, het ’n baie diep indruk op my gemaak. Dan sien ek weer moeders met oë wat in die oogholtes weggesink is. Ook hulle uitgeteerde liggame getuig van smart en lyding. Dit stem die besoeker tot weemoed.

Hoog bokant die gedenkplaat sit ’n jong vrou met haar sterwende seun op haar skoot, en langs die stoel staan die vader. Die woorde: “Ek sal jou nie begewe nie, Ek sal jou nie verlaat nie”, is daarop gegraveer.

Dan val my oog op die twee grafte van president Steyn en generaal De Wet, die gevierde Boere-helde en my hart swel as ek dink dat ek ook ’n Afrikaner is. Dan val my blik op die sagmoedige dominee Kestell, Godsman en volksgenoot. Terwyl party van die besoekers na die grafte staan en kyk, val my oog op die klein steentjie aan die voet van die monument waarop die naam Emily Hobhouse geskrywe staan. Die dapper Britse vrou het nie geaarsel om na Suid-Afrika toe te kom  en om die toestande van die vrouens en kinders in die kampe te ondersoek en aan die Engelse regering verslag te doen nie.

Nog diep in gedagte het ek stadig omgedraai en stadig teruggestap na ons motor. Ek het my oë opgeslaan en die hoë bloekombome gesien. Dit is asof hulle uitroep: “Nooit weer, nooit weer!”