Die vroue van die leiers

Wit en swart
January 22, 2015
Krygsgevangenekampe
January 22, 2015

Talle vroue het daarin geslaag om uit die hande van die Engelse te bly. Onder hulle was die eggenote van generaal Koos de la Rey. In die laaste agtien maande van die oorlog het sy saam met ses kinders en ’n paar swart mense met ’n wa van die een plek na die ander gevlug in die Lichtenburg-omgewing. Behalwe eetware, klere en komberse het sy aanvanklik ook ’n hok vol hoenders saamgeneem.

Mevrou Nonnie de la Rey vertel: “As ek my tent onder koel bome kon opslaan, en die vloer met groen gras kon uitlê, dan het ek heeltemal gelukkig en tevrede gevoel, en menigmaal het ek gewens, wanneer ek by so ’n aangename plek gekom het, dat ek daar ’n geruime tyd mag woon. Soms het dit my tog geluk om ’n week of ’n paar dae daar te bly, maar as die kakies nader kom, dan moes ons maar weer die tent optrek en wegvlug. Meer dan eens het dit gebeur dat ons tot in die middernag moes vlug, en as ons uitspan, is dit só stikdonker dat ’n mens g’n hand voor die oë kon sien nie.”

Nadat mevrou Nelie de Wet, eggenote van die Generaal, sewe maande rond-gevlug het, het die Engelse haar in die distrik Vredefort vasgekeer. Sy het geweier om saam met hulle te gaan omdat haar kinders siek was. Engelse offisiere het haar probeer beweeg om na haar man se kommando te gaan en hom om te praat om die wapens neer te lê. Hulle het haar £10 000 as beloning gewaarborg. Sy het geantwoord dat sy nooit so iets gemeens sou doen nie, en liewer saam met haar kinders agter ’n doringboom sou gaan sit as “om van die bloed van die martelare, wat reeds gesneuwel het, vir my ’n skans te maak”. Later is sy weer gevang en is na ’n kamp in Pietermaritzburg gestuur. Sy is in ’n seilpondok ingestop waarin ’n vrou die vorige dag aan koors dood is. Hensoppers, wat wagte by die kamp was, het smalend uitgeroep: “Laat ons De Wet se vrou en kinders daar instop dat hulle soos honde kan vrek!”

Mevrou Tibbie Steyn het saam met die President uitgewyk toe die Engelse Bloemfontein nader, en is saam met hom na die dorpies waar die regering telkens gesetel was. Op 14 Julie het sy haar man op Fouriesburg gegroet en is op 27 Julie gevang. Sy het ’n versoek van luitenant-generaal A Hunter geweier om soos Annie Botha, eggenote van generaal Louis Botha, haar invloed te gebruik om die oorlog tot ’n spoedige einde te laat kom. Sy het gesê die President sal haar ontken as sy vrou indien sy met ’n vredesvoorstel na hom gaan!

Mevrou Steyn en haar kinders het in Bloemfontein prakties in huisarres gebly, maar mog nie na hul plaas Onze Rust gaan nie. Vir alles was passe en permitte nodig, en haar kinders is selfs nie toegelaat om met ’n fiets te ry nie. Toe Bloemfontein ’n konsentrasiekamp gekry het, is sy nie toegelaat om dit te besoek nie, later wel die kamphospitaal. Haar geld is gekonfiskeer, sogenaamd omdat sy verdink is daarvan dat dit staatsgeld is, en is eers ná maande terugbesorg. Telkens het sy geweier om die President te oorreed om die stryd te staak. Tussen haar en ’n deel van die Fraser-familie het daar ’n groot kloof ontstaan. Haar niggies, dogters van sir John Fraser, het haar selfs ná die oorlog geïgnoreer as hulle mekaar op straat teëkom.