’n Verhaal omtrent die held van Bloedrivier
November 23, 2015
Die geskiedenis van die Geloftekerk
November 23, 2015

(geskryf deur Kosie van Staden, Louwstraat, Wepener, soos verskyn in Historia Junior, September 1958)

Die Voortrekkers was nie die eerste blankes wat na die Vrystaat gegaan het nie. Lank voor die Groot Trek het die boere uit die noordelike distrikte van die Kaapkolonie oor die Oranje getrek om in die Vrystaat te gaan jag. Ook die swaar droogtes het die mense verplig om met hulle vee oor die Oranje te trek. Al het hulle voor die Groot Trek in die Vrystaat gaan woon, word hierdie mense nie as Voortrekkers beskou nie. Hulle het immers nie ’n regering buite die Kolonie gevorm nie.

Vanaf 1835 het die eerste Voortrekkers hulle in die Vrystaat kom vestig. Daarna het nog meer gekom. Baie het in die buurt van Winburg gaan woon. Hierdie dorp is in 1841 deur Andries Pretorius aangelê en is dus die oudste dorp in die Vrystaat. Toe goewerneur Napier Natal in 1842 geannekseer het, het baie Trekkers uit Natal oor die Drakensberge die Vrystaat ingetrek.

In die begin het die blankes en die naturelle in die Vrystaat met mekaar goed oor die weg gekom, maar Adam Kok en Mosjes het by goewerneur Maitland gekla dat die blankes hulle grond afneem. Die goewerneur het toe die Griekwas en Basoeto’s onder sy beskerming geneem en vir majoor Warden gestuur om vrede in die streek te bewaar. Hy is toe ’n Britse Resident genoem. Hy het sy hoofkwartier op die plaas Bloemfontein gemaak. Hierdie plaas het later die hoofstad van die Vrystaat geword. Majoor Warden het nie veel geld of soldate tot sy beskikking gehad nie en het met baie moeilikhede te kampe gehad.

Die volgende goewerneur, sir Harry Smith, was ’n haastige man. Hy het die Vrystaat besoek en gedink dat dit die beste sou wees om die gebied te annekseer sodat die Trekkers en die naturelle onder die gesag van die Britse regering kon staan. Die land is toe die Oranjerivier-Soewereiniteit genoem. Die Voortrekkers van Winburg was erg ontevrede hieroor. Hulle het tien jaar Iank hulle eie regering gehad en wou nie onder Britse gesag staan nie. Hulle het ’n boodskap aan Andries Pretorius gestuur en hom gevra om ’n kommando teen die Engelse te lei.

Pretorius het dadelik met 200 Transvalers gekom en 800 Vrystaters het by hom aangesluit. Die kommando het na Bloemfontein opgeruk en majoor Warden het oor die Oranje padgegee. Pretorius het met ’n gedeelte van die kommando agternagetrek, maar toe sir Harry Smith met 600 soldate by die rivier verskyn, het hy teruggeval na Boomplaats naby Jagersfontein. Hier het die 400 Boere posisie ingeneem op twee rante en gewag vir die troepe om nader te kom. Sir Harry Smith het nie geweet dat die Boere daar was nie. Maar toe gebeur daar iets wat die posisie van die Boere verraai her. ’n Groot trop wild het kom water drink in die spruit wat by die rante verbyvloei. Die bokke het vir die mense geskrik en die loop geneem die vlakte in. Sir Harry Smith het die bokke gesien en ’n paar man gestuur om te gaan kyk wat daar aan die gang was. Die posisie van die Boere is hierdeur ontdek en Andries Pretorius se planne vir die geveg is verydel. Die geveg het nie lank geduur nie en daar het 11 Engelse en 9 Boere gesneuwel. Pretorius het teruggeval na die laer by Bloemfontein en later na Transvaal vertrek. Sy poging om die anneksasie van Winburg te belet, het dus misluk. Na die geveg by Boomplaats is majoor Warden in sy pos as Britse Resident herstel.

Die Basoeto’s wat reeds baie lastig was, het na 1848 baie moeilikhede veroorsaak. Hulle het tussen die blankes in die distrik Winburg gaan woon sodat Warden in 1849 verplig was om ’n grens tussen wit en swart daar te stel. Hierdie grens is die Wardenlyn genoem en was die erkende grens tussen die Vrystaat en Basoetoland. Hierdie grens het niks gehelp nie. Die Basoeto’s het gemaak asof daar nie so iets bestaan het nie. In 1851 moes Warden ’n troepemag teen hulle uitstuur, maar die is by Viervoet naby Ladybrand verslaan. Majoor Warden het nie genoeg troepe gehad om die grens te bewaak nie en die Boere het na hierdie oorwinning wat die Basoeto’s behaal het, gevrees dat die vyand hulle almal sou uitroei. Mosjes, die opperhoof van die Basoeto’s het roofbendes na die Vrystaat gestuur om die plase te plunder. Majoor Warden het hulp by die goewerneur gevra om die Basoeto’s te straf, maar die goewerneur het sy hande met die Sewende Kafferoorlog vol gehad en kon Warden se versoek om hulp nie toestaan nie. Goewerneur Cathcart, die opvolger van sir Harry Smith het in Desember 1852 met meer as 2,000 soldate gekom om Mosjes te straf en die neerlaag by Viervoet te wreek. Die troepe het oor die Caledon getrek, maar hulle is by Bereaberg naby Thaba Bosigo verslaan.

Die Engelse regering was lankal moeg vir al die moeilikhede in die Vrystaat en daar is besluit om die gebied terug te gee aan die Boere. Toe die mense hiervan verneem, was baie ontevrede omdat die Basoeto-gevaar groot was. Later het ander mense toegestem om die regering oor te neem. Vyf en twintig manne het saam met die Kommissaris sir George Russell Clerke op Bloemfontein vergader en op 23 Februarie 1854 is die Bloemfonteinse Konvensie geteken. Hierdeur is die onafhanklikheid van die Vrystaat erken. Die ou naam Oranjerivier-Soewereiniteit is vervang deur die naam wat ons provinsie nou het, naamlik Oranje-Vrystaat.