(geskryf deur Doretta Kriel, Jan Havinga en Gerhard Gilfillan, Laerskool Drie Riviere, soos verskyn in Junior Historia, Mei 1970)
Aan die begin van 1902 moes ’n skamele 25 000 Boere veg teen ’n Britse oormag van 250 000 man. In die 45 konsentrasiekampe waar meer as 100 000 vroue en kinders saamgehok was, het siekte en dood skrif en verderf gesaai en het reeds meer as 26 000 gesterf. Groot dele van die land is deur die Engelse leërs in ’n wildernis omskep en slegs swartgebrande murasies het van die boerewonings oorgebly.
Die algemene toestand vir die boere in April 1902, was taamlik donker veral in dele van Oos-Transvaal. Daar was ernstige tekens dat die Republieke nie meer lank die stryd sou kon volhou nie. In sommige distrikte was daar geen voedsel meer nie en skietgoed was skaars. Die leiers het gevrees dat die volk in die vyand se kampe gaan uitsterf.
Van hierdie toedrag van sake was die Brirse regering heeltemal op hoogte. Toe die Nederlandse regering van dr. Kuyper in Januarie 1902 ’n voorstel tot bemiddeling maak, het die Britse regering dit wel afgewys, maar terselfdertyd die briefwisseling aan lord Kitchener in Pretoria gestuur om dit aan die Boere te toon. Kitchener het handig daarvan gebruik gemaak en genl. Schalk Burger uitgenooi om oor vrede te beraadslaag.
Op 9 April 1902 het verteenwoordigers van beide Republieke in ’n tent by Klerksdorp byeengekom om die toestand te bespreek. Na twee dae se wik en weeg is besluit om lord Kitchener te vra om die Republikeinse regerings persoonlik te ontmoet ten einde vredesvoorstelle te bespreek. Op 12 April het samesprekings in Pretoria begin. Toe dit blyk dat die Britse regering geen vrede met behoud van onafhanklikheid wou oorweeg nie, het genl. Hertzog verduidelik dat die Grondwet die afgevaardigdes nie toelaat om sonder raadpleging van die volk afstand van hulle onafhanklikheid te doen nie.
Die afgevaardigdes het Pretoria op 17 April 1902 verlaat om uit elke Republiek dertig verteenwoordigers van die Kommando’s deur die Burgers te laat kies.
Op 15 Mei het die dertig verteenwoordigers in ’n tent byeengekom wat opgeslaan is op ’n oop stuk grond aan die suidekant van Vereeniging, waar nou die Steen- en Pan-fabriek is. Nadat die afgevaardigdes genl. Beyers tot voorsitter gekies het, het die aanwesiges met aandag geluister na die verslae van kommandante en veldkornette, waardeur hulle ’n beter beeld van die toestand in sy geheel gekry het.
Teenwoordig was Botha, De la Rey en Beyers en ander uit Transvaal. Daar was Steyn, De Wet, Hertzog en hul vernaamste offisiere uit die Vrystaat. Smuts is ook teruggeroep uit die verre noordweste van die kolonie om as staatsprokureur aan die besprekings deel te neem.
Nadat verslag gedoen is oor hulle distrikte, was daar groot verskil van mening. Die Vrystaters het kans gesien om die stryd voort te sit, maar die meeste Transvalers wou vrede maak. Uiteindelik het De la Rey wat aanvanklik die Vrystaters gesteun het, ingesien dat een deel van die volk nie die oorlog kan staak terwyl die res daarmee voortgaan nie.
’n Voorstel wat algemeen byval gevind het, behalwe by genls. De Wet en De la Rey, is deur FW Reitz, Staatsekretaris van die Z.A.R. ingedien. Dit het gelui dat die Z.A.R. die Witwatersrand en Swaziland aan Engeland afstaan. Met hierdie aanbod is die onderhandelaars na Pretoria. Kitchener weier egter die aanbod en dring aan op prysgawe van onafhanklikheid.
Daar het nou drie weë vir die Republieke oorgebly.
Die beraadslagings op Vereeniging word hervat. Oor een punt was almal eens, naamlik dat daar nie onvoorwaardelik oorgegee mag word nie.
Genls. Smuts en De la Rey voeg hulle ook nou by genl. Botha. Hulle sê daar is geen hoop op oorwinning nie en as daar enigsins skadevergoeding van die Britte te verhaal is, daar nou onmiddellik oorgegee moet word. Genl. De Wet kon die besluit nie steun nie. Genl. Hertzog was van mening dat Engeland nie langer die oorlog kon bekostig nie en dat Engeland binnekort in ’n benarde geldelike toestand sou verkeer.
Genl. Beyers, wat die stem van sy gewete wou volg – wat hom nie wou toelaat om die onafhanklikheid van sy land prys te gee nie – het tog maar later van sienswyse verander.
Op voorstel van genl. De Wet het die twee regsgeleerdes genls. Smuts en Hertzog ’n dokument opgestel waarin die voorstel aanvaar word. Dit het ses redes bevat waarom dit gedoen moes word. Die twee vernaamste redes was: die offer van duisende vroue en kinders het die gevaar ingehou dat die hele volk uitgedelg sou word; en die afbranding van plase en dorpe en die vernieling van alle middele van bestaan het dit onmoontlik gemaak om die stryd voort te sit.
Genl. Smuts se toespraak het ongetwyfeld ’n diepe indruk gemaak, en uiteindelik op 31 Mei 1902 is met 54 teen 6 stemme besluit om die Britse voorstelle te aanvaar en die onafhanklikheid prys te gee.
Die Britse voorwaardes was:
Om vyf minute oor elf, dieselfde aand nog, is die vredesverdrag van Vereeniging in “Melrose House”, die Pretoriase hoofkwartier van Kitchener, onderteken.
Die donkerste oomblik in die geskiedenis van die Boerevolk het aangebreek…
Ten einde die vernedering van die dapper bittereinders te simboliseer het dr. HF Verwoerd op 10 Oktober 1961 die onthulling van ’n vredesmonument op Duncanville, Vereeniging waargeneem.
Die Gedenkteken bestaan uit ’n hoë voetstuk waarop ’n Boere-stryder Iê wat met staal in die hart verwond is. Uit die wond in die hart rys ’n kragtige en forse figuur van vleklose staal omhoog.
Aan die voetstuk is ’n festoen aangebring wat bestaan uit die geweer, bandolier en hoed van ’n Boerekryger, wat ’n krans van rou vorm oor wat gebeur het.
Die enigste woorde op die Vredesmonument is:
GEWOND – MAAR ONOORWONNE
VEREENIGING
31 MEI 1902.
GEWOND versinnebeeld die verslaendheid van die Boerevolk nadat dit op 31 Mei 1902 die onafhanklikheid van die twee Republieke moes prysgee.
In MAAR ONOORWONNE lê opgesluit die onverstaanbare geloof en lewenskrag wat tot die weeropstanding en voorspoed van die Afrikanervolk gelei het.