Die Voortrekkers vestig Pietermaritzburg

Die Republiek van Natalia
July 5, 2018
Die eerste immigrante
July 5, 2018

Hoewel die terrein van die huidige stad Pietermaritzburg ongetwyfeld bekend was aan die vroeëre Engelse setlaars wat hulle van 1824 af te Port Natal gevestig het, en ook in die skenking van grond deur Tsjaka aan Farewell in 1824 ingesluit was, is daar geen tekens dat hierdie setlaars ooit enige belangstelling in die terrein getoon het nie. Na Tsjaka se uitwissingsoorloë is dit hier en daar deur Nguni-stamme bewoon. Die Voortrekkers het dit eers “Boschejemans Randt” genoem, wat aandui dat Boesmans die omliggende kranse bewoon het. Die eerste Voortrekkers wat die terrein besigtig het, was sekerlik dié wat Pieter Lafras Uys se Kommissietrek in 1835 meegemaak het. Volgens oorlewering het die naby geleë Uysdoorns sy naam toe gekry.

Toe die Voortrekker-geselskappe wat teen die einde van 1837 na Natal wou trek, by die Drakensberge saamgekom het, het hul leier Pieter Retief besluit om met Dingaan, die Zoeloekoning, te onderhandel. Met 14 manskappe en vier waens het hy van Kerkenberg in die Oranje-Vrystaat vertrek en op 7 Oktober 1838 die Drakensberge afgegaan. Die geselskappe het honderde kilometer gery op soek na ’n roete vir die waens. Daar is geen juiste oor die roete wat hulle gevolg het nie, maar dis moontlik dat hulle die Umgeni-rivier te Allemansdrift (die huidige Midmar-dam), wes van Howick, oorgesteek het. Klaarblyklik het hulle dus na aan die terrein van die huidige Pietermaritzburg verbygegaan. ’n Mens kan ook gis dat Retief self die plek uitgeken het as ’n moontlike terrein vir ’n dorpie. Hulle het gemiddeld 19 kilometer per dag afgelê en, aangesien hulle Port Natal op 19 Oktober bereik het, is dit heel moontlik dat hulle op 15 Oktober 1838 in die omgewing van Pietermaritzburg was.

Na Retief se besoek het baie van die Voortrekkers deur die gebied wat nou as “World’s View” en “Town Hill” bekend staan en destyds as Boesmansrand, bekend was, getrek. Die Unsundusi was destyds die Boesmans-rivier en Dorpspruit, die Klein-Boesmansrivier.

Die terrein was ideaal vir ’n Voortrekker-dorp. Die sagte hellings wat grens aan ’n waterstroom wat van die hoëre heuwels af vloei, sou dit maklik maak om die water vir besproeiing te gebruik. Die omliggende heuwels was bebos; daar was dus boumateriaal. ’n Mens moet egter onthou dat die digte doringbome en omliggende plantasies moderne verskynsels is. Dis ook waarskynlik dat die Voortrekkers kusgebiede vermy het toe ’n hoofstad oorweeg is, omdat hulle deur veesiektes geteister is en ook makliker aan Britse inmenging van die see blootgestel sou wees. Daar is natuurlik twyfel oor die juiste roetes wat die Voortrekkers gevolg het toe hulle die gebied besoek het, maar resente navorsing toon dat een van die enigste driwwe deur die Ungeni-rivier die Allemansdrift (Midmar-dam), was en dat die moerasagtige gebied by Cedara vermy is deur aan die voet van Swartkop verby te gaan, oor die rug naby “The Knoll” en daarvandaan langs die lang rug af na Welverdiend (Edendale) en die Boesmans-rivier na Pietermaritzburg. Later is die roete oor “The Knoll” oor die kruin van Boesmansrand (World’s View) gebruik.

Dit wil voorkom of die Voortrekkers, wat teen Januarie 1838 in verspreide kampe en laers in die gebied Estcourt—Colenso was, reeds besluit het waar hulle hul hoofdorp sou stig. Ten spyte van terugslae soos die moord op Retief, die Bloukrans-bloedbad, die Vlugkommando se ramp en die Zoeloe-aanval op Veglaer het die Voortrekkers op 23 Oktober 1838 ’n formele besluit geneem om ’n dorp te Boesmansrand te stig en dit Pietermaritzburg te noem. Die naam is ontleen aan die eerste naam van Pieter Retief wat op 6 Februarie 1838 by Dingaanskraal vermoor is en die van van Gert Maritz wat in September 1838 te Sooilaager oorlede is.

Die juiste terrein is gekies deur Piet Greyling, Retief se skoonseun, wat ook die eerste ruwe sketse gemaak het. Die fatsoen was ’n parallelogram, ongeveer 2,2 km van oos na wes en 1,6 km van noord na suid. Dit het net mooi tussen die Boesmans- en Klein-Boesmansrivier ingepas. Die lang Oosstraat en Wesstraat het hul name behou, maar sommige van die ander is verander. Die middelste gedeelte is vir ’n markplein en openbare geboue oopgelaat. Die opmetings is in 1840 in Rynlandse voet deur Philip Nel gedoen, toe die raadsaal voltooi was. Sy hoek is gebruik as die hoofbaken—“die eerste paal ooit deur Christelike hand in den grond geslaan”. Weens die gebrek aan akkurate instrumente is baie foute begaan. Die strate moes 75 Rynlandse voet wyd gewees het, maar Nelstraat, nou Commercial-weg, is 63 voet tussen Loop- en Burgerstraat. Min of meer 500 erwe 138 m lank en 46 m wyd—ongeveer 0,5 ha, is uitgelê. Die erwe het van een straat regdeur na die ander geloop en is opeenvolgend aan die westekant genommer.

Foto: Hierdie dorpsplan van Pietermaritzburg dui die erwe om Markplein aan, wat oorspronklik aan Voortrekker-gesinne toegeken is.

Oorspronklik het die Volksraad die pligte van ’n munisipaliteit verrig en regulasies i.v.m. die toekenning en bewoning van die erwe uitgereik. Op 15 Februarie 1839 is daar besluit dat die erwe deur loting uitgereik sou word, dat die eienaars die koste van die uitlei van water in vore vanaf die Klein-Boesmansrivier na die watervore in elke straat sou dra en dat die eienaars hul eie erwe sou bewerk. Daar is ook beslis dat die perseel deur ’n grondmuur of ’n paalheining omsluit moet wees. Die oorspronklike immigrante was geregtig op twee plase en een erf in die hoofstad. Soos ’n mens jou kan voorstel, was die dorp eintlik niks meer as ’n reeks laerkampe nie totdat die vrees vir ’n aanval deur die Zoeloes na die neerlaag van Dingaan in Februarie 1840 verdwyn het. Tussen 1839 en 1840 is 460 erwe òf toegeken òf verkoop teen pryse wat gewissel het van R8 tot R15 teen vandag se pryse, wat destyds duur was.

Die reisiger Adolphe Deiegorgue het in November 1839 opgemerk dat die dorp “niks anders as ’n kamp is nie, swak gebou met paalheinings en slegs ’n klomp swak geboude hutte van hout en biesies en met kraalmis gepleister.” Eerwaarde James Archbell het in 1841 berig dat “die omgewing, weens die oorvloedige watertoevoer vanuit die Boesmansrivier baie geskik is vir landbou.” Hy het ook melding gemaak van die kaalheid van die terrein en die feit dat brandstof nie binne 24 of 32 myl gevind kan word nie. Teen hierdie tyd was daar ongeveer 80 huise op die terrein.

Aangesien die dorp min of meer in die vorm van ’n kamp was, was daar altyd die gevaar van brand, weens die groot hoeveelheid kruit wat in die waens gehou is. Op 23 Augustus 1839 het ’n kers wat in die Steenkamps se was omgeval het, ’n verwoestende brand en lewensverlies ten gevolge gehad. Die Volksraad was egter bewus daarvan dat hulle moes toesien dat permanente huise gebou word. Op 27 Junie 1839 is regulasies goedgekeur dat soliede huise binne drie jaar opgerig moes word. Sodra toestande vreedsamer geword het, het eienaars permanente huise begin oprig. Plaaslike leiklip is vir fondamente en soms ook vir mure gebruik maar rou en gebrande bakstene was meer gewild. Daar is bevind dat geelhout ideale boumateriaal is en hout is selfs vanaf die Karkloof-bosse aangery. Balke en planke is dikwels met ’n kuilsaag gesaag, maar eersgenoemde is dikwels in die natuurlike ronde staat gebruik of ru gekap met dissels. Die mure was gewoonlik baie dik en die venstertjies klein. Teen 1844 was daar 132 steen- en kliphuise. Na gelang die dorp gegroei het, is die watervoorstelsel verbeter. Met die hoofvore is water uit die Klein-Boesmansrivier (Dorpspruit) bokant die huidige botaniese tuin om die hellings van Seinheuwel gelei, na ’n punt naby die huidige stasie. Hiervandaan het dit in die vore in Kerkstraat afgeloop en is in die systrate uitgekeer. Waarom die dorp teen ’n helling uitgelê is, met die hoofstraat wat afdraand loop, is dus duidelik. Die beskikbaarheid van water en die grootte van die erwe het die bewoners in staat om mielies en groente te kweek en vrugtebome aan te plant. Daar was ook ’n groot dorpsmeent waar die inwoners hul vee kon Iaat wei. Baie van hulle het ook melk en botter geproduseer.

Soos ’n mens jou kan voorstel, was die vroeëre Pietermaritzburg nie bekend vir nywerhede nie, maar ’n paar steenoonde is wel opgerig. Daar was ’n paar plaaslike saers en hoefsmede wat ’n natuurlike mark vir hul ware en dienste gehad het. ’n Paar meulens is opgerig. ’n Ondernemende Duitser, C.H.W. Pistorius, het selfs dakteëls begin vervaardig. Ten einde vervoer te vergemaklik, is ’n ruwe houtbrug of loopbrug oor die Boesmansrivier gebou.

In so ’n klein dorpie sal ’n mens nie verwag om veel openbare geboue aan te tref nie, maar die Volksraad het van 1839 af in Pietermaritzburg byeengekom, en die noodsaaklikheid vir ’n raadsaal het gou duidelik geword. Dit is op die noordwestelike hoek van die markplein, die perseel van die huidige stadsaal, gebou. Later is ’n tronk gebou en dit moes op ’n perseel gewees het wat op Wesstraat uitgekyk het, net noordoos van die hoek van die stadsaal.

Die Voortrekker-museum te Pietermaritzburg, oorspronklik die Geloftekerk wat deur die Voortrekkers opgerig is na hulle oorwinning oor Dingane.

As ’n streng godsdienstige volk, en ter uitvoering van die gelofte wat op pad na Bloedrivier afgelê is, het die Voortrekkers spoedig met die bou van ’n kerk in hul nuwe hoofstad begin. In 1839 is ’n begin gemaak met die insameling van fondse. Die bouery het in 1840 ’n aanvang geneem en die kerk is in April 1841 voltooi. Die mure was 25cm dik en van leiklip gebou, Geelhout is vir die dak, deure en vensters gebruik. Hierdie gebou het op ’n merkwaardige wyse behoue gebly en is vandag die Voortrekker-museum, wat verskil van die oorspronklike in dakhoogte en die toevoeging van ’n voorgewel en portaal. Die eerste predikant was Erasmus Smit wat opgevolg is deur eerwaarde Daniël Lindley, van die Amerikaanse Sending, toe hy in 1840 die beroep na die Geloftekerk aangeneem het. ’n Pastorie is vir hom naby die kerk in Langmarkstraat gebou. Soos ander huise van daardie tyd was die mure van leiklip op ’n vlak fondament, terwyl geelhoutbalke die grasdak gestut het. Dit is meldenswaardig dat die Voortrekkers groot belangstelling in die onderwys getoon het, hoewel geen spesiale geboue opgerig is nie. Erasmus Smit het ’n laerskool begin, terwyl sy vrou naaldwerkonderrig gegee het. Voordat hy predikant van die Voortrekkers geword het, het Lindley ’n skool, wat deur die Voortrekkers kinders bygewoon is, by lmfumi begin.

Baie min van die Voortrekkerdorp het oorgebly. Baie van die straatname het behoue gebly, maar sommige van hulle is verander. Die naam wat deur Boniface is vir die hoof ooswesstraat was Blaaukrantz of Martelarenstraat, maar die Volksraad het uiteindelik en baie passend op Nelstraat besluit. Na die Britse besetting is dié naam na Commercial-weg verander. Die latere onderverdeling van die erwe het die huise baie nader aan mekaar gebring, sodat selfs die woonbuurte die indruk van digbeboudheid skep. Dit is moeilik om vas te stel of enige van die oorspronklike Voortrekker-huise nog bestaan en onveranderd het, maar dit wil voorkom of Boomstraat 333 in ’n groot mate behoue gebly het. Die watervore wat in 1880 deur pype vervang is, het Pietermaritzburg ’n unieke nalatenskap sorg. Die oorblyfsels van die hoofvoor bokant die botaniese tuin is nog sigbaar, terwyl die oorblyfsels van die watervoor naby die huidige stasie eweneens duidelik sigbaar is waar dit onlangs ’n nuwe teeroppervlak gegee is. Sommige van die sypaadjies in Pietermaritzburg het die lastige neiging om te sak of te kraak. Dit is omdat hulle oor die opgevulde watervore gebou is. Ons tasbaarste en paslikste erfenis van die verlede is die Voortrekker-museum–die oorspronklike Geloftekerk. Op 31 Augustus 1843 toe majoor T.C. Smith in Pietermaritzburg aangekom het, het die Volksraad hom aan die Britse gesag onderwerp, maar nog die dorpsake beheer. Met die aankoms van luitenant-goewerneur Martin West in Desember 1845 en die aanstelling van ’n beheerkomitee het Voortrekker-Pietermaritzburg opgehou om te bestaan.

 

Bron: Chadwick, G.A. 1974. Lantern, Maart: 16-18.