Die staking van 1922
April 11, 2017
Ons Republiek – tien jaar oud
April 14, 2017

(Geskryf deur Marianne Ehlers, Hoër Meisieskool Bloemhof, Stellenbosch, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1965)

Trots en statig staan die grys granietbouwerk afgeteken teen die rooi aandlug. Elke Afrikaner behoort trots te wees op die Voortrekkermonument wat langs die grootpad van die Kaap na die noorde staan en wat die simbool is van die Afrikaner se eiendomsreg op die land.

Op 16 Desember 1895 is die hoeksteen van die Broukransmonument deur generaal Piet Joubert gelê. Die gedagte het toe ontstaan om ’n monument ter ere van al die Voortrekkers op te rig. Nadat een komitee doodgeloop het, is ’n ander een op 4 April 1931 gestig. Met die goedgunstige toestemming van die Regering is posseëls uitgegee wat elkeen in staat gestel het om deur die koop daarvan iets tot die fonds by te dra. Hierdeur is etlike duisende ponde vir die fonds ingesamel.

Die ontwerp van die monument soos dit uiteindelik goedgekeur is, was van ’n baie grootser aard as wat oorspronklik beoog is. Dit was naamlik tweeledig – een deel van die ontwerp het van Pretoria gekom en die ander deel van Stellenbosch. Die argitek was Gerard Moerdyk.

’n Groot moeilikheid was die keuse van die plek waar die monument opgerig sou word. Op 6 Oktober 1937 is daar deur middel van ’n konferensie met ’n meerderheid van stemme ten gunste van Pretoria besluit. Omdat dit duidelik was dat die monument nie op 16 Desember 1938 voltooi sou wees nie, sou net die hoeksteenlegging op daardie datum plaasvind. Die gedagte was dat die onthulling of inwyding op 16 Desember 1943 sou kon geskied.

As ’n mens die Voortrekkermonument wil verstaan, moet ’n mens die volgende vrae aan jouself stel: (a) Wie was die Voortrekkers? Dit is onvoldoende om te sê die Voortrekkers was die nasate van die Hugenote- en Hollanderkoloniste wat van die Kaap weggetrek het. Daar is byvoorbeeld Thomas Halstead, die Engelsman, wat ook deur Dingaan se hordes vermoor is en wat saam met  Piet Retief begrawe is, en Theresa Vigniola, ’n Italiaanse vrou wat die Boere langs die Boesmansrivier teen die aanrukkende Zoeloes gaan waarsku het. Is hulle Voor trekkers of nie? ’n Gedenkteken wat duisend jaar en langer aan groot dade moet herinner, moet ruim van opvatting wees en eer toeken aan die wat eer waardig is.

(b) Wat het die Voortrekkers gedoen om ’n monument waardig te wees? Die Voortrekker met sy vrou en gesin was in der waarheid die stigters van ’n blanke nasie in suidelike Afrika. Hierdie handhawing van die blanke ras was hulle bydrae tot ons volksgeskiedenis.

(c) Hoe gee die monument hulle dade en ideale weer? Die Voortrekkers sou na die Bybel gaan en daarvolgens handel. Hulle sou ’n altaar bou. Die altaar is dan ook die sentrale gedagte in die Voortrekkermonument. Dit neem die vorm aan van ’n sarkofaag wat van Afrikaanse marmer gebou is en die wêreld en die nageslag aan die hoogste offer herinner wat Piet Retief en sy manne vir hul ideaal gebring het.

Buite om die monument is ’n laermuur van ses-en-vyftig waens wat dien as simbool van die Voortrekkerbeskutting teen dreigende indringing. Voor die hoofingang van die monument is die eerste figuur wat die aandag trek, die dertien voet-hoë standbeeld van ’n Voortrekkermoeder wat haar twee kinders beskerm. Hierdie beeldgroep is die skepping van Anton van Wouw en dit was ook sy laaste groot werk. Aan weerskante van die vrouefiguur is swart wildebeeste in die muur uitgebeitel. Dit simboliseer die gevare wat die blanke beskawing in Suid-Afrika bedreig. Op die vier hoeke is reuse-standbeelde, elk agtien voet hoog, wat die groot leiers Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en ’n onbekende Voortrekker, wat ook al die ander verteenwoordig, voorstel.

Onder in die monument is ’n groot saal van 130 vt. by 130 vt. Wat die sarkofaag bevat. Bokant hierdie saal is daar die groot heldesaal van 100 vt. by 100 vt. waarin ’n historiese fries die geskiedenis in kunstig-gebeeldhoude marmer vaslê.

Wanneer ’n sonstraal om twaalfuur die middag van 16 Desember deur die opening in die koepel van die dak op die woorde val: “Ons vir jou Suid-Afrika,” kan ons met eer en ontsag dink aan die Voortrekkers wat hierdie land so liefgehad het dat die woorde van ons Volkslied veral van hulle waar is: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika.”