So het hulle gespeel
April 10, 2017
Speletjies
April 10, 2017

(Geskryf deur Marietjie Homan, Laerskool Monument, Krugersdorp, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1970)

In teenstelling met vandag se gekoopte speelgoed het die Voortrekkerkinders tuisgemaakte speelgoed gehad. Daarmee was hulle gelukkig en tevrede.

Onder al die moeilikhede van die Groot Trek het die seuns baie plesier gevind by hulle eenvoudige speelgoedjies. Van al hulle speelgoed, wat hulle self in die veld gemaak het, het die pyl-en-boog seker die ereplek ingeneem. Die boog is gemaak van ’n dunnerige, buigbare tak van een of ander boom. Tussen die twee punte is ’n dun voorslagriempie gespan.

Die pyle was van dun, ryp fluitjiesriet gemaak. Vir die punt is ’n skerp stukkie yster of ’n stukkie van ’n spyker gebruik. Die punt is eers in ’n stukkie hout vasgedruk voordat dit voor op die punt van die riet geplaas is. Die pylpunt is verder stewig vasgebind met seninggare.

’n Ander gewilde speelding waarmee die seuns hulle soms besig gehou het, was die slingervel wat van gebreide vel gemaak was. Dit was in die middel breed gesny en het na die punte toe smaller geloop. Die ammunisie was ronde klippies. Met die hand is ’n vinnige swaaibeweging gemaak een dan is een punt van die slingervel gelos. Die klip het dan deur die lug getrek. Daar word vertel dat sommige seuns so goed kon mik dat hulle voëls in die vlug getref het. Die slingervel, net soos die pyl-en-boog was ’n uitstekende middel om die Voortrekkerseuns te leer korrel vat.

Die kleiner seuntjies het met dolosse gespeel. Omtrent agtien dolosse het ’n span uitgemaak en elke dolos het sy gepaste naam gehad. Hierdie spel was vir die seuns van groot opvoedkundige waarde. Van kleins af het hulle geleer om osse in te span, die verskillende osse volgens hul kleur te onderskei en ’n sweep te hanteer.

Nog een speletjie wat die seuns baie geniet het, was om kleiosse te maak. Die seuns het gewoonlik skape en beeste gemaak. Daar is ook behoorlike krale vir die “vee” gemaak waarin hulle saans sorgvuldig gebêre is. Onontbeerlik was natuurlik ’n kleiperd met ’n ruiter daarop. In die ruiter se hand was die onmisbare sambok, want ’n Boereseun op ’n flukse perd sonder ’n karwats, was ondenkbaar. Ja-nee, ek dink die Boereseuns het oneindig baie pret met hierdie klei-diere van hulle ondervind.

Die dogters het met tuisgemaakte lappoppe gespeel. Die poppe was natuurlik aangetrek volgens die heersende modes van daardie tyd. Eers word die patroon vir die lappop gesny en toegewerk. Nadat dit met wol opgestop is, kry dit ’n pragtige tabberdjie met kappie en al. ’n Spogpop se wange is rooi gemaak met ’n stukkie rooi doek en die oë is uitgewerk met swart, ronde lappies. Oor die gesig is moeselien vasgewerk sodat die Voortrekkerpop ’n baie aantreklike voorkoms gehad het. Die dogters het aangename ure deurgebring in die geselskap van hulle poppe, wat hulle natuurlik soos regte Voortrekker-dametjies moes gedra. Die maak van die poppe het die meisies geleer om patrone te sny en naaldwerk te doen. Vaardigheid met die naald was baie belangrik omdat hulle self hulle klere moes maak.

Te midde van al hul swaarkry, het die kinders egter die lewe geniet en ook hul deel bygedra om ons nasie te bou.