Die Voortrekker en sy medisyne
April 10, 2017
So het hulle gespeel
April 10, 2017

(Geskryf deur Johan Breitenbach, St. 9, Volksrustse Hoërskool, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1966)

Die Voortrekkerkinders het hul plek in die samelewing gehad, maar hulle was nie gedurig op die voorgrond nie, omdat dit nog nie die eeu van die kind was nie. Miskien is dit die rede waarom ons so min van hulle weet.

Dit was slegs die jongste kinders wat opgewonde geraak het oor die vooruitsig van die Groot Trek, aangesien die groter kinders die erns van die saak besef het, omdat hulle reeds op ’n baie vroeë leeftyd selfstandig was. Ongelukkig is die kinders wreed ontnugter, want almal se hulp was broodnodig; al was hulle hulp ook hoe gering. Die kinders moes vee oppas, toulei en nog baie ander werkies verrig. Die groter seuns het die lang spanne osse gedrywe en hul pa’s gehelp wild skiet en inboorlinge beveg wanneer dit nodig was, terwyl die meisies hul ma’s gehelp het en soms selfs moes toulei of vee oppas. En saans, as die vure skadu’s op die donker, onheilspellende bosse gegooi het, en ’n leeu se gebrul deur die nag weerklink het, het menigeen terugverlang na huis en haard.

In die moeilike omstandighede is die kinders nogtans baie goed versorg en behandel. Die Voortrekkervrou, mev. Johanna Fick, wat as kind die Trek onder leiding van Piet Retief meegemaak het, het, toe sy gevra is wat sy van Piet Retief kon onthou, geantwoord dat sy slegs kan onthou dat hy baie lief vir kinders was. Dit herinner ’n mens aan die pragtige woorde wat eenmaal i.v.m. ’n kindervriend deur sy biograaf geskrywe is: “Van die dag, lank gelede, toe die konings uit die ooste na die krip gekom het, met hul gawes van goud, wierook en mirre, het elke mens die beste wat in hom is, gegee, alleen wanneer hy aan ’n kind gee.”

Die ossewa was die kinders se tuiste en toevlugsoord, want hul moeder was gewoonlik by die wa om ’n sieke op te pas of om voedsel voor te berei. Dit laat ’n mens dink aan wat Langenhoven gesê het:

“Elke wa is ’n tuiste, die binnekamer is daar,

Die wieg om die suigeling te sus, die sponde om die sieke te verpleeg,

En afskeid te neem van die sterwende.

En ’n hoër gesag heers hier nog

Want elke wa met sy huisgesin,

Voer sy huisaltaar mee, soos ’n ark van ouds.”

 

Die kinders het nie eintlik veel onderwys gehad nie en hulle is maar hoofsaaklik deur hul moeders onderrig. Die mees gebruiklike skoolboekies was: Trap der Jeugd, deur Van Alphen, Van Groeneweg se boekies, Sluiter se liedere en die Bybel. Daar was ook ’n Raaiselbybel.

Sekere woorde is in ’n sin uitgelaat en in die woorde se plek was ’n prentjie. Die kinders moes dan lees en die ontbrekende woorde raai.

Dit is opvallend dat die Trekkers hulle oor hul geestelike behoeftes bekommer het. Gedurig is daar briewe aan die Kaapse Ring gerig om leraars en onderwysers aan te vra.

Eerw. Lindley het met behulp van sy vrou ’n skool onder die Trekkers begin en agtien maande lank onderwys gegee sonder om beloning te vra. Hy skryf o.a. die volgende aan die Kaapse Goewerneur:

“Die onkunde is so groot, dat, toe ek hulle geleer het dat die wêreld rond is en in die lug hang, hulle my as ’n ketter bestempel het, want die Bybel praat van die pilare van die aarde. In weerwil van die aardbol het hulle volgehou dat die aarde so plat soos ’n pannekoek is.”

Die dissipline was nie ’n probleem nie, want daar was nie meer as twaalf kinders in ’n klas nie en hulle het groot ontsag vir die onderwyser gehad, want hy was nie ’n ware onderwyser as hy nie geslaan het nie.

Dit was ’n opvoeding wat aangepas het by die omgewing en die lewensomstandighede, en dit het derhalwe voldoen aan die eise van die tyd.

Die Voortrekkerkinders het darem nog by alles tyd gehad om te speel. Die seuns het graag kleiosse en dolosse voor ’n kakebeen wat as waentjie moes dien, gespan. Hul het ook pyle en boë gemaak, waarmee hulle voëls gejag het, en soms koeëlsakkies van sagte vel. Die dogters het, nes die dogters van vandag, graag met poppe gespeel, maar hulle moes dit self vervaardig. Die moeders se oorskietlappies is met gras opgestop en toegewerk. Die poppe se wenkbroue, neus en mond is met swart gare aangebring, terwyl lanferlappies die hare moes voorstel. Die vliesies van lewer of niertjies is afgetrek, skoon gewas en dan oor die poppe se gesigte getrek om dit mooi deurskynend te maak.

 

“My Lappop”, deur Hilda Postma eindig soos volg:

Oor verre hoë berge

het Leen ook saamgetrek.

Kyk bloed uit Kaffermoorde

Het hier haar rok gevlek.

“Ja, die ou pop,” sê Ouma,

“het baie al deurleef

En om haar bont sisrokkie

Is ’rinnerings teer geweef.

 

Ons nageslag vergeet so maklik dat baie Voortrekkerkinders, as kindermartelare, hul jong lewens opgeoffer het ter wille van die ideaal van ’n vry en onafhanklike land en volk.

 

“Afrika,

Afrika,

Eer hul gedagtenis

En as jou vryheidsdag

Eens oor jou velde lag,

Weet wie te danke is, –

Eer hul gedagtenis!”

Huisgenoot, Des. 1938.